Jou woorde vorm jou kind

4525
Lizanne du Plessis

Wat kinders nodig het om hulle volle potensiaal te bereik, is wortels en vlerke – die een sal hulle anker en die ander sal hulle vrymaak.

Wortels hou ’n plantjie geanker in die grond en neem die nodige water en voedingstowwe op om die plant te laat groei. Die lewenswortels wat ons vir ons kinders gee om te floreer is liefde en koestering. Vlerke is die selfvertroue wat maak dat hulle nuwe dinge probeer en opstaan as hulle misluk.

Bemoedigende woorde as hy misluk, bou karakter

Om seker te maak jou kroos het “geankerde wortels” en “vlerke wat kan sprei”, moet hulle veilig voel sodat hulle kan groei en ontwikkel soos die plantjie wat in die regte grond en klimaat floreer.

Ons moet hulle nie net vashou, druk en fisiek versorg nie, ons woorde moet ook gevul wees met liefde en genade. Dis belangrik om te hoor: “Jy is genoeg”, “Jy is uniek”, “Jy is geliefd” of “Jou idees is waardevol.” Lof vir die A’s op die rapport, of om in die A-span te wees is natuurlik prysenswaardig, maar dis nie noodwendig wat karakter bou nie.

Opbouende woorde is soos die voedingstowwe in die grond: “Mamma is trots op jou. Jy het hard probeer.” “Jy het aangehou selfs al was jy gefrustreerd en moedeloos.” Prys die proses, eerder as die produk of resultaat. Loof karakter eerder as prestasies.

Gee hom kans om te misluk en weer te probeer

Onthou die volgende as jy jou kind vlerke wil gee vir die lewe: Babavoëltjies leer met verloop van tyd om te vlieg. Dit is ’n proses. Die voëltjie moet eers groei en leer om sy vlerkies te klap. Op ’n dag sal hy sterk en groot genoeg wees om uit die nes te vlieg.

Net so moet ons ons kinders kans gee om dinge self te probeer, te oefen en sterk te word voordat ons hulle aan die genade oorlaat. Dis daardie fyn balans tussen te veel en te min beheer.

’n Helikopter-ouerskapstyl wat alles wil beheer en ten alle koste mislukking wil voorkom, baat geen kind nie. Net so sal ’n afwesige of laat-enige-iets-maar-gaan-ouerskapstyl – wat té veel keuses gee, té min grense en reëls het – veroorsaak dat kinders nie geleer word om op jou eie voete te staan nie.

Staan langs die klimraam en laat jou kind self opklim. Jy is daar om hom te vang as hy val, maar laat hom self probeer. Laat hom die toebroodjies smeer, self sy sak pak, self die toespraak skryf, of die tegnologietaak doen. As daar iets is wat jy weet jou kind onafhanklik kan doen, moet dit nie vir hom doen nie.

Bou selfvertroue, maar lê klem op ’n nederige hart

Ons kinders se sogenaamde vlerke moet sterk genoeg wees om hulle te dra sodat die winde en storms van die lewe hulle nie van koers af sal waai nie. Dit moet egter nie so sterk wees dat hulle alles wat oor hulle pad kom, verwoes nie.

Daar is ’n verskil tussen selfversekerdheid en om in jou eie vermoëns te glo, en astrantheid. Onsekerheid aan die ander kant, kan jou kind keer om nuwe dinge te probeer omdat hulle bang is vir mislukking.

Wat ons kinders nodig het, meer as ooit tevore in hierdie moderne eeu, is wortels wat sterk geanker is in die wete dat hulle goed genoeg is. En daarmee saam vlerke sodat hulle met selfvertroue die wye wêreld tegemoet kan gaan.

Lizanne du Plessis, Ouerleiding, kinderontwikkeling en -terapie

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Lizanne.