Jou beste lewe begin nóú (of nooit)

0
19
lewe.png

Jy wonder of jy daardie geleentheid moet aangryp. Dan gebeur daar iets wat jou soos ’n mislukking laat voel en jy besluit om eerder te wag vir ’n beter tyd. Pasop, van uitstel kom afstel ...

Jou geluk word nie bepaal deur jou ervarings nie. Wat belangrik is, is uit watter hoek jy na jou lewe kyk. Dis hoekom jy nooit moet dink jy het misluk as jy iets nie kon regkry nie. As daar so iets met jou gebeur, moet jy dit eerder beskou as terugvoer. Die resultate wil bloot vir jou iets sê omtrent dit wat jy ingesit het. As jy so daarna kyk, kan jy die negatiewe gevolge tot jou voordeel gebruik.

Om die angel uit kritiek te haal, kan jy die volgende probeer: Sê opreg vir die persoon dankie. Waardeer dit dat iemand genoeg vir jou omgee en kosbare tyd afstaan om vir jou terugvoer te gee. Dit sal jou sommer al klaar anders na die situasie laat kyk. Wag ook eers ’n dag of twee voordat jy negatiewe terugvoer met iemand anders bespreek. Jy het tyd nodig om op jou eie hieroor te dink en te besluit wat jy gaan doen.

Selfbejammering gaan jou vir seker nêrens bring nie

Jy kan die lewe aanpak met een van twee uitgangspunte. Jy kan óf elke kans benut óf jy kan wag vir beter dae terwyl jy telkens na ’n terugslag êrens gaan wegkruip. Jy voel jammer vir jouself en tree op soos iemand wat lankal verslaan is. In jou gedagtes klim jy in ’n put waar jy allerhande gevoelens soos selfbejammering vertroetel. Dan begin jy verskonings uitdink hoekom jy nie nóú iets kan doen nie en stel jou beste lewe aanhoudend uit. En loop dalk jou grootste geleenthede mis.

Verder gee jy jou oor aan allerhande putpraatjies: Jy luister na daardie klein, pessimistiese stemmetjie wat dinge sê soos: “Ek is hopeloos” of: “Ek haat my lewe.” Jy begin dit naderhand glo. Dit raak eintlik vir jou ’n gemaksone waar jy kan wegkruip vir die wêreld. En voor jy jou kom kry, is jy aan jou eie ellende verslaaf.

Ja, jy mag soms teleurgesteld voel, maar dan moet jy weer aanbeweeg. Jy het nie beheer oor wat met jou gebeur nie, wel oor hoe jy gaan reageer. Geen magte buite jouself is verantwoordelik vir hoe jy voel nie, net jyself. Daar is eintlik net twee tye in ’n mens se lewe: nou en te laat. Die sleutel tot jou eie sukses is dus om nóú tot aksie oor te gaan. Dis óf nou óf dalk nooit.

[Pagebreak]

Dís hoe jy jou houding teenoor die lewe ontwikkel

Sodra jy verstaan hoe jou emosies en persepsies werk, kan jy makliker in beheer van jou lewe kom. Die proses waardeur jou persepsies, of houding teenoor dinge, gevorm word, bestaan uit drie dele: die bewuste, die onbewuste en jou liggaam se reaksie.

Jou liggaam werk eintlik maar net soos ’n vliegtuig: Die bewuste is die kaptein wat die vliegtuig beheer deur die opdragte wat hy aan die bemanning gee. Dis jou innerlike dialoog of daardie binnestem. Dit interpreteer al jou ervarings en is die begin van ’n positiewe of negatiewe houding wat in jou gedagtes vorm aanneem.

Die onbewuste is die bemanning wat alles glo wat die kaptein sê, sonder om enigiets te bevraagteken. Tydens hierdie proses word die persepsie in jou brein vasgelê as die waarheid waarop jy binnekort gaan reageer, hetsy positief of negatief. Dit wat jy dink, word dus dit wat jy glo.

Voor ’n belangrike voorlegging het jou binnestem dalk iets gesê soos: “Sjoe, ek is so bang om voor al my kollegas te praat.” Die onbewuste aanvaar dit as ’n feit en reageer daarop. Jou liggaam kry die boodskap vanaf jou onbewuste dat jy régtig bang is. Dadelik begin jou byniere adrenalien afskei – jou hart begin dus vinniger klop en jou handpalms begin sweet.

Jy mag vir jouself jok om resultate te kry

Die goeie nuus is dat jy ’n positiewe houding kan fake! Deur jou brein te flous en voor te gee dat jy reeds iets bereik het waarna jy eintlik nog streef, sal jy makliker suksesvol wees. Kyk gerus of dit werk: Steek jou vinger horisontaal in jou mond om ’n glimlag na te boots. Jou brein sal die boodskap kry dat jy gelukkig is en goedvoelhormone begin afskei. Voel jy al beter? Al kan jy net lag omdat jy soos ’n gek voel, het dit mos klaar gewerk!

Nou kan jy begin om die ou, negatiewe gewoontes met nuwes te vervang. Eerstens moet jy dit wat jy wil bereik, in jou gedagtes sien. Gestel jy wil meer selfvertroue hê. Sien jouself regop loop en tevrede glimlag. Dan moet jy dit hardop vir jouself sê sodat jy dit ook kan hoor. Begin jou sinne met iets soos: “Ek is” of “Ek het”. Ervaar ook die gevoel wat jy sal hê as jy byvoorbeeld ’n goeie toespraak kon maak. Jou optrede moet natuurlik hierby pas. Jy gaan jou ken oplig en jou skouers agtertoe trek. As jy so aanhou, word daar nuwe paadjies in jou brein gevorm wat hierdie nuwe ingesteldheid versterk.

Jy neem dus die mikrofoon en praat met die kaptein se stem. Jy vertel jouself hoe gelukkig jy is en bluf die bemanning. Jou liggaam kry die boodskap dat jy gelukkig ís en siedaar – ’n nuwe jy, op pad na jou beste lewe!