Jou siel hou Hy tussen jou ribbes vas

Ek hoor vanoggend weer die Griekwa Psalm 121, en die eenvoud en opregtheid van hierdie Psalm het my weer laat besef hoe elkeen die Here persoonlik ervaar en hoe Hy ons elkeen besonders liefhet.

Ek slat my twee oge op.
My kyk vang die verste kop:
waavanaf sal my hulp nou kom?
My hulp is van die Jirre, van Hom.
Hy’t nou jimmel en Prieska gekom maak.
Sonner lat jou voete klipperse raak,
is Hy skoene agterrie skaap.
Hy dink nooit eers oor slaap.
Sontyd is Hy hoed op jou kop,
Innie nag hou Hy gevaarlikheid dop.
Hy’s mos nou da om jou op te pas.
Jou siel hou Hy tussen jou ribbes vas.
Gan jy nou in of gan jy nou yt.
Hy’s oor jou ewig en vir altyd.

Daar is iets wonderliks wat in jou wese gebeur wanneer jy jou hele hart vir die Here gee. Ek kan voel hoe Hy my siel tussen my ribbes vashou, hoe Hy elke dag by my is en nooit laat gaan nie (selfs ook in tye waar ek afgemat voel, weet ek Hy hou my vas).

Mag jy vandag hierdie Griekwa Psalm jou eie maak, mag jy voel hoe die Here jou hulp is. Mag Hy vandag die hoed op jou kop wees. Mag Hy die gevaar dophou (en weghou). Mag jy vandag voel hoe Hy jou siel tussen jou ribbes vashou. Maar bo dit alles, mag jy vandag besef, en voel, dat Hy altyd en ewig oor jou is.

Seënwense,
Stephanie