Jou pen, jou swaard…

Ek het onlangs bokse vol joernale ontdek wat ek as kind geskryf het.

Elke joernaal gevul met stories van lag, soms hartseer stories maar meer belangrik was al my drome en ideale vir die toekoms wat ek neergepen het. Soos wat ek begin lees het, het ek agtergekom hoeveel van my drome al bewaarheid is en hoeveel van my ideale ek huidiglik uitleef. Woorde het soveel skeppingsvermoeë.

Ongeveer vyf jaar gelede het ek vir my huweliksmaat, toe nog my kêrel, briewe begin skryf. Dit is seker maar iets wat die romantiese rolprent “The Notebook” in my wakker gemaak het. Ek wou ons allerdaagse en avontuurlistige lewe iewers, vir altyd, in pen vasvang. Die briewe aan my liewe man was ook om dankie te sê vir die wonderlike mens wat hy is. Hoe meer ek begin skryf het, hoe meer gereeld wou ek skryf en die dankbaarheid in my hart teenoor my geliefde man het net toegeneem. Nie net het dit my lewe verander nie maar ook het my huweliksmaat met nuwe oë na my begin kyk en op meer kreatiewe wyses sy waardering aan my begin betoon.

Jou woorde bou en breek af. Dis ‘n magtige wapen. God het die aarde en alles daarin geskape deur ‘n woord te spreek. Onthou my liewe vriendin, jy is na die beeld van God geskape. Sy lewende Gees is in jou en werk deur jou. Die woorde wat jy spreek sal tot vervulling kom.

Kies vandag woorde van dankbaarheid en liefde. Al is daar geen rede om liefde te betoon nie. Al voel jy afgeskeep en of niemand jou raaksien of waardeer nie. Gaan soek in jou hart woorde van dankbaarheid en liefde. Skryf dit! Spreek dit! Jou woorde dra onmeetbare krag. Ek daag jou uit!