Jou lente en somer stylgids

0
91
mode.jpg

Is jy in pas met die nuutste modes? Kies vir jou iets helderkleurig om jou somer klerekas op te dateer.

Die nuutste lente en somermodes is geïnspireer deur blomkleure, kleure van verskillende kulture asook die energie van ʼn selfversekerde vrou. Soos Leatrice Eiseman, die direkteur by die internasionale kleurinstituut Pantone, sê “mense hunker na balans. Balans in hul emosies, denke en kreatiwiteit. Helder kleure stimuleer al die dinge. En helder kleure is so veelsydig! Dit kan gekies, gemeng en gepas word om aan jou unieke persoonlikheid uitdrukking te gee.”

Daar is twee maniere om nou helder kleur te dra. Dra een skakering as ʼn fokuspunt by ʼn ander kledingstuk in ʼn neutrale kleur. Jy kan byvoorbeeld ʼn nartjie oranje tuniek dra by denim. Of jy kan speel met kleurblokke. Dan dra jy komplimentêre of kontraskleure bymekaar. Jy kan ook helder kleure en pastelle kombineer. Dis makliker om oorwegend pastelle te dra en een sterk spatsel intense kleur daarby te voeg. Dit lyk baie dinamies en is ʼn slim manier om die mode voorkoms tydens kantoorure te dra. Laastens kan jy helder kleure dra by wit of swart of saam met wit en swart. Die “liquorice allsorts” styl vier nou hoogty!

Onder elkeen van hierdie modekleure kan jy op ʼn pyl kliek om te sien watter kleure hierdie seisoen vuurwarm is.

Lente en somer modekleur #1: Blou

Van sagte duifeier tot koningsblou, vlootblou en turkoois, blou simboliseer die kalm en intellektuele kant van vrou-wees. Blou kombineer fantasties met neutrale kleure soos wit, beige of sand-bruin. Maar moenie vergeet hoe treffend verskillende skakerings van blou in een uitrusting kan wees nie! Vera Wang en Fendi is van die internasionale modehuise wat die blou tendens op die loopplank gewys het.
pyl.jpg

Lente en somer modekleure #2: Pers en pienk

Violet, pienk en pers asook pienk-pers is almal deel van die kleurfamilie wat sensualiteit en gesofistikeerdheid verteenwoordig. Mens besef dit nie altyd nie maar pers en pienk lyk goed by meeste ander kleure. Solank jy ʼn bietjie oordeel aan die dag lê met hoeveel – of hoe min – pers om by ʼn ander kleur te gebruik. Hierdie is ook die grootste modekleur van hierdie jaar, aldus Pantone. Hulle noem pienkpers “radiant orchid” en modehuise het die skakering kwistig gebruik in modevertonings vir DKNY en MaxMara.
pyl.jpg

Lente en somer modekleur #3: Groen

Groen soos kruie? Pepermentgroen. Lemmetjie. Vir elke persoon is daar ʼn groen wat by haar sal pas. Groen werk besonder goed saam met pienk-pers mits dit ʼn ligte skakering van groen is. Ontwerpers soos Nicole Miller en Zac Posen het vanjaar groen in hul mode-tentoonstellings gebruik.
pyl.jpg

Lente en somer modekleur #4: Rooi

Geen kleur is meer energiek as rooi nie. Dis die kleur van lewe, passie en romanse. Vurige romanse! Rooi is van al die kleure in die kleurspektrum die mees klassieke kleur en sodoende ook die kleur wat die minste tydsgebonde is. Jy kan ʼn rooi jas, trui, handsak of lipstiffie altyd weer gebruik. Nie net die seisoen nie. Net ʼn klein titseltjie rooi sal enige uitrusting lewe gee. Tommy Hilfiger en Elie Saab is maar net twee van menige ontwerpers wat die wêreld se stede rooi verf met die lewendige kleur in hul reekse.
pyl.jpg

Lente en somer modekleure #5: Geel en Oranje

Sagte geel, sonneblomgeel, sitrus of rooi-oranje. Die warm en vrolike kleurfamilie lyk ongelooflik by blou sowel as rooi. Jy kan nie anders as om gelukkig te voel as jy jou in een van die tropiese skakerings tooi nie. Onthou dat geel nie by almal pas nie so maak seker dit laat jou nie geelsugtig lyk as jy dit dra nie. Koraal lyk die beste op blondines met ligter velle en donker oranje komplimenteer ʼn olyfkleurige of goudbruin vel lieflik. Versace en Ralph Lauren het die vrolike kleure op hul modelle gewys vanjaar. So kies een of al hierdie kleure en wees verseker jy gaan die koppe laat draai!
pyl.jpg

Frank Lyman is beskikbaar by uitgesoekte boetieks landswyd. Mimco en Witchery winkels is in uitgesoekte stede asook by sommige Woolworths winkels beskikbaar.

Geskryf deur Ryno Mulder