Jou vriende kan jou só vetmaak

0
76
soetgoed.jpg

Jou plan is om net saam met jou vriendin te gaan koffie drink, maar dan vergryp jy jou aan koek!

Ons ken die verskonings: “Een stukkie sal nie saak maak nie.” “Dis ’n spesiale geleentheid.” “Van môre af sal ek gesonder eet.” Dr. David L. Katz, skrywer van The Way to Eat, sê die meeste mense wat probeer verslank, sal die een of ander tyd ’n struikelblok moet oorkom. Dit is dikwels in die persoon van ’n vriendin, kollega of familielid wat nie alleen wil smul nie. Ons gee raad oor hoe om die versoeking te weerstaan sonder om iemand aanstoot te gee.

Wanneer jy Sondagmiddag by die skoonouers eet

Jou skoonma is trots op haar melktert, en om daarvoor te bedank is om haar bekwaamheid as bakster te beledig.
LOS DIT SÓ OP: Hier moet jy jou man kan staan. Dit help ook om voor die tyd te laat weet dat jy op ’n dieet is. Dan sal sy nie aanstoot neem as sy al die kos gemaak het, maar jy eet net ’n klein bietjie nie. Moenie spesiale versoeke rig nie; jy sal seker die vleis, groente en slaai kan eet. Dit mag die toekomstige skoondogter-skoonma-verhouding versuur as jy van haar verwag om ’n spesiale maaltyd net vir jou voor te berei. Jy kan selfs ’n bedekte kompliment voor die tyd laat val. “Ma weet hoe lief ek vir daardie melktert is, Ma moet dit liewers ver wegsteek as ons kom kuier.”

’n Vriendin verjaar en hou ’n middagtee

Sy word 40 en het jou en ’n klomp vriendinne oorgenooi vir koek en tee. Ongelukkig kan jy omtrent niks op die koektafel eet nie.
LOS DIT SÓ OP: Vertel vir ’n goeie vriendin van jou penarie. Goeie vriendinne sal jou ondersteun. As sy jou probeer manipuleer of jou dieet saboteer, moet jy jou afvra of daar nie onderliggende gevoelens van jaloesie is nie. Jy kan dit selfs makliker maak deur iets te bring wat jy mag eet, soos ’n korslose quiche of volgraanmuffins. Hou ook ’n houertjie versoeter in jou handsak, ingeval daar net suiker by die koffie is.

Drankies na werk saam met jou kollegas

Dis nie soseer die drankies wat jy mis nie. Daar word gewoonlik genetwerk en lekker gesels en gelag oor alles wat in die kantoor skeefloop. Dit gaan egter gepaard met ’n glas wyn of skemerkelkie en hope grondbone en aartappelskyfies.
LOS DIT SÓ OP: Jy hoef nie alkoholiese drankies te drink nie. Vra vir die kroegman om jou skemerkelkie in ’n virgin-weergawe te maak, dit beteken sonder alkohol. Alkohol is leë kilojoules en maak jou in elk geval net lus vir vetterige kos. Die beste keuse is natuurlik ’n glas vonkelwater met suurlemoen en vars kruisement. Onthou, al het ’n mengeldrankie geen alkohol in nie, is die meeste propvol suiker. Die ander alternatief is om droë witwyn met sodawater en ys te meng. Sodoende kan jy die helfte van die kilojoules uitskakel.