Jou grootste geskenk aan die wêreld…

Ek verwonder my altyd aan mense en hul reaksies wanneer hulle geskenke ontvang.

“Vir my? Regtig? So groot? Ek verdien dit nie! Nee, dit was nie nodig nie.” Soms wil ek se: “Hello, ja jy, jy is spesiaal genoeg dat iemand uit hulle pad gegaan het om vir jou ‘n geskenk te koop. Jy was op iemand se hart en jy word belangrik genoeg geag.”

En so doen ons presies dieselfde met die onveriende guns, gawes en talente uit God se Hand. Jy sien ons het almal spesiale talente en gawes ontvang, maar ons vergelyk onsself telkemale met ‘n kennis op sosiale media, die beroemde persoon in ‘n tydskrif of selfs ‘n beste vriendin. Ons voel telkemale nie goed genoeg of bekwaam genoeg nie. Dit is asof ons almal ons Godgewene geskenkies oopgemaak het, dit met mekaar s’n gevergelyk het en se: “Maar ek wil liewer jou talent gehad het.”

Aanvaarding is bevryding. Die dag wanneer jy jouself aanvaar, jou talente aangryp en besef dat jy uniek geskape is word jy bevry van die begeerte om in te pas, jy word bevry van die gedagtes van wie jy dink jy veronderstel is om te wees en jy word wie God jou geroep het om te wees.

Ester 4:14 se dat jy gebore is vir ‘n tyd soos die. Jy is presies waar jy moet wees. Jy is gekies, gevorm en gekroon met gawes en talente vir ‘n tyd soos die, vir nou! Jy is genoeg, jy het meer as genoeg binne-in jou om te oorwin. Jy is ‘n seëning vir almal om jou omdat jy opreg is. Die wereld smag na opregte mense, nie perfekte mense nie.

Gaan vandag uit met ‘n hart vol dankbaarheid vir jou geskenk. Jou unieke talente en gawes is God se geskenk aan jou, onthou wat jy daarmee vermag is jou geskenk aan Hom.