Jou spaarplan vir elke dekade

0
294
spaarplan.jpg

Hoe om te spaar in jou 30’s

Baie vroue begin in hulle 30’s met ’n gesin. Dis gewoonlik die tyd wanneer jy jou troue moet afbetaal en ’n huis koop. As jy in hierdie tyd jou finansies reg bestuur, kan jy jouself baie hoofpyn (en geld!) in die toekoms spaar.

VUL JOU SPAARGELD AAN Jy het waarskynlik al van jou spaargeld gebruik om jou studielenings af te betaal, vir jou troue op te dok en ’n huis te koop. Moenie ophou spaar omdat alles afbetaal is nie. Sit elke maand geld opsy sodat jy die spaargeld wat jy reeds gebruik het, kan vervang.

KRY ’N UITTREDINGSANNUÏTEITSFONDS As jy nog nie een het nie, kontak ’n finansiële raadgewer. Hoe gouer jy begin voorsiening maak vir jou oudag, hoe beter.

BESKERM JOU INKOMSTE Die wankelende ekonomie maak baie mense onseker oor hulle werk. Of wat gaan gebeur as jy in ’n ongeluk kom en moet ophou werk? Sonder ’n inkomste kan jy nie jou skuld afbetaal, vir jou toekoms spaar of vir jou kinders sorg nie. Dis ’n goeie idee om versekering uit te neem om jou inkomste te beskerm.

SORG VIR JOU GESIN As iets met jou gebeur, los jy jou man dalk met hope skuld. Of wat as iets met hom gebeur? As julle lewensversekering het, hoef dit nie ’n bekommernis te wees nie, want dan is julle uitgawes gedek.

BEGIN SPAAR VIR JOU KINDERS SE STUDIES Jou aftreefonds moet jou prioriteit wees, maar as jy dit kan bekostig, begin vir elkeen van jou kinders ’n studiefonds van hulle geboorte af. Sodoende kan jy ook vir hulle die beste geleenthede verseker.

Kinders en skool – spaar só in jou 40’s

In jou veertigs is jou kinders ouer en hulle skoolkostes vermeerder waarskynlik. Jou kans vir ’n bevordering en ’n verhoging is ook groter omdat jy nou meer werkservaring het.

MOENIE OORSPANDEER NIE Dis lekker om geld te hê, maar dink eers voor jy geld op onnodige goed soos duur vakansies uitgee. As jy nou spaar, verseker jy vir jouself ’n beter aftrede en genoeg geld om jou te onderhou.

BEPLAN VIR JOU 50’S As jy ’n groter huis wil koop, maak seker dat jy dit kan afbetaal teen die tyd dat jy 55 jaar oud is. Jy wil nie met skuld sit wanneer jy aftree, of moet aanhou werk om jou skuld te delg nie.

HEREVALUEER JOU AFTREDEPLAN Maak seker dat jy nog op koers is en genoeg spaar vir jou aftrede. As jy ’n verhoging kry, pas die bedrag aan wat jy aan jou pensioenfonds betaal.

[pagebreak]

Aftrede kom al nader in jou 50’s

Teen hierdie tyd is jou kinders op universiteit en beweeg jy nader aan aftrede. Jy het nog ’n paar jaar oor om te werk en te spaar.

• BETAAL JOU SKULD AF Jy moes nou jy al die meeste van jou skuld afbetaal het en ook ander bates bymekaar gemaak het. Betaal alle orige skuld af om te verseker dat jy nie hoef aan te hou werk nie.

KYK NA JOU LEWENSOMSTANDIGHEDE As jy geskei is of as jy ’n weduwee is, kan dit ’n uitwerking op jou finansies hê. Dis nou die tyd om dit te hanteer en jou beplanning aan te pas.

Jou goue jare is hier – 60 en op

Jy het reeds afgetree of jy is naby aan aftrede. Jou aftreefondse moet jou vir ’n baie lang tydperk kan onderhou. As jy op 65 aftree en jy word 90 jaar oud, het jy 25 jaar se geld nodig. As jy nie genoeg geld gespaar het nie, sal dit beteken dat jy jou leefstyl moet afskaal.

• NA-AFTREDEBEPLANNING Jy kan jou spaargeld belê sodat dit steeds aanhou groei. Kies egter konserwatiewe beleggings met min risiko.

• KYK NA JOU LEEFSTYL Jou kinders is waarskynlik uit die huis uit en jy het nie meer so ’n groot huis nodig nie. Dis nou die perfekte tyd om iets kleiner te kry. Jy sal ekstra geld in jou sak hê na die verkoop van jou huis.

• ’N NUWE BEROEP Niemand wil hulle tot hulle oudag doodwerk in ’n beroep waarvan hulle nie hou nie. Dis nou die ideale tyd om met iets nuuts en opwindend te begin en sommer ook ’n inkomste te verdien. As jy van bak hou, kan jy dalk beskuit begin verkoop, of bestuur ’n galery as jy nog altyd lief was vir kuns.

Aftrede is nie so ver as wat jy dink nie. Voor jy jou kom kry, staan dit voor jou deur. Gaan jy een van die 6% wees wat gemaklik kan aftree? Begin vandag beplan en maak seker dat jou ouer jare werklik jou goue jare is.