Jy kan ophou skuldig voel!

0
1915

Vroue verspil kosbare energie en tyd deur hulleself te verwyt. Hier is die dinge waaroor ons die meeste tob en raad hoe om dit te bestuur.

Gevoelens van skuld kan positief wees as dit jou aanspoor om reg te maak waar jy verbrou het. Maar, waarsku kenners, as jy heeltyd sleg voel oor die kleinste dingetjie, kan dit jou keer om die lewe te geniet. Jy kraak net jouself af en verloor jou selfvertroue en selfrespek.

Verwyte oor kinders is gewoonlik boaan die lysie. Ons voel ook maklik verleë oor slegte gewoontes, soos om te veel te eet of te min te oefen. En oor die min tyd wat ons aan manlief, vriendinne of familie afstaan, of ons prioriteite wat krom en skeef is.

Skuldgevoelens, net soos vrees, is soms irrasioneel omdat daar nie ’n goeie rede voor is nie. Vroue voel makliker skuldig as mans weens hulle tradisionele rol as versorgers. Dit laat jou verantwoordelik voel vir die welsyn van jou mense. Maar dis tog onmoontlik om almal altyd gelukkig te hou!

Sekere tipes mense sukkel meer hiermee. Dis veral ’n probleem vir diegene wat altyd besig moet wees en waardeloos voel as hulle niks doen nie.

Vergeet die blapse wat jy gemaak het

As jy jouself net nie kan vergewe vir iets wat klaar gebeur het nie, probeer die volgende: Plaas jou terug in die situasie en dink watter kennis jy op daardie tydstip gehad het. Kon jy regtig anders opgetree het? Het jy nie maar die beste gedoen met die beperkte insig en vaardighede wat jy op daardie oomblik gehad het nie?

Die meeste mense dink daardie beskuldigende stemmetjie is die gevolg van iets wat hulle gedoen het of nie gedoen het nie. Verkeerd. Dit is eerder ’n oordeel wat jy agterna byvoeg omdat jy nou meer kennis oor die gevolge van jou optrede het. Jy het moontlik gesien hoe seer dit een van jou geliefdes maak en nou pla dit jou.

Die feit is, dit wat gebeur het, is geskiedenis. Hou op om dit oor en oor in jou gedagtes te herhaal. Wees bereid om jouself te vergewe vir die oordeelsfout wat jy gemaak het, leer daaruit en gaan aan met jou lewe.

Te hoë standaarde steel jou vreugde

Skuldgevoelens spruit dikwels uit die onrealistiese verwagtings wat jy het. Jy wil graag ’n silwerskoon huis hê, ’n huwelik vol opwinding en romanse, ’n fikse lyf en ’n werk waarin jy opgang maak. Dan smag jy ook nog na gehaltetyd saam met jou gesin én minstens ’n uur stiltetyd elke dag.

Met al die eise wat vroue aan hulleself stel, is dit geen wonder nie dat ons permanent uitgeput en oorweldig voel. En dan tap ons ons energie nog verder deur onsself daaroor ook te verwyt!

Skryf eerder twee of drie dinge neer wat belangrik is en maak seker dat jy daarby uitkom. Leer om nee te sê vir onbelangrike dinge wat net jou stres die hoogte laat inskiet. Dit sal jou meer tyd gee vir stiltetyd of om ’n lekker boek te lees sodat jy kan herlaai.

Jy mag jouself maar af en toe bederf

Hoor jy ook daardie streng stemmetjie as jy geld uitgee op skoene, jouself met ’n gesigsbehandeling bederf of net lus is om leeg te lê?

Navorsing bewys dat vroue meer met ’n swak selfbeeld sukkel as mans. Dalk is dit hoekom ons so skuldig voel as ons onsself bederf.

Gee jouself toestemming om van tyd tot tyd gepamperlang te word. Jy kan dit selfs ’n instelling maak om af en toe ’n bederfdag te hou. As daardie stemmetjie sy mond oopmaak, sê: “Ek verdien dit!” totdat jy later niks anders hoor nie.

Skuldgevoelens maak jou nie ’n beter vrou, ma of vriendin nie. In plaas van dat dit jou motiveer om te groei en te verander, lei dit net tot negatiwiteit en nog meer negatiewe emosies. Breek vandag nog hierdie bose kringloop!