Jou grootste vrees op ’n vliegtuig

0
318
vliegtuig.jpg

Ons sien dit gereeld in die flieks, maar wat as daar regtig iets fout gaan met die vliegtuig?

Elna Snyman was nie altyd bang vir vlieg nie, maar ’n mens kan nie kies waarvoor jy skrik nie. Nou pas sy gerieflik in die kategorie van sensitiewe, senuweeagtige passasier. Tog is daar vrede in haar hart.

Liewe Vlieënier

Daar was baie redes hoekom ek nie op daardie vliegtuig moes klim nie, soos dat ek liewer die naweek moes werk, dat my sitpleknommer 13D was, dat die lugwaardin kwaai was, en dat 13D toe nooit eers bestaan het nie en ek gevolglik heel agter, net voor die stert, moes sit. ’n Mens sit nooit daar nie! Knieserig stap ek die gangetjie af en neem my sitplek in. Ek is seker jy het al ’n paar benoude oomblikke in die stuurkajuit beleef – maar het jy enige idee wat in die passasierskajuit gebeur?

Ons was op pad om te land. Stoele regop, gordels vas. Die vliegtuig het stadig in die rigting van die aanloopbaan gedraai en ek kon hoor hoe die wiele sak. Toe gee jy skielik vet en ons skiet sonder waarskuwing weer die hoogte in! My maag het nog nooit so ’n bollemakiesie gemaak nie, nie eers op die skou se Big Dipper nie. Toe volg daar ’n swaar, ewige stilte. Na daardie ewigheid plus ’n leeftyd, sê jy toe iets: “Ongelukkig… aborteer… landingstoestel faal… Kaapstad land…” Ek kon nie mooi hoor nie. Wat nou? Gaan ’n waaghals met ’n tou om sy lyf uitklim en die fout herstel – soos in die flieks?

Al oplossing waaraan ek kon dink, was dat jy dalk heelpad van George af Kaap toe jou vinger op die landingstoestel se knoppie gaan hou. En met groot geluk of genade sal die wiele volledig uitsak. Ek was nog besig om my naweekwegbreek in my kop te herskeduleer toe jy aankondig ons gaan nié meer Kaap toe nie. Die wind van voor is te sterk en die brandstof te min. Ons gaan terug George toe. Asem in en uit, in en uit…

Net toe ek dink dinge kan nie erger raak nie, laat weet jy dit kan. George is ook nou te ver, maar êrens in die Overberg is ’n ou, ongebruikte militêre basis. Ons gaan soontoe. Die enigste opsie is ’n noodlanding, verduidelik jy, ons moet ons asseblief daarop voorberei. Hoe doen ’n mens dit? Dit voel soos ’n veerpyltjiespel – jy mik vir die middel, maar as jy tog net iewers op die bord kan land, is dit ook reg.

Die lugwaardinne is nou duidelik senuweeagtig, vreesbevange, onervare en nog bitter jonk – al lyk hulle pragtig in hulle uniforms en styfgetrekte bollas. Saam met hulle oefen ons die brace-posisie en gil die woord hard uit elke keer as ons dit doen. Na dié skynbaar beheersde demonstrasie bars pandemonium los. Die waardinne hardloop in die gang af met noodhandleidings onderstebo in die hand en bondel heel agter in die vliegtuig saam. My logika neem oor en ek beveel hulle om hulleself reg te ruk. Daar is ma’s met klein kindertjies wat hulp nodig het en die passasiers moet kalm gehou word.

Deur die venstertjie sien ek die aanloopbaan se liggies. En die brandweer en ambulanse s’n.

Dan tref ’n golf van kalmte my. Hierdie is deel van God se plan. Hy ken my hart en weet my grootste vrees is om in ’n vliegongeluk te sterf. Dit was nie altyd so nie. Voorheen is twee van my goeie vriende het in twee afsonderlike vliegongelukke dood. Hulle was ervare vlieëniers. Lugakrobate. Nadat nog twee van my kliënte in ongelukke met ligte vliegtuie omgekom het, kry ek die horries elke keer as ek moet vlieg… God het voorwaar ’n humorsin! Hier konfronteer Hy my met my grootste vrees, en gee my die grootste kalmte. God sal beskik. Hy is my Vlieënier. Net Hy is in beheer en beskik oor my begin en einde. In die laaste minute voor die noodlanding, sê ek dankie vir my geseënde lewe. My geliefdes. Ek is oor niks spyt nie.

Die liggies kom nader, die grond ook. Ons almal gil “Brace!” en doen wat ons moet. Met ’n knal tref ons die grond. Bagasie vlieg rond. Dit skud, ruk, skuur en oral is stof. Dan is alles stil. Ons het dit oorleef! Elke enkele een van ons.

Verligting en dankbaarheid was my metgeselle die res van daardie naweek. Ek is nog steeds bang vir vlieg, maar met die gerustheid in my hart dat Hy in beheer is, vlieg ek kruis en dwars oor die wêreld. My menslikheid maak dat my hart vinniger klop as daar ’n skielike rukbeweging bo in die lug is, of wanneer die vliegtuig opstyg. My uiteindelike Rusplek is egter verseker; daarom voel ek veilig as ek vlieg.

Dankie, liewe vlieënier, dat jy die vliegtuig veilig na vaste aarde toe teruggebring het. Jy het gedoen wat jy moes – alles binne jou menslike vermoë om ’n ramp te voorkom. Moet dit asseblief nie persoonlik opneem as ek nie die R100-afslag wat ons as kompensasie gekry het, gebruik nie.

Groete
Elna