Jy is so jonk as wat JY DINK JY IS!

jonger

Al hoe meer mense noem jou “tannie”. Gelukkig is ouderdom net ’n getal en is vyftig die nuwe dertig. Ons help jou om jou kop reg te hou sodat jy positief oud sal word.

Die wêreld verander vinnig en daarom durf ons nie stagneer nie. Nooit nie. Ons moet energiek, betrokke en produktief bly.

Moeë, oudmodiese denke is tot nou toe as ’n onvermydelike deel van ouer word beskou. Nie meer nie! Verby is die dae van op die stoep sit en fisies en verstandelik agteruitgaan.

Party tagtigjariges kry grade, ander neem aan marathons deel en ’n groot aantal maak nog hulle merk in die samelewing.

Wie het in elk geval gesê die lewe het ’n sperdatum? Dis tyd om die ouderdomsbeperkings te ignoreer wat jy vir jouself gestel het. Dink eerder aan hierdie fase as ’n voorreg en ’n seën.

Om mooi oud te word beteken nie meer Botox en vullers nie. ’n “Jong” brein is die beste teenmiddel. Om met grasie oud te word het nou ’n heel ander betekenis as voorheen.

Jy is dalk begaan oor die paar grys hare of plooie wat bygekom het. Dit is egter die onopvallende, geleidelike agteruitgang van veral jou denke wat die probleem is.

Dit is nooit te laat om jou denke ’n verjongingskuur te gee en daardie vonkie van lewenslus en jeugdige energie aan te blaas nie.

Oudword begin in jou kop. Deur jou kop reg te hou, kan jy ’n vervulde, suksesvolle en gelukkige vrou wees.

Dit sal die lewe op talle terreine beter maak. Hoe klink tonne meer pret en meer avontuurlus? ’n Gelukkige jy sal ook beter met die familie klaarkom, saam met die kleinkinders chill en nuwe vriende maak.

By die werk sal jy meer kreatief wees en verandering makliker hanteer. Jou kollegas sal jou sien as ’n entoesiastiese, energieke ouer vrou, vol briljante idees en altyd een stappie voor.

Jy sal meer dinamies en vol selfvertroue wees, ’n spanspeler en innoveerder wat nie bang is om kanse te waag nie.

Geen vrou mag toelaat dat om ouer te word haar lewe reël nie. Sy besluit self watter dinge gaan bepaal of sy in hierdie tyd sal floreer of nie.

Gaan jy sit en wag dat iets moet gebeur, terwyl jou dae leeg en sinneloos voor jou uitstrek? Of gaan jy aftrede eerder beskou as ’n uittrede of oorgang van die een seisoen na die volgende?

Ons kan uitsien na ’n gelukkige oudag waar ons nog steeds produktief kan wees. Een onderwyseres het na haar aftrede begin om ekstra klasse aan te bied en sy floreer. Sy geniet die interaksie met die kinders, en sy en haar man het nou geld om Afrika te verken.

Die suurpruime verkies om net te sit en kla en skinder. As ons dit toelaat, kan onverwerkte pyn, woede en vertroebelde verhoudings ons lewensvreugde steel.

Begin vandag om ’n toekoms tegemoet te stap waarin jy ’n aktiewe rol speel en belangstelling in alles om jou behou. Dan sal jy ’n stimulerende, interessante lewe vol pret hê, en elke dag sal ’n nuwe uitdaging inhou.

Die brein hou nooit op groei en verander nie

Jou brein is die sentrale beheerstelsel van jou ervaringswêreld – intellektueel, fisies, emosioneel en geestelik, sê ’n sielkundige, dr. Hannetjie van Zyl-Edeling.

Wanneer die brein gesond is en aanhou groei, kan ons op ons beste funksioneer en die lewe voluit geniet.

Voorheen is daar geglo dat ’n mens met ’n sekere aantal breinselle gebore word en dat jou denke noodwendig met tyd agteruitgaan omdat die selle sterf. Met ander woorde, jy was gelukkig as enige van jou breinselle nog betekenisvol kommunikeer aan die einde van jou lewe!

Die konsepte “neurogenese” en “neuroplastisiteit” het later begin kop uitsteek en nou het dit navorsers aan die praat.

“Neurogenese” beteken dat die liggaam aanhou om stamselle te maak. Wanneer jy nuwe dinge leer, vestig die stamselle in die brein. “Neuroplastisiteit” beteken dat die brein kan groei en verander, afhangend van ervaring, stimulasie, oefening, meditasie en leer.

Ons is dinamiese wesens, met breine wat in staat is om aan te hou groei en ontwikkel solank ons bly beweeg en leer.

So, kan ’n ou hond nuwe toertjies aanleer? Vir seker! Maar daar is voorwaardes.

Navorsers het bevind dat oefening wat die harttempo versnel, soos ’n vinnige stapsessie van twintig minute, die vorming van nuwe stamselle stimuleer.

Die selle moet egter rigting en fokus kry om nuwe breinbane te vorm. Die bane ontwikkel wanneer jy iets nuuts aanleer deur dit oor en oor te doen. Dis amper soos ’n voetpaadjie wat in die veld oopgetrap word as mense gereeld daarop stap.

Jy hoef nie vir ’n graadkursus in te skryf nie. ’n Nuwe danspassie, kaartspeletjie, stokperdjie, taal of kunstegniek sal ook die denke skerp hou.

Party van ons het bestaande breinpaaie wat lankal nie meer tot ons voordeel is nie. Vra maar vir rokers – die ou paaie word baie maklik weer geaktiveer.

Die beste is om ou, ongewenste paaie te ignoreer en in onbruik te laat verval. Wanneer jy meer aandag aan die kweek van ander goeie gewoontes gee, gebeur dit outomaties.

Hier is ’n wenk om ’n nuwe gewoonte aan te leer: Maak dit maklik vir jouself. Sit jou oefenklere die vorige aand reg sodat jy dit sommer met halftoe oë kan aantrek om vroegoggend te gaan stap. Of maak die yskas vol gesonde kos en moenie sjokolade of koekies in die huis aanhou nie.

Deur gereelde, positiewe aksies kan jy swak gewoontes in onbruik laat verval en beter gewoontes vestig.

Dus, as jy ’n vervulde oudag wil beleef, moet jou brein in ’n goeie, werkende toestand bly. Jy moet aanhou leer!

Wees kreatief en kyk met vars oë na die wêreld

Kreatiwiteitsopleier Raché Rutherford beaam dat dit net ’n storie is dat ons later baie van ons breinselle verloor. Wat ons wel verloor, is volume.

Dit is ook wat met die vel gebeur. Die velselle verloor volume, raak “platter” en plooie is jou voorland. Vir “plat” breinselle is daar egter nog nie vullers uitgedink nie, maar daar is raad.

Oefening is goed, want dit stimuleer die vervoer van suurstof en glukose na die brein, wat die selle oppof.

Daar is ook ’n konneksie tussen jonk bly en kreatiwiteit. Natuurlik beteken dit nie almal moet nou begin teken, brei of koek versier nie.

Kreatiwiteit is eintlik maar net om dinge op nuwe maniere te doen of om iets uit ’n ander hoek te sien. Dit is om oorspronklik te dink, meer as een moontlikheid te oorweeg en gereeld te dagdroom.

Dis waar dat kreatiwiteit verminder namate ’n mens ouer word. Ons vra nie meer honderde vrae nie, want ons raak minder nuuskierig. Of ons dink ons wys ons onkunde met vrae, dan bly ons liewer stil. Ons spring nie meer van die tafel af net om te weet hoe dit voel om te vlieg nie!

Inteendeel. Ons dop ons oë om en vou ons arms sodra iemand met ’n nuwe voorstel kom of as ons uitgedaag word om iets op ’n nuwe manier te doen. Ons raak verknog aan ons roetines en gewoontes: “Nee wat, dit het nog altyd vir my gewerk” of: “Hoekom op mý ouderdom nuwe maniere aanleer?”

Uit hoeveel roetines bestaan jou dag, wat jy nooit meer bevraagteken nie? Dit is die wat, hoe, wanneer en waarmee jy iets doen.

Die plastisiteit van die brein stel dit in staat om te verander deur nuwe dinge te leer en dinge op nuwe maniere te doen. Daar is selfs bewys dat as jy genoeg tyd neem om net te dink aan die verandering wat jy wil teweegbring, jou brein klaar verander!

Verbeelding is presies wat nodig is om nuwe inligting met konneksies of paadjies in jou brein te vestig. Dis ’n uitstekende manier om te groei en daardie selle op te pof.

Maak ’n punt daarvan om besige tye in stil tye te verander en gee jou verbeelding vrye teuels. Verbeel jou hoe die vertrek gaan lyk wat jy wil verander. Of sien jouself met vakansie op ’n plek waar jy nog nooit was nie.

Kreatiwiteit is ’n gawe wat ons almal ontvang het, ’n fantastiese teenmiddel teen oudword!

Dankbaar leef is medisyne vir die siel

Volgens sielkundige Catherine van Heerden is ’n dankbare hart net wat die dokter voorgeskryf het om jou jonk te hou.

Soms voel dit asof daar regtig niks is om voor dankie te sê nie. Dan is dit juis die tyd om ’n pen en papier nader te trek en ’n lysie te begin maak.

Wanneer jy dankbaar is, bestuur en bepaal jy eintlik jou eie gemoedstoestand. Dankbaarheid lei tot gevoelens van waardering, konneksie en betekenis. Meer serotonien en endorfiene word afgeskei, wat jou positief laat voel en jou energie gee.

Behalwe dat jy self goed voel, trek so ’n ingesteldheid ook ander mense aan. Dis lekkerder om na ’n positiewe vrou te luister wat met dankbaarheid oor haar omstandighede praat, as na iemand wat gedurig foutvind. Sulke mense is uitputtend en het ’n negatiewe effek op almal om hulle.

Jy het seker ook agterkom dat baie mense onvergenoegd raak namate hulle ouer word. Die rede is gewoonlik dat hulle lewens net om hulleself draai.

Hulle het moontlik tydens hulle jonger jare besluite geneem waaroor hulle nou spyt is. Of hulle het nooit iemand vergewe wat hulle seergemaak het nie.

Dalk het hulle kanse by hulle laat verbygaan en is nou vasgevang in selfverwyt. As jy vir jouself kwaad is, hoe leef jy in oorvloed en liefde teenoor ander?

Om slegte tye oor en oor te herleef en lewendig te hou, maak jou mismoedig en steel jou vreugde.

Dis belangrik om vrede te maak met die keuses wat jy gemaak het. Vergewe dié wat jou seergemaak het en aanvaar verantwoordelikheid vir wie jy kies om vandag te wees. Om ouderdom, ervaring, wysheid en liefde in dieselfde persoon te vind, is kosbaar!

Gaan dink mooi oor die mense wat in jou klein kringetjie is. Jou gesin, familie en vriendinne, selfs die motorwag is daar vir ’n rede. Besluit hoe jy hulle kan help en dinge vir hulle beter kan maak.

Hoe meer diensbaar ’n mens is, hoe minder tyd is daar om oor jou eie omstandighede te tob. En dis moeilik om ondankbaar te wees as ’n mens te doen kry met ander wat slegter daaraan toe is as jy.

Dit help egter nie jy het besluit om dankbaar en diensbaar te leef, maar jy omring jou met kritiese, negatiewe mense nie.

Soms laat die inhoud van ’n gesprek ’n mens sommer leeg en doelloos voel. Wees selektief oor die gesprekke waaraan jy deelneem en aan wie se menings jy jou steur.

Vergewe jouself en maak vrede met die verlede

Annelize Brits, bedryfsbestuurder by Maroela Media, glo vroue word groot met ’n bepaalde prentjie van hoe die toekoms gaan lyk.

Dis ’n paadjie wat mooi in ons koppe uitgelê is: klaarmaak met skool, gaan leer of begin werk, ontmoet die groot liefde, raak verloof en trou.

Maar dan gebeur die lewe. En jy besef daar is geen flatervrye resep nie. Daar is eintlik glad nie ’n stap een tot tien hoe om dié pad aan te durf nie!

Die groot vyftig breek aan en ons kyk terug op ’n onvolmaakte pad met kronkels en slaggate: “As dit tog net nie met my gebeur het nie…” Of: “Ag, het ek maar…!”

Leënessindroom is vir baie ’n realiteit, vir ander (nog) nie. Party het ook nog ’n laatlam in die huis. Sommige ma’s het tegelykertyd spruite in die laerskool, hoërskool en op universiteit.

Jy begin vergeet: vergeet jy is die tandemuis, vergeet die middelkind moet ’n taak inhandig en die oudste moet die motor leen!

Jy is skielik intens bewus van die verganklikheid van die mens. Jy begin geliefdes verloor. Jou vriendinne verloor hulle ouers. Ma’s word weduwees.

Wat die hardste slaan, is daardie selfverwyt. Daar is nie altyd tyd om reg te maak, om jammer te sê, om oor te begin en weer te probeer nie.

Die beste ding om te doen is om stil te raak in die gejaag. Pak elke bietjie selfverwyt, al die hartseer oor die verlede, alles wat jy so graag anders sou wou hê, in ’n mandjie.

Visualiseer nou hoe jy soos Moses se mamma die mandjie vol seer in die water stoot en totaal en al beheer oorgee. Jy het gedoen wat moontlik was. Laat gaan dit nou.

Jou lewe sover was dalk glad nie soos jy gedink het dit sou wees nie. Tog, as jy terugkyk, sal jy sien hoe elke stukkie soos ’n legkaart inmekaarpas. Saam maak al die stukkies ’n mooi prentjie.

Is die pad vorentoe gewaarborg om hobbel- en kronkelvry te wees? Is jy gevrywaar teen pyn en verlies? Nee.

Maar daar is elke dag genoeg genade om die uitdagings van daardie 24 uur aan te pak. Met daardie wete kan jy elke fase, elke verjaarsdag en elke grys haar omhels. Jy weet mos Wie is in beheer.

Beplan vroegtydig vir die tweede deel van jou lewe

Beplanning vir aftrede is nie ’n vyfjaarplan nie, sê skrywer dr. Melodie de Jager. Dis ’n twintigjaarplan wat eintlik reeds begin het die dag toe jy ’n beroep gekies het.

In ons dertigs en veertigs fokus ons op ons beroep en gesin. Ons het ’n goeie idee van waar ons finansieel trek. Ons maak vrede met ons gesondheid en liggaam en beraam planne om die klein jakkalsies uit te roei.

Omdat mense nou langer leef, het die persepsies oor die onderskeie lewensfases ook verander. Sommige klassifikasies beskou iemand van sestig as ’n jong volwassene en iemand van sewentig as middeljarig. Hierdie klassifikasie het meer met ’n mens se ingesteldheid en verwagtings as met wiskunde te doen.

Dis belangrik om vroegtydig te beplan, sodat jy nie soos ’n drenkeling deur die stroom van ouer word meegesleur word nie. Wees volstoom agter die stuur en aanvaar die verantwoordelikheid vir jou eie bestaan.

As jy nog nie daarmee begin het nie, is dit nou die tyd om jou tweede lewe, of tweede aktiewe lewensfase, te beplan. Moenie dat die realiteite jou eendag uitboul nie!

Daar is ’n paar vrae wat hiermee kan help: Wat was jou drome as kind? Wat was nog altyd ’n passie waarby jy nooit uitgekom het nie?

Dalk wil jy nog graag die Bybellande besoek. Of begin skilder. Of jy wou betrokke raak by ’n saak, soos weggooibabas.

Dink mooi oor die tipe omgewing wat goed is vir jou gemoed. Wil jy by die see bly en snags die branders hoor? Of eerder op ’n mooi berg uitkyk?

Dalk is sekuriteit belangriker, soos om veilig te wees binne ’n gemeenskap van sestigplussers, met goeie mediese sorg naby.

Dink aan dinge wat jy nou reeds kan doen om die oorgang makliker te maak. Jou huis kan dalk aangepas en ingerig word om daar te kan aanbly, met iemand wat ook die plek oppas wanneer die reisgogga byt. En later met ’n versorger as dit nodig sou wees.

Gaan jou geld genoeg wees? Miskien kan jy ’n stokperdjie in ’n inkomste omskep. Of ’n deel van die huis verhuur of in ’n gastehuis verander.

Dalk is dit tyd om ’n nuwe vaardigheid aan te leer. Dan sal jy nie onverhoeds betrap word en weerloos voel as jy noodgedwonge met pensioen moet gaan nie. Dit kan ’n wonderlike nuwe loopbaan word.

Dis nie die begin van die einde nie, maar ’n oorgang na ’n opwindende nuwe fase van jou lewe!

KOOP DIE BOEK

Jy is in die tweede helfte van jou lewe en jy wonder: Wat is volgende? VOLGENDE JAAR JONGER bied nuwe moontlikhede vir ’n ongelooflike lewe ná 50.

Die tweede deel van jou lewe kan beter wees as die eerste.

Geïnspireer deur die reis tydens hulle eie middeljare, deel 50 skrywers soos Amore Bekker, Jannie Putter, Lynette Beer, Gustav Gous, Susan Coetzer, Wouter Snyman en ander hulle tydlose advies en lewensgeheime.

As jy vasgeval is in “Wat is volgende?” en “Wat bly oor?”, sal Volgende jaar jonger jou help om aan die gang te kom en in die regte rigting te beweeg. Jy leer nie net wát om te doen nie, maar ook hóé om dit te doen. Hoe om die manier waarop jy dink te verander, jou geldsake, werk, liefde én hoe om fiks te bly en goed te lyk, is temas waarna jy kan uitsien.

Elke tema het ook ’n joernaalspasie waar jy deur jou vrese, onsekerhede en gebrek aan visie wat jou laat stagneer, kan werk.

Volgende jaar jonger is soos ’n boks sjokolade – maak dit oop, haal uit waarvoor jy lus is, geniet dit en kom later terug vir meer.

VOLGENDE JAAR JONGER
Amore Bekker, Jannie Putter, Lynette Beer, Gustav Gous, Susan Coetzer, Wouter Snyman en ander, sagteband
R139 R199
Ook beskikbaar as ’n e-boek R99 R139 voelgoedboeke.co.za | bestel@voelgoedboeke.co.za