Jou droom en jou ware roeping kan verskil

Koningin Elizabeth II is al sedert 1952 koningin van die Verenigde Koninkryk. Op 93 is Haar Majesteit steeds volstoom aan die werk.

Sy lyk altyd asof sy haar posisie met soveel grasie en gemak hanteer. Tog was dit nie iets wat sy as baie jong kind gedroom het om te wees nie. Om die waarheid te sê, vir die eerste 10 jaar van haar lewe, was haar oupa die koning en haar oom die troonopvolger, dus kon sy en haar gesin ‘n relatiewe normale lewe hê.

Dit het alles verander in 1936 toe haar pa skielik koning geword het. Skielik was die jong Elizabeth die troonopvolger. Haar oom se besluit om te abdikeer het nie net haar pa nie, maar ook haar lewe en die van haar kinders onherroeplik verander. Wat ook al die jong meisie gedroom het om eendag met haar lewe te doen het nie meer saak gemaak nie. Sy sou koningin word en sy sou dit baie vinniger word as waarop sy gehoop het.

Sy was maar 26 toe die groot verantwoordelikheid skielik op haar skouers geplaas is. Koningin van die Verenigde Koninkryk (op daardie stadium was selfs Suid-Afrika nog amptelik ‘n kolonie.) Ten spyte van wat sy dalk eerder wou gewees het, of watter drome sy dalk vir haarself gehad het, het sy die nuwe verantwoordelikheid dapper aangevat. Vandag geniet sy respek. Het sy ‘n verskil gemaak en doen sy dit steeds.

Wat kan ons  by Haar Majesteit leer? Die lewe werk nie altyd uit soos ons dit beplan nie. Wat jy wil doen en wat jy uiteindelik doen kan wêrelde van mekaar verskil, maar dis jou keuse of jy jou alles gaan gee en of jy vir die res van jou lewe negatief gaan wees omdat jy ingedoen voel. Dalk wou jy ‘n ander beroep gevolg het. Dalk wou jy gaan studeer het. Dit maak nie saak wat jy wou gedoen het nie. Wat saak maak is wat jy nou is en waarheen jy op pad is. Leef elke dag asof ‘n hele koninkryk na jou opkyk vir leiding. Jy weet nooit wie volg jou voorbeeld nie…

Vorige artikelGod het ons lief
Volgende artikelDurf ek werk?
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.