Johan Laten

0
301

Na 35 jaar kan JOHAN LATEN sy pad met depressie ten goede aanwend deur leerders te bemagtig om met ingeligtheid hierdie toestand tree vir tree te oorwin.

Johan is lief vir kuns, die mooi dinge in die lewe en toneel. Hy het jare lank toneelstukke vir hoërskoolleerders in die Strandomgewing geskryf en afgerig. Sedert hy Gerjo Ben van der Merwe van Kruispad leer ken het, het Johan deur die Gees se leiding bewus geraak van die idee om voltyds sy toneelstukke te kombineer met sy visie – om mense met kennis oor depressie te bemagtig.

Op pad na die skool waar ek onderwyser was, sou ek eerder my hande rooi op die stuurwiel slaan en skreeuend vir die Here vra: “Waar is U? Ek kan dit nie meer doen nie!” Daar was chaos in my brein. Depressie veroorsaak dat ’n mens elke woord wat jy hoor, aanhoudend ontleed. Dit het my emosioneel en fisies uitgeput.

Ek het geen genot in my lewe gehad nie. In daardie donker tye moes ek gekskeer, praat en grappies maak sodat mense nie die hopeloosheid en pyn binne my raaksien nie. Ek wou ook nie my depressie met my vrou en kinders bespreek en hulle daarmee belas nie. Ek besef nou dit was ’n fout, want sodoende leer ’n mens mekaar nie werklik ken nie.

’n Jaar nadat ek voltyds by Kruispad betrokke geraak het, het ek Lizette Rabe, ’n kampvegter vir depressievegters, gepols oor die moontlikheid om ’n toneelstuk by skole op te voer waarin leerders van die siekte bewus gemaak word. Met haar aanmoediging het ek in Augustus 2016 die vertoning van #puppet as toetslopie by Bolandse skole begin aanbied.

#puppet is ’n teaterstuk met depressie as tema. Deur middel van die karakter leer ken die gehoor die oorsake en simptome van depressie, dat dit nie jou lewe hoef te beheer nie, dat dit bestuur kan word met terapie en medikasie en die ondersteuning van familie en vriende. Dat kommunikasie daaroor belangrik is. En veral dat dit nie ’n skande is nie. As oudonderwyser wou ek oorspronklik op skoolkinders fokus, maar ek word al meer na werksplekke en gemeentes ook genooi.

In alles ervaar ek hoe die Here my vooruitgegaan en die grond vir hierdie werk voorberei. Ek noem dit genade.

This slideshow requires JavaScript.