Jou lewe kan sensasioneel wees!

0
1297

Is jy tevrede met hoe jou lewe op die oomblik is? Gebruik hierdie praktiese raad van hoogvliegvroue om jou weer op die regte spoor te plaas.

Luister na jou emosies en leer uit jou foute

Alle mense het in hulle diepste wese dieselfde hunkerings. Ons smag na selfverwesenliking, innerlike vrede en vreugde, sin en betekenis en om ’n verskil te maak. So dikwels ignoreer ons egter die rigting wat ons innerlike kompas vir ons aanwys. Die gevolg is dat ons later energieloos, broos en alleen voel.

Die pad na jou verhouding met ander begin by jouself. Wees eerlik. Spandeer elke dag minstens twintig minute op jou eie. Gaan binnetoe en luister na wat jou innerlike stem sê. Jy mag emosies ervaar, maar jy het ’n keuse hoe jy gaan optree. Glo dat God ’n pad met jou loop. Luister na Sy stem!

Rina de Klerk

Vervang jou selfvertroue eerder met God-vertroue

Selfvertroue is veranderlik. Dit is ’n proses van val en opstaan, leer en herleer. Elkeen van ons het meer of minder selfvertroue op verskillende gebiede.

Die vraag is egter of ons ’n gesonde balans tussen vertroue in God en vertroue in onsself het. As dit die geval is, sal ons as betreklik oukei mense ons lewensdoel kan uitleef.

Gooi selfbewustheid by die deur uit! Dan kan jy nie anders as om met moed en dapperheid jou paadjie te stap nie. Elke vrou is gemaak, gevorm, gebeitel en gelouter om soos ’n meesterwerk te skitter. Jy mag maar met trots jou skoonheid en uniekheid uitstraal.

Chanté Hinds

Begin en eindig jou dag reg

Vroue se lewens raak al hoe doller en dan is dit maklik om jou stiltetyd te begin afskeep. Sonder hierdie daaglikse ontmoeting gaan jy dit egter nie regkry om jou verantwoordelikhede baas te raak of geestelik te groei nie.

Jy het twee dinge nodig: ’n Spesifieke tyd wat jy net daarvoor opsy moet sit en ’n spesifieke plek waar jy alleen kan wees. Word stil en vul jou gedagtes met Hom. Dink aan Sy eienskappe en aan die skoonheid van die skepping. Besin oor daardie liefde en genade vir jou persoonlik.

Jy moet ook dwarsdeur die dag van Sy teenwoordigheid bewus wees, en aanhoudend so gesels.

Nina Smit

Daar lê waarde in kalm raak

Wat goed genoeg is vir God, is goed genoeg vir jou. Ons Skepper het op die sewende dag gerus en daarom word ons in die Bybel daaraan herinner dat ons dieselfde moet doen.

Daar is twee soorte rus. Die sewende dag se rus beteken om weg te kom van jou daaglikse roetine en die tyd te neem om regtig vir een dag op Sy dinge te fokus. Die ander rus het te make met ’n diep vertroue wat slegs uit ’n verhouding met Hom gebore word.

As jy in so ’n verhouding belê, sal jy elke keer wat ’n situasie jou begin druk, kan onttrek en kalmte en vrede in jou hart kry.

Esté Geldenhuys

Geloof beteken om nié te verstaan nie

Ons het geloof die meeste nodig wanneer dinge nie sin maak nie. Wanneer ons nie verstaan nie en wanneer ons die meeste vrae het. As ons alles self kon uitredeneer en presies geweet het wat môre gaan gebeur, sou dit beteken het dat ons in beheer was en nie geloof nodig gehad het nie.

Dit is maklik om terug te kyk en te sien hoe dinge reg uitgewerk het, maar wanneer ons bekommerd is oor die toekoms, is dit moeilik om te vertrou dat dit weer sal gebeur.

Word rustig en ontspan! Jy kan Hom vertrou, al verstaan jy nie altyd presies hoe dinge gaan uitwerk nie.

Alta Vrey