Jou lewe, jou verantwoordelikheid

Hierdie week het ons gehoor dat dagga wettig is vir persoonlike gebruik.

Tipies Suid-Afrikaners het ons dadelik gereageer met ‘n stroom grappies oor die aangeleentheid. Dis goed dat ons nog kan lag. As mens lag, het jy nog hoop.

Oor die beroemde hofuitspraak gaan ek my nie hier uitspreek nie. Dit het my egter wel laat dink dat dit al hoe moeiliker raak om die regte pad te stap. Ek het grootgeword in ‘n samelewing waar alles deur wetgewing bepaal is. Mense op ‘n paneel het besluit wat ons mag kyk, lees en luister en wat nie. Dit was asof alles baie duideliker uitgespel het wat is reg en wat is verkeerd. Ons het maar net gedoen, was nie nodig om te dink nie. Dit was natuurlik ook nie ‘n ideale situasie nie. ‘n Mens moet darem ook mos vir jou self kan dink en besluite neem…

Nou se dae het ons baie meer vryhede. Baie meer dinge word toegelaat en deur die internet het ons toegang tot bykans alles. Ons word nou verplig om vir onsself te dink en om self te besluit oor wat ons in ons lewens toelaat al dan nie.

Die verantwoordelikheid rus nou by jou. Waarna kyk jy? Waarna luister jy? Wat lees jy? Absorbeer jou brein maar net al die inligting en dinge rondom jou goedsmoeds of doen jy die moeite om dit te filtreer deur jou waardes en standaarde?

Net omdat almal rondom jou iets doen, is dit nie noodwendig die regte ding vir jou om te doen nie! Raak weer vir ‘n slag stil. Neem jou lewe onder die vergrootglas. Gaan skryf neer wat is die dinge wat vir jou belangrik is en meet dan dit wat jy elke dag doen, sien, lees en hoor daarteen. Gooi dit uit wat vir jou skade berokken en hou vas aan dit wat jou help op jou pad na ‘n lewe van uitnemendheid.