Jou gesonde liggaam bring God eer

0
72
gelukkig.png

’n Gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees. Jy verheerlik God wanneer jy jou liggaam mooi versorg.

Die gesegde “’n Gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees” is beslis waar. Jou innerlike en uiterlike beïnvloed mekaar en as jy goed lyk, voel jy ook sommer goed!

Wanneer jy jou liggaam afskeep, kan jy nie net vet word nie, maar ook siek. En siekte kan verhoed dat jy jou lewe voluit leef. Skielik is jy te moeg om jou talente uit te leef. Jy begin jou verhoudings afskeep en leef van dag tot dag, omdat jy nie krag vir enigiets ekstra het nie.

Dink jy regtig so ’n leefwyse vorm deel van God se plan vir jou lewe?

Ons mag nie ons innerlike of uiterlike afskeep nie. Om optimaal te funksioneer en voluit te leef moet ons gesond leef. Op dié manier eer jy God se handewerk en getuig jy dat jy Hom en jouself respekteer. Wanneer jy jou liggaam en siel verwaarloos, leef jy minder effektief en benut jy nie die volheid van dit wat God ons bied nie. Wanneer ’n mens egter innerlik en uiterlik gesond is, bevorder dit jou selfbeeld en ’n gesonde selfbeeld gee aanleiding tot gesonde menseverhoudings.

Ek het agtergekom my geliefdes verwag nie van my om perfek te wees nie, maar hulle is vreeslik trots op my wanneer ek myself goed versorg. Ek kan dit nie waag om onversorg by my kinders se skool op te daag nie, maar ek weet ook alte goed dat hulle my nie minder lief gaan hê omdat my rokgrootte nie ’n nommer dertig is nie!

In 1 Korintiërs 6:19 staan daar jou liggaam is ’n tempel van God. God beskou jou liggaam dus as Sy huis – dit laat ’n mens nogal anders na jouself kyk, of hoe? Ek en jy het dus ’n verantwoordelikheid om ons liggame, God se tempels, te onderhou. Moet dit nie afbreek of misbruik nie.