Jou Liefde vir Koffie en jou Finansies

Is jy baie lief vir koffie en drink sommer ‘n paar koppies op ‘n dag?

Geniet jy dit om jou vriendinne vir koffie te ontmoet? Beklink jy besigheidstransaksies by ‘n koffiewinkel? Koop jy graag ‘n wegneem koffie wanneer jy by die supermark uitkom of moet petrol ingooi? Kan jy die lus nie weerstaan om gou ‘n koffie te koop voordat jy die verkeer aandurf nie? Gaan besoek jy die naaste koffiewinkel vir ‘n heerlike koppie koffie en yslike stuk koek wanneer jy bietjie af of onder druk voel?

Ja, daar is baie groot koffieliefhebbers onder ons. Suid-Afrika het ‘n groot kultuur van koffiedrinkers geskep – gewone koffiedrinkers sowel as die meer gesofistikeerde koffiedrinkers. Koffiewinkels is orals te sien en altyd gewild. Het jy egter al ‘n paar sommetjies gemaak om te bereken hoeveel geld spandeer jy aan koffie en by koffiewinkels gedurende ‘n maand? Doen gerus die sommetjies, jy sal verbaas wees met die resultate, selfs al sien jy jouself nie as ‘n groot koffiedrinker nie.

‘n Onlangse studie het uitgewys dat Suid-Afrikaners emosioneel is as dit by besteding kom. Daar is sekere items wat Suid-Afrikaners glo ons moet hê en nie sonder kan leef nie, terwyl ander lande se inwoners dit as luukshede beskou. Hier is ‘n lys van die items wat Suid-Afrikaners as noodsaaklikhede beskou en sodoende ‘n klomp geld op bestee op ‘n gereelde basis:

  • Koffie
  • Kitskos
  • Gebottelde water
  • DSTV
  • Data- en selfoonpakkette
  • Klere met populêre handelsmerke

Verseker ‘n interessante studie met interessante resultate. Daar kan ook baie redes aangevoer word hoekom ons glo ons kan nie sonder die items leef nie. Baie vrouens werk voltyds en het nie meer tyd om vir ure etes voor te berei nie. Daar bestaan twyfel of ons water veilig is om te drink. Suid-Afrika het hoë misdaadsyfers en ons het data en selfone nodig vir gevaarsituasies. Al die redes is sekerlik geldige redes. Die impak van die items op ons maandelikse besteding moet egter nie gering geskat word nie. Die uitgawes mag klein klink as individuele items, maar dit tel gou op en as jy weer sien het jy ‘n fortuin bestee op items waarsonder jy waarskynlik wel kon oorleef. Let bietjie op hoeveel geld jy spandeer op hierdie items en of jy dalk besparings kan bewerkstellig.

Vorige artikelBeste bruilof ooit!
Volgende artikelSit jou uitdagings ore aan!
Blogger - Ronel Jooste
Ronel Jooste is ‘n Geoktrooieerde Rekenmeester met meer as ‘n dekade se korporatiewe ervaring in die bank, versekering en beleggingsindustrieë. Huidiglik het sy haar eie finansiële welstand maatskappy genaamd FinanciallyFiTLife. As finansiële coach en konsultant help sy mense met hulle persoonlike finansies; besighede met hulle besigheidsfinansies en bied ook werkswinkels en finansiële welstandprogramme aan. Ronel het haar eie finansiële geselsprogram op All-Time Radio; sy skryf graag artikels vir verskeie publikasies asook haar eie blog; en tree as spreker op by geleenthede waar sy haar passie vir finansiële fiksheid deel. Saam met haar suster besit sy die PhysEQFiT Gastehuis en privaat gym in Centurion. Ronel is ‘n fiksheidsfanatikus en hardloop, gym, gholf en fietsry is deel van haar daaglikse leefstyl. Haar droom is om mense te inspireer om ‘n gesonde, aktiewe, gelukkige en finansieël welvarende leefstyl te leef. Besoek Ronel se webtuiste www.financiallyfitlife.co.za vir meer blogs, hulpmiddels en hoe Ronel jou kan help met persoonlike of besigheidsfinansies.