Jy kan doen net wat jy wil

0
723
enkel.jpg

Moenie jouself jammer kry omdat jy enkellopend is nie! Daar is soveel voordele! Jy kan doen nét wat jy wil, elke dag.

Jy loop in die mall … dis naweek en oral is paartjies hand-aan-hand. Hulle drentel rond, eet iets, gaan dalk later fliek. ʼn Olifant gaan sit op jou bors. Want jy is alleen …

Nou ja, jy sal dit seker nie glo nie – maar baie vroue wat so aan die hand deur die winkels begelei word, is jaloers op jou! Want jy hoef nie ure lank na rekenaarspeletjies of skroewedraaiers te staar nie. Of gemaak geïnteresseerd op die grootskerm kyk hoe nog ʼn superhero die wêreld red van een of ander skurk met een oog nie … Inteendeel, daar is hope redes waarom dit heerlik is om enkellopend te wees. So jy beter dit geniet, want die dag wanneer jy ook opgeraap word, sál daar tye kom wat jy verlang na ʼn ongekompliseerde lewe. Alleen.

Geniet dit tuis – doen wat jy wil!

As jy wil, kan jy heeldag in jou ou sweetpak by die huis rondloop – sonder grimering en sonder stres! En saans wanneer jy voor die televisie neersak, is die afstandbeheer nét joune. Jy kan kies waarna jy wil kyk en ook wat jy wil eet. Dit is ook nie nodig om jou knoffel-lus te onderdruk nie en jy kan uie in al jou disse gebruik. Alles wat in jou yskas of in jou koskas is, val in jou smaak. Jy hoef nie ʼn sent uit te gee op iets waarvan jy nie hou nie.

In die badkamer hoef jy ook nie tussen skeerroom en naskeermiddel na jou eie gesigwas te soek nie. En niemand sal jou duur plooiroom aan hulle skurwe hande smeer nie. Die luukse van ure in ʼn skuimbad lê sonder iemand wat jou aanjaag of kom vra waar is die blikoopmaker nou weer, is iets waarna baie getroude vroue smag. Jou vrye tyd behoort ook net aan jou. Jy kan boeklees, tuinmaak, of net salig op die stoep sit vir so lank as wat jy wil. En nee, jy is nie eensaam nie, jy’s bevoorreg! Meeste ander vroue moet spook om “eie tyd” iewers uit te krap – jy kry dit op ʼn skinkbord.

Jou sosiale lewe ken geen perke nie

Of jy nou lus is om ʼn middag lank saam met jou beste vriendin koffie te drink of saam met ʼn ou skoolvriend te gaan fliek – jy kan. Niemand sal jaloers raak of elke beweging wat jy maak noukeurig nagaan nie. En jy kan flirt met wie jy wil! Daar is ook nooit ʼn atmosfeer as jy Paasfees by jóú familie wil deurbring nie en niemand sit dikbek langs jou by jou nefie se doop nie.

Omdat jy nie gerem word deur die spanning en onsekerhede wat so dikwels met ʼn verhouding gepaardgaan nie, kan jy die lewe geniet. Dis baie beter om op jou eie te wees as saam met iemand wat jou gedurig aftrek of laat sleg voel. Jy hoef ook nooit by “sy vriende” te gaan kuier van wie jy nie baie hou nie … of “jou vriende” se uitnodiging van die hand te wys nie (want hy kan hulle nie verdra nie). Dis nooit nodig om voor te gee nie – jy kan net jouself wees! Jou identiteit is nie gekoek in “ʼn paartjie” nie, jy is net JY.

Die wêreld is daar om ontdek te word

Weet jy hoeveel vroue moes al wonderlike geleenthede prysgee omdat dit nie die man in hulle lewe gepas het nie? Omdat hy nie van werk kon verander of wou trek nie? Of … omdat hy van werk wóú verander en wóú trek. Dan moes die dame maar tentpenne uittrek en skuif – al was sy op die punt om bevorder te word.

Jy, liewe enkellopende vriendin, kan enige goue geleentheid wat na jou kant toe kom aangryp en die beste daarvan maak. Of dit nou ʼn nuwe loopbaan, nuwe studierigting of eksotiese vakansie is – niemand keer jou nie. Niemand hou jou terug nie … behalwe as jy dit self doen! Moenie. Jou enkel status is nie ʼn lisensie om by die huis te sit en jouself jammer te kry nie. Dis ʼn toegangkaartjie om die lewe ten volle te geniet sodat jy nooit oor enigiets spyt hoef te wees nie.
En die beste van alles? Net enkellopende mense kan op eerste afsprake gaan – en dit is soveel pret!