Jy is gemaak om op water te loop

Daar is niks ordinêr aan jou nie! Jy is buitengewoon en jy moet dit elke dag ten volle uitleef.

Daar is ‘n wonderwerk in hierdie dag wat net op jou wag om daardie eerste tree op die water te gee.  Wanneer ons uitstap in gehoorsaamheid en geloof, gee die Here aan ons bonatuurlike guns.

Net soos Petrus het ons ook ‘n keuse om in die boot te bly of uit te stap op die water. Ons kan luister na die leuens van die duiwel, daardie naïewe of kritiese stem in ons kop, of ons kan kies om op die Here te vertrou.

Die naïewe stem van die vyand, sal jou altyd dryf met eiegeregtigheid en selfregverdiging, wat jou in dwaasheid laat optree. Net so is die kritiese stem ook ‘n groot hindernis om teen te waak, aangesien dit ons kop vul met negatiwiteit, emosionele aftakeling en pessimisme. Beide hierdie stemme moet gevange geneem word om dit aan Christus gehoorsaam te maak.

Die wonderlike ding van geloof is dat dit ons in ‘n ruimte plaas waar ons in Hom leef, beweeg en ons totale bestaan het en soos in Jesaja 26:3 geskryf staan, wanneer ons in gehoorsaamheid optree en op die Here vertrou, sal Hy aan ons voorspoed en vrede gee.

In die boot mag jy dalk veilig voel, maar dit is op die water waar jy vervuldheid ervaar. In die boot mag dinge dalk makliker wees, maar op die water is alles moontlik. In die boot kan jy dalk sukses bereik, maar op die water is waar jy onderskei word van die res en waarlik merkwaardig uitstaan.

Daarom moenie bang wees om nuwe uitdagings aan te pak nie. Moenie besluite neem wanneer jou geloof uit fokus is nie. Moenie ander se opinies toelaat om jou te definieer nie. Moenie jou oë op jou omstandighede hou nie.

Leer uit elke uitdaging, groei en word ‘n dieper, sterker jy. Wees gevul met die Woord en die Heilige Gees en laat dit jou slyp. Moenie kyk na jou omstandighede vir wat dit is nie, maar vir alles wat dit kan wees in en deur Jesus Christus.