Joost van der Westhuizen, sy ma en die media

0
258

Hoe voel Joost se Ma oor al die aandag wat hy in die media en by die publiek af kry? Hoe beleef sy dit?

Ek verstaan nie die bohaai wat mense oor Joost maak nie. Op party plekke oorsee is dit selfs erger. Een van sy kollegas vertel dat hy byvoorbeeld in Brasilië nog bekender is as hier. Dáár is hy skynbaar vir mense soos David Beckham. Vir my is hy net “Seun”. My blouoogkind. Ek het lankal vergewe en vrede gemaak met sy foute. Wat verby is, is verby.

Ongelukkig voel almal nie so nie. Ek kon dit nie glo toe my oog nou die dag op die opskrif in ’n Sondagkoerant val nie: “Joost se ouers se skuld”. Dit was harde woorde. Dit het net weer die pyn van ’n paar jaar gelede na die oppervlak gebring.

Met die video-skandaal het ek my afgevra: “Waar het ons gefaal? Waar is sy grondslag?” Elke ma vra mos sulke vrae wanneer haar kinders iets verkeerds doen. Toe ons drie seuns hulle eie potjie begin krap het, het ons vir elkeen gesê: “Dink mooi oor wat jy doen.” Maar ’n mens verstaan nie altyd met watter keuses hulle gekonfronteer word nie.

Ek het myself aanvanklik verwyt, maar mettertyd vrede gemaak met alles wat gebeur het. Ek het ook besef dat as jou kind jou huis verlaat, hy die reg het om sy eie besluite te neem; maar hy moet ook self die verantwoordelikheid dra vir sy foute. Joost het dit deur en deur gedoen. Hy het die wêreld in die oë gekyk en gesê hy is jammer. Hy het opgestaan en gewys hy kan nog iets vir ander beteken. Wat moet hy nóg sê en doen?

Aan die ander kant voel ek dis maar eintlik reg as party mense ons, sy ouers, met klippe wil gooi. Dit haal darem die fokus van hom af. Al die media-aandag het my eers gepla, maar nou sien ek dit anders. Dit plaas die fokus op ’n siekte waarvan mense voorheen nie bewus was nie. Daar is baie ander mense wat baie swaarder kry as Joost. Daar is baie ander families met wie daar nog erger dinge gebeur. ’n Mens dink altyd jy is alleen in jou pyn, maar jy is nie.

Kyk hierdie video waar Joost vertel hoekom hy nie skaam is om te huil nie.

Al die aandag wat Joost en sy siekte trek, het ook ’n platform geskep waar ons as gesin ongelooflike positiewe ondersteuning van die publiek ontvang; baie meer as al die negatiewe kritiek. ’n Paar jaar gelede het ek gewonder of ek weer mense gaan vertrou. Dit was moeilik. Ek het myself aan alles en almal onttrek.

Natuurlik beleef hy ook slegte dae. Hy is net mens. Nou die dag, terwyl die kameras weer klik-klik-klik by ’n funksie, hoor ek hoe hy kwaai vir ’n fotograaf sê: “Hou nou op om my af te neem.” Ai, toe dink ek dit moes seker daardie man se gevoelens gekwets het. Ek het gewens ek kon vir die fotograaf sê: “Meneer, ek hoop jy verstaan hoe Joost voel. Plaas jou in sy posisie. Moet dit nie persoonlik opneem nie. Hy bedoel dit nie sleg nie.” Ek dink nie dis maklik om in die kollig te wees terwyl jy niks vir jouself te kan doen nie. Dit breek my hart om hom so te sien.

Vandag ervaar ek die keersy. Ek is stomgeslaan oor mense se liefde en omgee. Vreemdelinge wat mooi boodskappe stuur, wat hulp aanbied en vir ons bid. Dit gee ons krag en hou ons staande. Uit die diepte van my hart kan ek net vir elkeen sê: Baie, baie dankie vir julle omgee. Ons waardeer dit. Joost het julle gebede só nodig.

Koop Joost van der Westhuizen se boek 99 dinge wat ek wil hê my kinders moet weet