Jy en jou man is ’n span

0
203
getroud.jpg

In ’n huwelik is dit belangrik dat man en vrou aan dieselfde kant moet wees. Hier is 3 stappe nader aan mekaar.

As twee mense in ’n verhouding heeltyd téén mekaar en nie sáám met mekaar werk nie, gaan julle verloorders teen die res van die wêreld wees.

Beantwoord die volgende vrae vir jouself:

  • As jy aan jou huwelik dink, dink jy meer aan “ek” as aan “ons”?
  • Voel dit heeltyd of julle boekhou om te sien wie doen die meeste werk?
  • Het jy nie die vrymoedigheid om jou man van ’n probleem te vertel nie, want jy voel dat hy jou nie gaan ondersteun nie?
     

Strategie 1: Wees ook in slegte tye daar vir mekaar

“Deur dik en dun” is ’n Afrikaanse ekwivalent vir die Engelse uitdrukking “for better, for worse”. Of soos ons soms grappenderwys sê: “Vir botter of vir wors.” Om altyd iemand te hê wat jou sal bystaan, maak nie saak wat gebeur nie, is een van die groot redes waarom mense trou. Om by mekaar se besluite te staan selfs al stem jy nie daarmee saam nie. En as een van julle ’n fout maak … wie van ons is immers perfek?

“Twee koppe is beter as een,” is nog ’n wysheid wat in ’n Afrikaanse idioom vervat is. ’n Essensiële deel van ondersteuning is om gemaklik te voel daaroor om met jou maat oor jou probleme te praat. Deur jou moeilikhede te deel, wys jy vir hom dat jy vertroue het in sy vermoë om jou te help en te ondersteun.

Wanneer julle probleme saam aanpak, word die band tussen julle sterker. As jy die afgelope tyd gekies het om nie jou probleme met jou man te deel nie, het die tyd aangebreek om hom te vertrou. So gee jy hom ook die kans om daar te wees vir jou.

Strategie 2: Beskou jou maat se drome as net so belangrik soos joune

Die liefde gaan nie net daaroor om mekaar se prestasies te vier nie, maar ook om mekaar aan te moedig in die drome wat die ander een vir hom- of haarself koester. Trouens, sy doelwitte moet net so belangrik soos joune wees. Wanneer twee mense saamwerk om hulle drome te verwesenslik, gaan dit soveel vinniger bereik word.

As een van julle byvoorbeeld sukkel met gewig en oefening, moet die ander een ook bereid wees om gesonder te eet en tyd te maak om te oefen ter wille van die goeie funksionering van die span.

Dit beteken ook dat jy jou maat sal help om sy persoonlike stokperdjies en belangstellings uit te leef deur soms opofferings te maak en van sy take oor te neem. Byvoorbeeld: “Ek sal die kinders swemles toe vat, dan kan jy ’n bietjie gaan gholf speel.” Of: “Ek sal Donderdag direk na werk huis toe kom sodat jy na jou boekklub toe kan gaan.”

’n Goue reël: Met elke besluit wat jy neem, dink die volgende: Gaan hierdie aksie tot voordeel of nadeel van ons huwelik wees? Gaan dit my en my wederhelf se drome vir onsself en mekaar bevorder?

Strategie 3: Wees ook ’n span wanneer dit by geldsake kom

Geldsake is een van die groot redes waarom huwelike skipbreuk ly. Veral wanneer ons finansieel swaarkry, is ons geneig om boek te hou van mekaar se uitgawes. Om te keer dat finansies ’n wig tussen julle indryf, moet julle ook saamwerk wanneer dit by geld kom.

Maak dit regtig saak as een van julle meer as die ander een verdien? Sit julle geld saam in plaas van om verskillende bankrekenings te hê. Nie net kan julle meer drome waarmaak nie, maar dit wys ook dat daar respek is vir die ander persoon se finansiële bydrae, selfs al is dit klein. Julle moet eenders dink oor geldsake en saam ’n begroting opstel.

As jou maat nie by die begroting hou nie, kan dit natuurlik groot frustrasie veroorsaak. Indien dit die geval is, is dit nodig om hom terug te neem na die finansiële plan waarop julle saam besluit het. As dit steeds nie help nie, is dit ’n goeie idee om saam ’n finansiële adviseur te gaan raadpleeg. Hy of sy het miskien ’n oplossing, soos om ’n spaarrekening oop te maak waaruit julle slegs geld kan onttrek as julle albei daarvoor geteken het.

’n Gebalanseerde huwelik is een waarin twee unieke individue dit regkry om as ’n span te funksioneer en mekaar te ondersteun. Spring sommer vandag nog weg met hierdie wenresep.

FORUM:
Het dit al gebeur dat skoonfamilie jou en jou man tot op die rand van egskeiding gedryf het? Hoe het julle dit hanteer? Deel jou opinie.