Jou liggaam – ‘n tempel van God

Hierdie blog dra ek op aan die mense wat my elke aand in die gimnasium inspireer, spesifiek 3 manne wat die afgelope 2 jaar elkeen ‘n halwe mens in gewig afgeskud het en hul liggame totaal verander het.

Hierdie manne het dit reggekry om los te breek van die tronke wat hul eie liggame geword het en ek salueer julle. Andre, Worsie en Dewald, dankie vir die inspirasie elke dag.

Ek kry perspektief op die impak van ‘n blog

My vorige blog, ‘n baie persoonlike skrywe insake die ooievaar en die pad wat kinderlose paartjies stap, het een massiewe impak op my en Elmanda se lewens gemaak. Nie in my wildste drome kon enige van ons twee onsself indink dat 21000 mense (en dit groei steeds elke dag) die blog sou aflaai en gaan lees nie. Niks kon my en Elmanda voorberei op die oorweldigende reaksie van mense op die skrywe nie en daar is so ontsettend baie mense wat nodig gehad het om dit te lees en net vir eenkeer te besef….ons is nie alleen nie. Mense wat ons van geen kant af ken nie, het op elke moontlike vorm van medium van kommunikasie met ons daarna kontak gemaak en al wat ek kan verwoord is: alle eer aan God en weereens het Hy Sy plan laat meewerk deur iets so eenvoudig soos ‘n blog.

Met dít in gedagte neem ek nie hierdie blog of enige iets wat ek skryf ligtelik op nie en het ek my tyd geneem om hierdie skrywe op die regte tyd uit te bring. Ek het ‘n groot en baie sterk vermoede dat daar iemand daarbuite is wat hierdie moet lees, wat ‘n groot verandering in hul lewe moet maak en dit redelik dringend moet doen. So, wie jy ook al is liewe leser, hierdie is vir jou en mag jy toelaat dat die Heilige Gees jou lei om die verandering in jou lewe aan te pak wat al baie lank uitgestel word. Mag jy losbreek van dít wat jou gevange hou in die lewe en mag jy ‘n detoks van jouself en jou eie lewe doen.

Die karakter en persoonlikheid van 2019

Elke jaar het sy kenmerk en sy unieke karakter wat rondom so ‘n jaar vorm en dit laat uitstaan bo ander jare. Dit is asof elke jaar ‘n méns is en vergestalt rondom ‘n persoonlikheid in een of ander vorm wat normaalweg my ‘n hele ruk lank bybly en met my prentjiebrein kan speel. Die eerste helfte van 2019 bring vir my persoonlik so ‘n unieke karakter in die vorm van ‘n Professor (sien ‘n ouerige man met ‘n wit baard, met ‘n bril en ‘n wit jassie), ‘n man wat soek na gesondheid, navorsing doen daaroor en probeer uitpluis hoekom ‘n liggaam soms net eenvoudig vir jou tekens gee wat jy nie kan ignoreer nie. Jy as leser kan seker insien dat ek met gesondheid begin sukkel het en dit het ‘n hele warboel van vrae laat ontstaan.

Die nuus wat jy nie wil hoor nie

Ek sit rustig in die spreekkamer van ‘n gesondheidsdeskundige wat toetse op my gedoen het en haar woorde ruk my tot realiteit: “Len, jy het jou liggaam totaal uitgebrand, uitgeput, al die reserwes opgebruik”. Sy las nog ‘n string probleme hiermee by en soos sy praat sak my gemoed en emosies al verder in ‘n donker gat. Na sy hierdie verdoemende woorde gespreek het en die kamer verlaat het om vir my nog inligting te gaan haal oor my huidige stand van sake, sit ek alleen op die stoel, ek voel effens uit die veld geslaan en my gedagtes dwaal na die foto wat ek vir die blog gebruik het. Terwyl ek doodstil sit in haar spreekkamer, gaan my gedagtes terug en vir ‘n paar sekondes raak ek totaal weg in ‘n verlede waar ek voorwaar gesond, gelukkig en vrolik was – ek deel die volgende beeld met julle:

‘n Gesonde, funksionerende, vrolike liggaam

Ek dryf in die warm Mosambiek seewater, gewigloos, vreesloos, sonder bekommernisse en ek verwonder my aan die patrone wat die sonstrale op die seebodem en oor die koraalriwwe maak. Tyd staan stil vir my en dis net die geluid van seewater, my eie asemhaling en God se natuur rondom my. Dit is Junie 2018 en die res van Suid-Afrika bibber van die koue terwyl ons baljaar in die see van Mosambiek. Ek is absoluut gaande daaroor om te snorkel en duik soos ‘n kleuter op en af tot op die bodem en terug na bo. Ek besef na ‘n onbepaalde tyd dat ek lanklaas gekyk het waar ek myself bevind en met die opkyk sien ek dat ek baie ver gedryf het van waar my toerfamilie langs die see sit en baljaar.  Ek swem terug, maar die seestroom hier waar ons bly langs die kus van Mosambiek, druk my kus-op en ek besluit om eerder saam met dit te swem as teen dit. Die rotsrif veroorsaak dat die water in die teenoorgestelde rigting beweeg met die inkom van die gety en gevolglik word dit sterker soos die gety inkom en ek misgis my so effens hiermee. Ek swem terug strand toe en die vrede wat alle verstand te bowe gaan omring my vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd van my lewe. Ek stap die laaste gedeelte uit die branders en val soos ‘n dooie mens pootuit op die strand neer en ek lag, nee ek skaterlag van geluk en vreugde. Ek het so ver uitgespoel dat my toerfamilie nie eens sigbaar is nie en ek trek my paddavoete uit en begin stap al langs die kus terug na hulle.  Ons is so geseënd om 4 families te wees wat elke tweede jaar saam toer en tans bevind ons ons in die asemrowende Mosambiek. Ek stap op die warm sand al langs die kus af en besef dat ek régtig alleen is, daar is nie ‘n mens in sig nie en dit voel of ek op ‘n eiland uitgespoel het. Ek staan stil en kan nie God se genade, Sy natuur en Sy liefde en deernis op hierdie oomblik van my lewe beskryf nie, maar dit is die oomblikke van die lewe wat jy aan vasklou en onthou. Hier waar ek in die stoel sit wonder ek hoe ek in minder as ‘n jaar gevorder het, van die gesonde man op die foto na ‘n man wat moet aanhoor dat sy liggaam glad nie in die kondisie is wat hy dink dit is nie? Hoe en wat het ek met hierdie liggaam aangevang en hoe stap ek die pad terug na daardie oomblik op die strand?

Die realiteit van die middeljare

Ja, ek is middeljarig en ek hoor reeds ‘n goeie vriend van my in die agtergrond wat kliphard sê: “Len, jy is 44 en aanvaar nou net die ouderdom, dit is deel van oudword wat jy nou ervaar”. Ek word die afgelope 6 maande deur vele ongekende, sommige bekende, kleinerige, maar hinderlike gesondheidsprobleme geknou en gekelder. Dalk die gevolg van 6 dae per week werk, meeste dae 12 uur per dag vir ‘n té lang tydperk in my lewe, dalk die nadraai van 2018 se emosionele mallemeule (dit sal baie later in my lewe eers op skrif gestel word) wat nou manifesteer in my liggaam, dalk bloot sodat ek sover kom om hierdie blog te skryf in die hartjie van die winter van 2019 vir iemand wat dit daarbuite moet lees. Hoe sal ek ooit weet wat God se plan met alles is en wie hy hierdeur direk wil aanraak met die skryf hiervan?

God se plan, die Daniël Plan

In dieselfde eerste 6 maande van 2019 kom die voorstel in ons Bybelstudiegroep dat ons weer ‘n boek van Rick Warren moet aanpak. Ons het in 2018 sy Doelgerigte Lewe gedoen en ieder en elk van ons het dit as lewensveranderend ervaar. Die nuwe voorstel is egter heeltemal iets anders, dit is sy leefstyl boek, ‘Die Daniël Plan’. Ons is sowat 5 manne wat elke Maandagoggend om 5:30 bymekaar kom en saam Bybelstudie te doen. Ons neem gewoonlik ‘n boek en lees dan gedurende die week ons gedeeltes en bespreek dit op Maandagoggende oor ‘n koppie koffie. Hierdie Maandae oggende se kos vir die siel het vir my belangriker geword het as wat ek ooit kon dink en die vroeg opstaan, koue wintersoggende, maak nie nou meer saak nie, want dit wat ons daaruit kry is soveel meer. Om saam met ander gelowige manne te sit en oor God te gesels is raar en so soms gaan dit swaar met een van ons en die ander is daar vir daardie persoon. Ek weet hulle was vir my daar in 2018 toe ek soms net ‘n druk nodig gehad het, so dit is van onskatbare waarde en ek beveel dit vir enige mens aan. So word die voorstel gemaak om Die Daniël plan te doen en ek moet met alle eerlikheid sê, ek was redelik ernstig skepties oor die boek. Met eerste oogopslag is die boek daarop gemik om ‘n mens te leer om ‘n gesonde leefstyl aan te pak om jou doel op aarde beter uit te leef, om te oefen, om reg te eet en om jou algemene gesondheid te verbeter. Nou hier het ek so by myself sit en dink…..wat kan ek nou nog leer in die lewe? Ek en Elmanda eet en leef gesonder as die gemiddelde mens, maar tog is daar iets wat my belangstelling aanwakker en ons almal besluit om die boek te koop en deur te werk. Ek het op daardie stadium nie geweet dat ek sélf sal sukkel met gesondheid nie en dat die boek ook vir my op ‘n pad van ontdekking gaan neem nie.

‘Die Daniëlplan’ is geensins ‘n Bybelstudie boek soos wat ons al ooit gelees het nie en ek moet vermeld, dit was nogal ‘n aanpassing om die boek te lees bloot omdat dit totaal anders is as wat ek verwag het. Ek glo egter glad nie in toeval nie en in dieselfde tyd wat ons die boek lees, tref die een terugslag op die volgende my. Ek kry ‘n ernstige infeksie in my mond na ‘n tandekstraksie, ek sukkel met my dikderm en die konstante bestuur en beheer van my spastiese kolon maak my eerlikwaar moeg en depressief, ek kry prostaatinfeksie en bo-op alles, tel ek ‘n ernstige griep op, wat vir meer as 2 weke besluit om by my te kom kuier. Hierdie gebeure laat my diep en ernstig na ons boek kyk en ek besef meteens dat God vir my ‘n duidelike boodskap hierin het: Jou liggaam is ‘n tempel van God, dit is nie daar om te maak net soos jy wil nie.  Dit is ‘n wónderlike geskenk van God en iets om op te pas met alles wat jy het.

Jou liggaam, ‘n tempel van God

1 Korintiërs 6:19-20 – “Of besef julle nie dat julle liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.”

Maar lees hierin tempel en nie afgod nie, want ek vermoed dat massas mense op aarde laasgenoemde eerder uitleef en dit is glad en geheel en al nie die plan wat God met ons het nie. Elke liewe een van ons het ‘n verantwoordelikheid om ons liggame op te pas met alles wat ons het, om dit te bestuur en te beheer met die wete dat dit ‘n geskenk van God is en dat daar ‘n duur pys vir jou betaal is. Ek sien so baie mense wat vasgevang geword het in moderne siektes, wat verslaaf geraak het aan kos, suiker, kafeïen, drank en die ongelooflike houvas wat oorgewig, hul verslawing en die gepaardgaande siektes meebring. Ek sien so baie mense wat vasgevang word in die druk van die lewe, van werk, van gesinne, van finansies, van emosionele probleme en wat daardeur vir seker nie voluit op aarde kan leef nie. Ek glo absoluut vas dat ons nie geskape is om slawe te wees van enige iets op aarde nie, maar bloot dienaars van ons Hemelse Vader. Ek glo vas dat die moderne lewenswyse ons siek maak, dat ons in één generasie mense totaal vasgevang ín en afhanklik geword het van verwerkte kosse, slegte middels soos kleurmiddels, stabiliseerders en preserveermiddels met name wat jy nie eens kan uitspreek nie.  Hierdie middels neem ons op ‘n daaglikse basis in en dan is ons verbaas as ons begin sukkel met ons gesondheid hier in ons middeljare!

My opinie oor die Daniël plan

Terug na ‘Die Daniël plan’ – wat is my opinie van die boek? As jy jou lewe wil verander en ernstig is daaroor, dan is dit dalk nét die boek vir jou. As jy in der waarheid dit sal doen wat Rick Warren voorstel en deur elke element gaan werk en eerlik wees met jouself, dan is dit die boek vir jou. As jy vir ‘n vinnige oplossing soek en ‘n dieet soek wat jou lewe gaan verander, dan is dit definitief nie die boek vir jou nie. Soos een van my vriende vermeld het, as ons nie bereid is om vir 40 dae suiker uit ons lewens te skakel nie, hoekom lees ons die boek? As jy hier lees en jy sukkel met iets wat ‘n houvas het op jou lewe, dan is dit die tyd om iets daaraan te doen en dit af te skud. God moet ons enigste houvas op hierdie lewe wees daarom glo ek dat enige iets wat só ‘n houvas op jou het, jou verhoed om jou doelwit vir jou lewe te bereik en voluit God se stralende, gelukkige kind te wees. Dalk is dit tyd dat jy ‘n goeie dieetkundige gaan sien, dalk is dit tyd dat jy van die bank af opstaan en beheer neem oor jou liggaam, dalk is dit tyd vir jou om jou passie vir die lewe weer te gaan soek en dit voluit na te streef, dalk is dit tyd vir jou om vir God eerlik te vra of jy as kind van Hom op die regte pad is?

Ek daag jou uit: Trap vas en verander jou lewe – detoks jouself van jou eie lewe

Ek daag jou met ander woorde uit om in diep introspeksie te gaan en mooi na jouself te gaan kyk. Gaan kyk na jouself liggaamlik, sielkundig en geestelik en vra jouself af: As Jesus vir ‘n week by jou aan huis in persoon moet bly, sal jy leef soos jy tans doen, sal jy spreek wat jy in jou huis en werk spreek, sal jy eet en drink wat jy daagliks eet en drink en laastens, sal jy vir Hom voorsit elke dag wat jy in jou eie liggaam inprop?

Ek daag jou uit om 2019 jou jaar van verandering te maak en om werklik in alle eerlikheid vir jouself af te vra:  “Is ek op die regte pad, lééf ek soos God beplan het ek moet leef en wat moet ek detoks in my lewe om werklik weer my liggaam ‘n tempel van die God van Hemel en Aarde te maak?

Vorige artikelMevrou Doeminie is haastig en lastig
Volgende artikelVRAAG EN ANTWOORD… Lynette Beer
Blogger - Len Fourie
Len matrikuleer in 1992 te Hoërskool Upington en behaal 5 jaar daarna sy Magistergraad in Stads-en Streeksbeplanning (1997) aan die Universiteit van die Vrystaat. Len begin reeds in 1995 as student werk by Macroplan Stads-en Streeksbeplanners in Upington (dieselfde Firma waar hy permanent aansluit as Stadsbeplanner in opleiding einde 1997), na voltooiing van sy M-Graad studies. Len is bevoorreg genoeg om in 2006 Hoof Stadsbeplanner te word en die Firma Macroplan se bestuur oor te neem. Len het ‘n absolute passie vir sy Hemelse Vader wat hom die gawe gegee het om sy talente in die lewe uit te leef, ‘n groot liefde vir sy geboortedorp Upington, sy gemeenskap en die Noord-Kaap Provinsie in geheel. Die aspekte wat Len se hart vinnig laat klop sluit in enige vorm van toer, verkenning van ‘n nuwe plek, nuwe land, hetsy in Afrika of enige land oorsee, die neem van amateur foto’s en veral die bestudering van die klimaat. Die lewe bid soveel skoonheid en hy wil dit vasvang en dit met mense deel.