Jou man kan jou held wees

0
39
held.jpg

As jy gereeld jou waardering en liefde uitspreek, verander jou ‘vaal’ man, in ’n held!

Vir Charles Stidworthy is daar niks lekkerder as om self in te spring, mure uit te kap, groter vensters in te bou en te sien hoe ’n gewone huis stadig maar seker in die gesin se droomhuis verander nie.

En party middae gaan wys hy (amper soos ’n trotse skoolseun sy eerste houtwerkprojek) sy handewerk vir sy vrou.

Sy stel opreg belang, vra hom uit oor sy vordering en sê “mooi so” as sy iets sien waarvan sy hou. Haar goedkeuring, bewondering en komplimente laat sy hart warm en tevrede klop.

Charles is op die oomblik doodgelukkig om kwaliteittyd saam met sy vrou Patricia en hul twee kinders Sage en Thyme deur te bring so tussendeur die bouery aan hul nuwe plekkie in Pinelands, Kaapstad …

Hy en sy prinses, die Kanadees-gebore Patricia, is reeds agt jaar getroud. “Ek is steeds so verlief,” sê Patricia, wat haar eie modelagentskap besit. “Elke dag bring nuwe avonture en daar is geen ander mens met wie ek my lewe wil deel nie.”

Wil hy die held wees?

Elke man het ’n behoefte aan waardering, al lyk hy soms so tough aan die buitekant, glo dr. Tessa van Wijk, ’n verhoudingskenner.

“Met respek gesê, mans is soos klein seuntjies wat konstant liefde, aandag en bewondering wil hê. Het jy al ’n klein seuntjie gesien wat die eerste keer die rugbybal raakskop. Daardie trotse gevoel.

“Eintlik het almal, mans en vroue, dit nodig, maar mans het dit nodiger. Dit is waar die gesegde “the male ego” vandaan kom,” verduidelik sy.

“Vir my is dit nie ’n negatiewe stelling nie. As jou man jou held is, is dit so maklik om hom te bewonder, te bemoedig en te waardeer. Maar as jy hom as ’n swakkeling sien, dink ek dit moet baie moeilik wees om dit te doen.”

Het Charles ook hierdie klein seuntjie behoefte aan bewondering? “Maar natuurlik, ek dink almal het,” sê sy vrou. “Hy dra beslis nog die ou mantel van die man wat na sy gesin omsien en hy wys dit in alles wat hy doen. Of dit nou die bouwerk is of om die kinders by die skool te gaan oplaai, hy hou daarvan om oral betrokke te wees. Nie om enigiets te bewys nie, dis maar net hoe hy is. En dis maklik om hom te bewonder.”

Wil jy ’n held hê?

En al het sy ’n suksesvolle praktyk, met goeie kwalifikasies en ’n goeie inkomste, maak Tessa self seker dat haar man haar held bly. “Ons vroue probeer so hard om iets te bewys, dat ons onsself soms uit vrouwees uit werk en baklei,” waarsku sy.

Die probleem kom wanneer die vrou die man wil beheer. “Dan ontman ons hulle en hulle word net swakker en hardloop na ’n ander vrou, na die werk of elders vir erkenning. Hoe meer jy jou man ondersteun, bewonder en liefde gee, hoe meer kry jy natuurlik terug by hom,” meen sy.

“Vir haar is dit die lekkerste ding op aarde as haar man die verantwoordelikheid neem en haar versorg en beskerm. “Dit is vir my wonderlik as my man die deur vir

my oopmaak en my saggies soos ’n prinses behandel. Ek voel sommer meer sexy.

“Dit versterk my vrouwees en daar is niks so mooi soos ’n sagte, versorgde, dinamiese, suksesvolle vrou wat haar man bewonder nie (en ook deur hom bewonder word nie).”

Vir Patricia is dit lekker om woorde van waardering en bewondering te gee én te ontvang.

“Jy weet dat jy iets reg doen as jy dit kry en jy kan trots wees daarop. Maar terselfdertyd moet jy nie daarvan afhanklik wees om dit gedurig by iemand anders te hoor nie. Geniet dit net wanneer dit na jou toe kom,” sê sy.

Vind die held in jouself

Patricia glo daarin om van binne en buite na haarself om te sien sodat sy Charles se prinses kan bly. “As jy goed voel oor jouself, wys dit,” sê sy.

“My vrou is baie mooi en ek sê dit ook gereeld vir haar,” bevestig Charles. “Vir my is dit belangrik dat sy moet goed voel oor haarself, want as sy gelukkig is, is ek gelukkig.”

Tessa sluit hierby aan: “Eers wanneer jy die skoonheid van God se skeppingswerk binne-in jouself ontdek het, kan jy die skoonheid van God se skeppingswerk in jou maat sien.

Tessa glo as ons net anders kan begin kyk na ons maats – met meer bewondering – dan is dit makliker om die ander een te koester.

“Ek sê altyd vir die paartjie met wie ek werk: ‘Jy moet elke oggend opstaan en dink wat kan ek vandag doen om vir my maat te sê of wys hoe mal ek oor hom of haar is. As jy met daardie houding begin, sal die res net volg.’”

Patricia sê graag vir haar man: “Jy is die perfekte man om enige huis ’n tuiste te maak.”

Dit laat Charles breëbors glimlag, reg om enige draak vir sy prinses te verslaan (en hy sal selfs skottelgoed was as dit moet)!