Jou dekor-persoonlikheidsgids

0
58
dekor_gids.jpg

Oos, Wes, tuis bes! Jou huis verklap meer van jou en jou persoonlikheid as wat jy dink. Net so het jou omgewing ’n invloed op jou gemoed. So, hoe lyk jou huis?

Wat verklap jou huis oor wie jy is?

Dekorkenner Tanja Beyers vertel hoe jy met selfvertroue jou unieke stempel op jou huis kan afdruk en hoe om meubelstukke wat met jou ‘praat’ raak te sien.

Tanja verduidelik dat jou omgewing in geheel, asook die individuele stukke, jou geaardheid weerspieël. “Alles, van die kleure, teksture, kunswerke, meubels tot die vensterbedekking, beligting en die uitleg is ’n weerspieëling van wie jy is en het ’n invloed op hoe jy voel.”

’n Moderne omgewing sal ’n klassieke persoon ongemaklik laat voel, terwyl ’n eklektiese omgewing ’n moderne siel geheel en al sal oorweldig en benoud sal maak. Iemand wat van orde hou, sal onmoontlik in ’n kamer vol lappies, kussings en ’n mengelmoes ornamente tot rus kan kom. En as jy van fluweelbekleedsel en tossels droom, sal jy moeilik jou sit op ’n asimmetriese rusbank kry.

“Dit is belangrik om ontspanne in jou leefomgewing te wees,” verduidelik Tanja. “Daarom moet jy gereeld van onnodige goed ontslae raak. Ek glo beslis ‘minder is meer’ en dat jy net stukke om jou moet hê waarvan jy regtig hou.

“My raad aan mense is altyd om iets egs in hulle leefruimte in te bring. Iets soos jou oupa se skryftafel of jou ouma se bal-en-kloupootstoel. ’n Ou stuk wat op die regte plek staan, kan selfs in ’n ultramoderne omgewing wonderlik werk. Selfs al is dit ’n bietjie verniel – dit maak nie regtig saak nie, dit bring jóú lewe in die ruimte in. Stukke wat ’n storie van jou herkoms vertel, maak enige vertrek spesiaal. Alles hoef nie perfek te wees nie, want daar is ’n yl skeidslyn tussen gesofistikeerde minimalisme en ’n siellose vertrek.”

Tanja verduidelik daar is ’n vinnige en goedkoop manier om jou stempel op enige leefruimte af te druk. “Verf is die mees effektiewe manier om dadelik ’n verskil te maak. Jy moet die kleur kies wat by jou pas.

[Pagebreak] Om byvoorbeeld een muur met muurpapier te versier, maak ook ’n groot verskil.” Gestel jy het eenvoudige meubels en verkies vaal kleure, dan kan jy die vertrek in ’n grys of vaal skakering verf. Deur een muur met ’n bedrukte muurpapier te plak, maak jy die vertrek interessant en gee lewe aan die ruimte sonder om eenvoud in te boet.

As jy nie weet waarvan jy hou nie, gaan loop in dekorwinkels rond en blaai deur tydskrifte totdat jy agterkom wat met jou ‘praat’. So sal jy gou leer wat vir jou en jou gesin werk.

Waarvan hou verskillende persoonlikhede in ’n huis?

Ontmoet die sprankelende diva, die kunssinnige dame, die romantiese dromer en die agtermekaar vrou. Kyk met wie se styl jy jou kan vereenselwig – uitspattig, klassiek, sag of eenvoudig.

DIE SPRANKELENDE DIVA – Wanneer dit by styl kom, laat jy dit altyd werk. Of jy nou R10 of R1 000 uitgee, dis ’n wenner. Jy is lief vir helder kleure, stylvolle teksture, patrone en sterk fokuspunte. Daar is nie ’n beskeie haar op jou kop nie en nie ’n vaal hoekie in jou huis nie.

DIE KUNSSINNIGE DAME – Jy geniet ’n besoek aan ’n museum net soveel soos ’n rustige wandeling in die natuur. Jy hoef egter nie noodwendig duisende te spandeer op ’n oorspronklike kunswerk vir jou sitkamer nie. Dis dalk ’n goeie idee om jou eklektiese smaak af te wissel met iets klassieks of swart en wit.

DIE ROMANTIESE DROMER – Jy voel gemaklik in elegante, vroulike klere en jou huis verklap ook jou sagte kant. As jy kon, sou alles rooskleurig gewees het, maar nou moet jy ’n man akkommodeer ... Gebruik donkerder skakerings van jou gunstelingkleure om die vroulikheid te onderbreek en fokuspunte te skep. Kombineer jou antieke meubels met moderne neigings, soos vinielwoorde teen die muur.

DIE KOEL, KALM, AGTERMEKAAR VROU – Hoewel jy van eenvoud hou, moet jy waak teen ’n voorkoms wat afgeskeep lyk. Koop duursaam wanneer jy die slag geld in jou dekor belê en kies natuurlike kleure wat maklik bymekaar pas. Jy kan dit altyd met helder bykomstighede karakter gee.

[Pagebreak]

Hoe werk dekormodes en wat is nou in?

Jy hoef nie baie geld te spandeer om byderwets te wees nie. Bring die wêreldtendense huis toe op ’n bekostigbare manier.

Jy kan op hoogte bly deur tydskrifte dop te hou. Maar dit beteken nie dat jy daardie tendense slaafs moet navolg nie! Min mense kan dit in elk geval bekostig om elke nuwe gier in hulle huise lewe te gee. As jy die nuutste dekormodes vir die winter ’n kans wil gee, probeer die volgende:

ELEGANSIE – Een van die grootste neigings is klas en styl so reg uit Frankryk. Hier gaan jy nie noodwendig goedkoop daarvan afkom nie, maar een duursame stuk kan wonderlik werk. Kies ’n stylvolle kandelaar, geblomde muurpapier vir ’n fokusmuur of ’n elegante ornament.

SWART EN WIT – Kies iets wat swart en wit kombineer of meng swart en wit ornamente. As jy kan, doen een hele vertrek oor in swart en wit met iets in die styl wat jy verkies, soos antieke hout of swaar fluweel.

HUISLIK – Omdat jy in die herfs en winter meer tyd binnenshuis deurbring, moet dit knus en gesellig wees. Kussings skep gou ’n warm atmosfeer; so ook erfstukke wat ’n storie vertel van jou kinderdae of herinner aan die era toe jou ouma jonk was.

GROOT EN OPSIGTELIK – Nooi die natuur se herfskleure in jou huis in met lappe, kussings of ’n interessante mat. Dit sal ook kleur aan die koue wintermaande verleen.

ANTIEK As jy die regte stuk kies, sal dit nooit uit die mode gaan nie. Donker, statige houtmeubels kan styl skep sonder om die hele vertrek se atmosfeer te verander. Kies ’n koffietafel of boekrak, wat ook funksioneel is.

Gaan kyk met nuwe oë na jou huis! Dink buite die kassie en maak jou huis ’n weerspieëling van die nuutste neigings met ’n kinkel.