Jou gekerm kan jou man doodmaak!

0
216
stilbly.jpg

Kerm jy in jou man se ore? Dit kan sy lewe verkort! Stilbly is (soms) die sleutel tot ’n gelukkige huwelik.

’n Paar jaar gelede het Patricia Love en Steven Stosny ’n hele paar vriende én vyande gemaak toe hulle boek, How to Improve Your Marriage Without Talking About It, verskyn het. Die vyande was meestal vroue en die vriende meestal mans, natuurlik! Maar ons reken Patricia en Steven het dalk tog iets beet.

Die probleem: Jou klagtes val op dowe ore

Die wyse Salomo het al gesê: Liewer in ’n woestyn woon as by ’n twisgierige vrou wat aanhou neul. ’n Studie deur die Universiteit van Kopenhagen het nou bevind dat ’n gedurige gekerm in jou ore jou kan doodmaak. Die titel van die artikel waarin die Australian Women’s Weekly oor hierdie navorsing berig het, was Nagging Spouse Could Shorten Your Life. Regtig! As jy gedurig in jou man se ore kerm, kan hy voortydig sterf aan kanker, ’n hartsiekte, ’n lewerkwaal, ’n ongeluk of selfdood.

Volgens dié studie het mense wat voortdurend deur hulle lewensmaat onder druk geplaas word, ’n 50% tot 100% verhoogde risiko om vroeg dood te gaan. Vir mans is die risiko die grootste. Jy kan letterlik met jou geneul en gesanik jou man doodmaak. Nog erger: Jy kan sy siel bietjie vir bietjie laat doodgaan nog voordat hy sy laaste asem uitblaas.

As jy ’n (tipiese) vrou is wat meestal sukkel om ’n wag voor jou mond te sit en gedurig kerm en die verkeerde goed sê, is dit dalk tyd dat jy moet besef hoekom jy dit doen. Sodra jy weet wat die oorsaak is, is dit makliker om ’n oplossing te kry.

Die vraag: Hoekom wil vroue oor alles práát?

Volgens Patricia en Steven se navorsing is babadogtertjies reeds van hulle geboortedag af meer sensitief vir isolasie en ’n gebrek aan kontak. Eeue gelede was hierdie sensitiwiteit ’n oorlewingstrategie.

’n Vrou moes gedurig weet waar haar kinders, en ook ander vroue, was. Vroue en kinders in isolasie was ’n prooi; daarom het vroue nog altyd ’n sterk behoefte gehad om in kontak met ander te wees. Dis amper asof ons deur die eeue ’n ingeboude GPS ontwikkel het wat ons bewus hou van die nabyheid en afstand van die mense om ons. As jy na aan die mense om jou voel, is jy veilig en ontspanne, maar sodra jy bewus raak van afstand, raak jy angstig.

Babadogtertjies is ook van die begin af meer gemaklik met oogkontak. As sy huil, soek sy dadelik iemand om mee oogkontak te maak, sodat sy naby en veilig kan voel.

Wanneer daar om enige rede ’n breuk of bedreiging in ’n vrou se verhouding met diegene om haar is, hanteer sy dit deur te versorg en te bevriend. Dit is vroue se natuurlike manier om enige stresvolle situasie te hanteer. Jy gee aandag aan die probleem en probeer bande versterk. Goeie verhoudings help jou deur moeilike tye, want hoe meer jy met die mense om jou oor jou probleme praat, hoe nader voel jy aan hulle.

[pagebreak] Met ander woorde, jy praat sodat jy veilig kan voel. Emosionele bande is jou grootste troos. Deur seker te maak verhoudings is gesond, kan jy die lewe se uitdagings hanteer. En jy bou verhoudings deur jou al nader en nader aan die mense om jou te “praat”. Hoe meer daar gepraat word, hoe veiliger en meer ontspanne voel jy. En ’n ontspanne vrou is ’n aangename vrou.

Ongelukkig is mans nou nie soos vroue nie.

Die effek: Jou man voel oorweldig en verwerp

In hulle boek verduidelik Steven en Patricia mans se gedrag mooi: Op dieselfde manier as wat babadogtertjies baie sensitief is vir isolasie en ’n gebrek aan kontak, is babaseuntjies ekstra sensitief vir enige skielike stimulasie. Babaseuns skrik tot vyf keer meer as dogtertjies, en ook makliker.

’n Geluid soos ’n maag wat rommel, is genoeg om ’n seuntjie te laat skrik. Hierdie reaksie was lank gelede natuurlik ook nodig vir oorlewing. Omdat mans meer spiermassa het en sterker as vroue is, moes hulle roofdiere afweer en uiters bewus wees van enige dreigende gevaar. Roofdiere het mense bekruip, en mans moes oombliklik kon reageer.

Hierdie skrikreaksie stel die hormoon kortisol vry. Kortisol laat jou ongemaklik voel om jou aandag te trek sodat jy iets aan die situasie kan doen om dit beter te maak. Oorstimulasie kan jou egter “dronk” maak van kortisol. ’n Kortisol-hangover voel baie soos wanneer jy te veel suiker geëet het en ná die oormaat energie wat dit verskaf, sommer lam, tam en mislik voel.

Omdat seuntjies hipersensitief is, waak hulle outomaties teen die ongerief van oorstimulasie. Dit is hoekom klein seuntjies nie so baie oogkontak maak soos dogtertjies nie. Hierdie tipe oogkontak beteken ook glad nie dat seuns sukkel om te konsentreer nie. Seuns kan steeds baie goed fokus sonder om iemand in die oë te kyk. As die baba egter oogkontak met sy ma of oppasser verbreek, dink dié persoon die seuntjie stel nie belang nie, en kyk ook weg. Ouers sal tot soveel as 50% meer in hulle dogtertjies as in hulle seuntjies se oë sit en kyk.

Dit beteken nie dat seuns nie kontak en koestering nodig het nie. ’n Seuntjie sal net meer gereeld oogkontak verbreek en dan weer terugkyk. Dit is sy manier om in kontak met jou te bly sonder om oorweldig te word. Ongelukkig gebeur dit dikwels dat wanneer die seuntjie weer reg is om oogkontak te maak, die volwassene nie meer vir hom kyk nie. Dan voel hy verstoot.

[pagebreak] Dit is alles baie interessant, maar wat beteken dit vir jou en die volwasse man met wie jy ’n verhouding het? Eerstens neem jy dikwels aan dat hierdie versigtigheid wat mans die res van hulle lewe bybly, ’n gebrek aan belangstelling is. Dit is nie. Dit lyk dalk asof hy jou probeer vermy en ignoreer, maar eintlik probeer hy net keer dat hy vir die volgende paar uur (of soms dae) ’n kortisol-babelas gaan hê.

Wat die situasie verder kompliseer, is dat mans eintlik bitter sensitief is vir verwerping – juis omdat hulle as babas nie gemaklik met langdurige oogkontak was nie en hulle versorger se reaksie hierop as verwerping ervaar het. Daarom ervaar seuntjies van kleins af dat hulle nie baie goed is met intieme verhoudings nie. Hulle dink: “As ek te veel van iets hou, word dit weggevat. Dis beter om nie té geheg te raak nie.” Babaseuns verbreek nie oogkontak omdat hulle nie van jou hou nie, inteendeel, hulle het intimiteit net so nodig soos dogtertjies. Net in klein dosisse op ’n keer.

Omdat mans so sensitief vir verwerping is, klink jou dinge-uitpraat glad nie soos ’n poging om die band tussen julle te versterk nie. Vir hom klink dink dit soos ’n aanval oor alles wat hy verkeerd doen. So, eerstens is daar die kortisol en tweedens die vernedering: Hy is nie goed genoeg nie, hy het al weer gefaal om ’n ordentlike verhouding met iemand te hê.

Om op te som: Jy voel onveilig en wil dit reg praat, want dit is wat jou natuurlike instink vir jou sê om te doen. Maar jou “reg praat” laat jou man net so onveilig voel, want dit is sy natuurlike reaksie. Julle is in ’n verloor-verloor-situasie sonder dat julle dit besef. Dit hoef egter nie so te wees nie.

As jy jou eie natuur en ’n man se kortisol-probleem en verleentheid verstaan en reg hanteer, sal baie van die struikelblokke in julle verhouding verdwyn. Dit beteken nie dat jy nou vir altyd moet stilbly nie. Jy moet net leer om op die regte tyd, die regte plek en op die regte manier te praat. Dit sal sommer al die verhoudings in jou lewe beter maak, want woorde het die manier om te verwoes as dit verkeerd gebruik word.

Die oplossing? Dink voor jy praat!

Kliek hier om te lees presies hoe jy jou woorde in jou kop deurwerk voor dit by jou mond uitkom.