Jóú idees kleur jou opinie van hom

299
Wat mans dink

As jou hart nie voorberei is om jou man te aanvaar net soos hy is nie, sal al jou kennis oor manwees niks help nie.

Jou man se andersheid mag dalk voor die troudag oulik wees, maar dis dikwels dieselfde dinge wat jou ná die troue teleurstel, irriteer, ontstel en selfs woedend maak. En dit hoort ook so. Dis deel van die proses om ’n goeie huwelik te bou.

Dis normaal om vies te raak vir sy eiesoortigheid

Daar kan verwag word dat elke vrou op die een of ander tyd sal sê: “’n Mens sal mans nooit kan verstaan nie!”

Die feit dat jy hom so beleef, is nie die probleem nie. Die probleem ontstaan wanneer die proses waardeur julle andersoortigheid in ’n nuwe eenheid ingebou moet word, ontspoor.

Later begin dit lyk asof die probleem heel eenvoudig is: jou man.

Jou hele hart skreeu dit uit: Hy is die probleem! As hy my net in ag wil neem! As hy net minder vreemd wil optree! As hy net kon verander!

Jy begin voel dat jou lewe deur sy andersheid oorheers word en dat jy magteloos is om iets daaraan te doen. Dan word sy optrede en hierdie gevoel van magteloosheid die oorsprong van jou woede. En later veroorsaak dit die vervreemding wat in julle verhouding insluip.

Dit hang af hoe jy na jou man kyk

Hoe jy jou man beleef, word ook bepaal deur hoe jy na hom kyk. Die bril waardeur jy sy optrede waarneem, veroorsaak dikwels dat sy andersheid negatief beleef word.

Dan is dit jou eie bydrae tot die situasie wat die teleurstelling en pyn groter maak. Dit gebeur sonder dat jy dit bewustelik doen of besef dat dit gebeur.

Daarom is dit nie genoeg om meer inligting oor mans te soek nie. Of te probeer ontrafel hoe hulle harte en koppe werk nie.

Dis nodig dat daar in jou hart ruimte moet wees vir die uniekheid van jou man. As jy nie ingestel is daarop om hom te aanvaar soos hy werklik is nie, sal kennis oor manwees jou niks baat nie.

Sodra ’n mens verstaan hoe jou eie behoeftes, verwagtings en ideale jou ervaring van jou maat kleur, sal dit jou vrymaak. Jy sal gemakliker met hom begin saamleef. Dit sal jou help om te sien watter dinge jy alleen en watter dinge julle saam moet uitwerk.

Neem die inisiatief om hom beter te verstaan

Jy moet nugter kyk na die werklike verskille tussen julle – as verskillende mense, en as man en vrou. Hierdie is ’n proses wat soms sterk emosies gaan wakker maak. Jy gaan voel dat jy wéér die enigste een is wat aan die probleem moet werk.

Tog gaan dit nie oor wie die skuldige en wie die verontregte een is nie. Dit beteken nie dat jy nou al weer moet verander, al weer moet toegee, al weer die minste moet wees nie.

Dit beteken bloot dat jy jouself moet leer ken en verantwoordelikheid moet aanvaar vir jou eie bydrae tot die situasie.

Dit sal help om jouself te sien soos jy is en funksioneer – ook in julle huweliksverhouding. Maar dit sal ook help om jou lewensmaat te sien soos hy is en funksioneer.

Eers dan sal daar groter begrip wees vir sy uniekheid. En sal dit makliker raak om maniere te vind om daaroor te gesels en op ’n genesende manier vrede daarmee te maak.