Jou kind se woedeuitbarstings

1610

Tantrums is kragtige emosionele storms. Dit kan ouer en kind totaal oorweldig, en hulle kwaad en magteloos laat voel. Gelukkig is daar iets wat jy kan doen.

Daar is besliste redes waarom kinders op bepaalde maniere reageer. Dit het gewoonlik te doen met honger, moegheid, spanning, frustrasie of teleurstelling. Party kinders reageer meer gereeld met ’n uitbarsting as ander, want dit hou verband met individuele breinontwikkeling en sensoriese temperamente.

Dis ontstellend, maar nodig vir gesonde breinontwikkeling

Om te ontplof is deel van die normale groei en grootword by kinders. Regtig! Hiersonder sal hulle nooit leer wat om met groot emosies te maak nie.

As kinders se emosies buite beheer raak, ontwikkel essensiële breinnetwerke wat emosionele regulering bevorder. Daarom kan jy, volgende keer as jou kind ’n woede-uitbarsting kry, diep asemhaal en jouself herinner dat dit normaal is. Meer nog: Dit is nodig vir gesonde breinontwikkeling.

Daar is twee tipes woede-uitbarstings. Met elkeen gebeur daar iets anders in jou kind se brein. Elke tipe moet daarom op ’n spesifieke manier benader en hanteer word.

Ken die verskillende tantrums

Die eerste tipe is ’n uitbarsting wat veroorsaak word deur stres. Daniel Siegel verduidelik in sy boek, The whole-brain child, dat die brein uit ’n boonste en ’n onderste verdieping bestaan. Die boonste deel is die denkende deel waar ’n mens rasionele besluite neem, taal gebruik en probleme oplos. Dit alles ontwikkel nog by kinders.

Die onderste verdieping is die primitiewe brein. Groot emosies soos frustrasie, angs, verlies, en teleurstelling kan dikwels die kind oorweldig en ’n stresreaksie in sy brein veroorsaak. Kom ons noem hierdie tipe woede-uitbarsting ’n stres-tantrum of ineenstorting.

Ander uitbarstings word glad nie deur stres veroorsaak nie. Dit gaan hier net oor ’n magspel. Die kind (gewoonlik ouer as 5 jaar) wil in beheer wees en probeer jou manipuleer. Dit gaan vir hom daaroor om sy sin te kry. Dit kan wees dat hy nie sy groente wil eet nie of ekstra tyd voor die TV wil hê. Ons noem dit ’n beheertantrum.

Ook hier is dit nodig dat jy op die regte manier optree. As jy toegee en jou kind kry sy sin,
sal hy met verloop van tyd leer dat manipulasie werk.

Beweeg soms nader en ander kere weg van die situasie

Die effektiefste optrede is: Beweeg weg van jou kind as sy ’n beheer-tantrum kry, maar nader as sy ’n stres-tantrum het.

Wanneer jy nader beweeg, wys jy empatie met die groot emosie wat jou kind nie verstaan nie en haar so oorweldig. Jy kan haar help om sin te maak van wat sy ervaar, wat om dit te noem en wat sy kan doen. Sê byvoorbeeld: “Mamma kan sien jy is kwaad. Ek sal hier by jou sit totdat jy weer kalm voel.”

Wanneer jy weg beweeg van jou kind tydens ’n beheer-tantrum, wys jy jou empatie maar ook dat skop, skree of lelik praat om jou te manipuleer nie gaan werk nie. Stel jou grense en gee idees vir alternatiewe maniere van optrede. Jy kan byvoorbeeld sê: “Mamma sal rustig luister as jy rustig met my praat. Ek kan nie luister as jy so skree nie.”
Ouers is soms skaam om hieroor te praat. Stilbly maak egter niks beter nie!

Lizanne du Plessis, Ouerleiding, kinderontwikkeling en -terapie

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Lizanne.

[divider style=”9″]

Koop dr. Deon van Wyk en dr. Jena Raubenheimer se studieprogram Bly kalm en leer slim aanlyn by voelgoedboeke.co.za teen 50% afslag. R495 R995

KLIEK HIER