Jou geluk is jou verantwoordelikheid

Hoor ek hoe iemand sê, “ai het jy gesien hoe gelukkig lyk hy? So anders as toe hy agter sy ma se kis aangeloop het. Sy maak hom regtig gelukkig.”

Vat my toe ‘n oomblik om agter te kom die vrou praat oor Prins Harry wat met sy mooie Meghan getroud is.

Ek het nie self die troue gekyk nie, was laasnaweek heel besig by die Dubaise Afrikaanse Kerk. (Wat ‘n ongelooflike ervaring en belewenis!), maar so beloer ek toe tog die foto’s van die groot troue. Ja, die paartjie lyk baie gelukkig, maar ek hoop van harte nie die nuwe Hertog van Sussex verwag dat die Hertogin van Sussex die verantwoordelikheid vir sy geluk moet dra nie.

Jy sien, een mens kan ‘n ander net gelukkiger maak, maar om gelukkig te wees vind jy net in jouself. Daardie is ‘n verantwoordelikheid wat elke persoon self moet vat. Tog is daar baie mense wat dit nie doen nie. Hulle het hulle geluk 100% iemand anders se verantwoordelikheid gemaak. Dis bietjie gevaarlik, want ons is almal net mense en mense is nie perfek nie.

Ander het al lankal op mense opgegee en vind nou hul geluk in hul beroepe, status en geld. Alles dinge wat in ‘n oomblik kan wegval en waar is hulle dan? Wat ek nou gaan sê is ‘n groot en belangrike waarheid, wat baie hoor maar ongelukkig min ter harte neem. Om jou geluk op een persoon of slegs een aspek van jou lewe te fokus, gaan beteken jy gaan in duie stort die oomblik as daardie persoon of aspek nie meer daar is nie.

Weet wie jy is. Weet waarnatoe jy oppad is. Vind ten eerste vrede, geloof en geluk binne jouself, want as die lewe begin snaakse draai gooi, soos wat dit die neiging het om te doen, moet jy nog steeds jy wees. Jy moet steeds kan aangaan en jou roeping nastreef, maak nie saak wat die omstandighede is nie.

Vorige artikelHoender-en-lensieburgers
Volgende artikelOor verandering
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.