Jou sonbril: meer skade as goed

0
12
sonbril.jpg

Baie mense glo dat enige sonbril beter is as geen sonbril nie. Jy moet tog jou oë beskerm … of hoe?

“Met die regte sonbril kan jy die skade wat die son aan jou oë veroorsaak voorkom.”

Michael Visagie is ’n optometris van Kaapstad

Michael_Visagie.jpgSuid-Afrikaners behoort beslis sonbrille te dra – sommer van jongs af – om die skade wat deur die son aan jou oë gedoen kan word, te beperk. Ultravioletstrale word geklassifiseer volgens die hoeveelheid energie wat dit besit: hoe meer energie, hoe skadeliker. Daar is drie klasse: UVA, UVB en UVC. Laasgenoemde is die skadelikste, maar die aarde se osoonlaag absorbeer hierdie strale. Die ander twee dring egter ons atmosfeer binne en daarom moet jou oë daarteen beskerm word.

Ultravioletstrale is egter nie die enigste skadelike uitstraling nie. Daar is vasgestel dat infrarooistrale ook ’n groot rol speel in die ontstaan van katarakte en pterigiums (’n vlies wat oor die kornea groei). Skade aan die retina, soos makulêre degenerasie, kan ook deur langdurige blootstelling aan sonstrale veroorsaak of vererger word. Dan is daar ook die gevaar van velkanker van die ooglede en omliggende areas. Om hierdie skade die beste te beperk, moet jy ’n goeie sonbril dra.

Wat is ’n goeie sonbril? Dit is ’n bril met behandelde lense en ’n goeie raam. Die lense van ’n goeie sonbril word bedek met ’n laag wat UVA- en UVB-strale absorbeer. Hierdie beskerming beteken egter nie veel as die lense nie voor jou oë gehou word nie! Daarom is ’n goeie raam net so belangrik. Die raam moet stewig en goed afgewerk wees. ’n Sonbril se prys is dikwels ’n goeie aanduiding van die kwaliteit, hoewel die duurste nie noodwendig die beste is nie. Koop jou sonbril by ’n verskaffer met ’n goeie reputasie en maak seker dat dit UVA- en UVB-beskerming bied. Sommige oogkundiges het UV-meters waarmee die lense getoets kan word, maar hierdie apparaat is skaars.

Sekere sonbrille se lense is ook gepolariseerd. Dit beteken dat net die vertikaal gepolariseerde lig deurgelaat word, terwyl die horisontale komponent, wat glans veroorsaak, geblokkeer word. Dit is veral voordelig vir mense wat watersport beoefen, omdat dit die skittering van die weerkaatste lig uitskakel. Interessant genoeg, is die meeste vliegtuie se vensters gepolariseerd; daarom moet vlieëniers verkieslik nie gepolariseerde sonbrille dra nie. Die dubbele blokkering laat te min lig deur en kan die vlieënier se visie beïnvloed.

“Met ʼn swak sonbril veroorsaak jy meer skade aan jou oë as wanneer jy geen sonbril dra nie.”

Dr. Cobus du Plessis is ’n kliniese assistent in oftalmologie by die Universiteit van die Vrystaat

cobus_du_plessis.jpgAs dit donker is, vergroot jou oog se kyker (pupil) sodat meer lig jou oog kan binnegaan om beter te kan sien. Dieselfde gebeur wanneer jy ’n sonbril dra, omdat jou oog dit as “donkerder” ervaar. Dit is op sigself nie ’n probleem nie, maar as die sonbril die UVA- en UVB-strale asook blou lig glad nie of onvoldoende filtreer, bereik baie meer van hierdie skadelike strale die binnekant van die oog deur die vergrote kyker. Skadelike strale bereik dan ook die kornea en konjunktiva (buitenste voorste lae van die oog).

Vir optimale beskerming behoort ’n sonbril ook HES (hoë energie sigbare) ligstrale of “blou lig” te filtreer, maar nie 100 persent nie, want dit lei tot “blou kleurblindheid” wanneer die bril gedra word. Dit kan gevaarlik wees, byvoorbeeld in sekere werksomstandighede of in padverkeer. Brons- of koperkleurige of rooibruin lense filtreer blou lig die beste.

Die son is nie jou vyand nie, mits jy die nodige voorsorg tref. Moet nooit direk in die son inkyk nie. Selfs die beste sonbril kan jou nie genoegsaam beskerm teen die skadelike effek van direkte sonlig nie. Wolke blokkeer nie UV-strale nie. Dieselfde hoeveelheid ultravioletlig bereik die aardoppervlak op ’n bewolkte dag as op ’n sonskyndag. Kinders is veral kwesbaar vir sonskade aan die oë aangesien hulle baie meer tyd buite deurbring as volwassenes. Ouers moet veral daarop let om nie goedkoop “speelgoed”-sonbrille vir kinders te koop nie. Hierdie brille bied geen beskerming nie, en soos reeds verduidelik, kan dit eerder skade veroorsaak.

Sonlig is ’n natuurlike antidepressant, aangesien dit ’n belangrike rol speel in die beheer van melanienproduksie. Seisoenale depressie kom veral in die Poolstreke voor, waar daar min sonlig in die wintermaande is. Hierdie bevinding het daartoe gelei dat sommige navorsers meen dat die langdurige en gereelde dra van ʼn sonbril ’n rol mag speel in depressie en slaapversteurings.

Raadpleeg gerus ’n oogkundige wanneer jy besluit om ’n sonbril te koop, en bly eerder weg van straathandelaars wat goedkoop sonbrille verkoop. ’n Swak sonbril skep die vals indruk dat die oë beskerm word. Meer skade word waarskynlik opgedoen met ’n swak sonbril as met geen sonbril.