Jy kan jou maat vergewe

1211

In ʼn huwelik moet ons gereeld sê ons is jammer en vergewe – soms vir klein dingetjies, maar by tye ook vir baie groot, pynlike en traumatiese dinge.

Die huwelik is nou maar eenmaal ’n reis waarop ons mekaar teleurstel, soms afskeep, mekaar verskriklik seer kan maak en mekaar dikwels in die steek laat.

Omdat intimiteit, emosionele konneksie en vertroue so belangrik is op hierdie reis, kan ons dit nie bekostig om mure om ons harte te bou waarmee ons mekaar uitsluit nie. Dit is presies wat onvergewensgesindheid doen: Dit bou mure, verbreek konneksie en laat ’n huwelik doodbloei.

Kry ’n langtermynplan vir jou en jou huwelik

As jy sukkel om met jou maat oor pyn en woede te praat, is die beste plek om in jou binnekamer by God te begin. Stort dáár jou hart uit vir die eerste tree na vergifnis en genesing. Moenie vergifnis en aanvaarding met mekaar verwar nie. Om iemand te vergewe beteken nie dat jy aanvaar wat hulle gedoen het en dit skielik goedkeur of vrede daarmee het nie.

Ons pyn of woede vat soms jare om te genees, maar vergifnis is daardie keuse wat ons in ’n oomblik maak. Dis die besluit om te veg vir ons visie, die besluit om vry te leef en ons huwelik ook vry te maak. Miskien help dit om te onthou dat vergifnis nie die oortreder meteens onskuldig maak nie – dit maak bloot die slagoffer vry.

Jy kan nie vergewe as jy sukkel met trots en eiegeregtigheid nie. Selfsug en eiebelang sal jou die vinger wil laat wys en jou maat heeltyd skuldig wil hou. Jou eie gevoelens is immers dan vir jou belangriker as jou maat se vryheid en jou huwelik se vreugde. Jy moet ’n langtermynplan in jou hart hê vir jou huwelik en vir jou eie lewe om te kan vergewe.

Fokus meer op jou maat se seer

Jou visie moet wees dat jy vry wil wees en sonder kettings wil leef, en ook dat jy julle huwelik kettingloos wil sien. Die somtotaal van jou huwelik moet in jou hart belangriker wees as enigiets wat met jou of met jou huwelik gebeur.

As jou eerste begeerte is dat jy enduit ’n huwelik sal hê wat sterk is en deur enige uitdaging kan worstel, sal jy makliker kan vryspreek. As jou eie geluk egter belangriker is as jou huwelik of julle liefde, sal jy makliker daardie wrok koester en aan gister se pyn vashou.

Soms vra ons om vergifnis, maar die berou wat ons het, wys nie werklik vir ons maats hoe jammer ons is oor wat ons gesê of gedoen het nie. Ons is jammer, maar het nie werklik berou nie. Dis daardie werklike berou wat ons maats in staat stel om makliker te vergewe. Daar is ’n wesenlike verskil tussen blote spyt en werklike berou. Spyt impliseer dat ek wens daardie ding het nooit gebeur of is nooit gesê nie – ek is gefrustreerd met my keuse of dade en wens ek kon die tyd terugdraai.

Berou bring egter iets anders na vore. Met berou word ek gekonfronteer met my máát se seer. Sý pyn is my fokus; daar is ’n gebrokenheid binne-in myself as ek sy gebrokenheid sien. Ek self is nie meer die belangrikste nie, maar wel my maat.

Moenie jouself met gister se kettings boei nie

Onthou dat die mate van jou berou dit vir jou maat makliker of moeiliker maak om te vergewe. Ja, ons kan ’n geestelike sousie daaroor probeer gooi en sê dat ’n kind van God nie so moet redeneer nie. Die waarheid is egter dat ons in ons menswees baie makliker vryspreek as ons maats werklike berou het.

Hoe langer ons enigiets vashou, hoe swaarder sal dit wees om te dra. Moenie toelaat dat jou huwelik die las te lank dra nie – nie in die naam van seer, wrokkigheid of spite waar jy jou maat wil terugkry of herinner aan hulle skuld nie. Jý dra op die ou end die las en sleep die kettings rond!

Ongeag wat gebeur het, vergifnis is moontlik. Vergifnis beteken nie noodwendig dat die huwelik die seer sal oorleef en sal herstel nie. As ons egter kies om te veg vir ons verbond, gehoorsaam te wees en te begin by die groter plan vir ons lewe en dié van ons huweliksmaat, en baie hard werk om weer vertroue te wen en respek te verdien, is die uiteinde dalk net ’n wonderwerk!

Gretha Wiid, huwelikskenner

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Gretha.