Justin Bieber se ego

0
29
Justin_bieber.png

Justin Bieber, die tienersensasie van Kanada, het ‘n groot klomp mense die herrie ingejaag. Hy het die bekende Anne Frank-huis in Nederland besoek, en toe in die gasteboek geskryf dat hy hoop dat Anne Frank ‘n aanhanger van hom sou wees. Anne Frank is as 15-jarige meisie in ‘n konsentrasiekamp van die Nazi’s oorlede. Richard Freedman, die direkteur van die Holocaust & Genocide Foundation in Suid-Afrika, reken dat Bieber se inskrywing in die dagboek wys dat hy onvolwasse is en dat hy net behep is met homself. Iemand anders het op Facebook geskryf: “Hoe kry hy dit reg om oor sy eie roem en sukses te dink terwyl hy ’n historiese plek van sulke tragedie en onreg besoek?”

Ek dink ook dit is baie swak smaak om in so ‘n plek te staan en dan te wonder of hierdie meisie wat onder haglike omstandighede geleef het, darem ook ‘n aanhanger van jou sou gewees het. Dit is seker een van die grootste probleme waarmee ons in ons tyd worstel, naamlik die neiging by mense om net aan hulself te dink. ‘n Mens sien dit in padgebruikers se padmaniere. ‘n Mens sien dit ook as jy in ‘n tou by ‘n winkel of in die poskantoor moet staan. Maar ‘n mens kom dit ook gou agter as jy luister na mense se gesprekke. Soveel van die gesprekke gaan net oor jouself en jou eie prestasies of jou eie begeertes en jou eie belange.

Filippense 2:4 sê: Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.
Dit is nie net Bieber wat sukkel om weg van homself te kyk nie. Eintlik is dit maar ‘n natuurlike neiging by ons almal. Daarom moet ‘n mens ‘n spesiale poging aanwend om eerder te fokus op ander.