Jy kan vriende met jou eks bly

0
42
vriede.jpg

Partykeer werk ’n verhouding wat ooglopend perfek is, net nie uit nie. Kan julle vriende bly?

Julle kom só goed oor die weg en gesels tot die son opkom. Julle albei weet hoe gelukkige paartjie julle kan wees … Maar dan tree die noodlot in en die kanse op romanse word in die kiem gesmoor.

Daar is baie redes hoekom ’n ooglopende perfekte verhouding nie uitwerk nie … Gewoonlik is dit omdat dit op die verkeerde tyd gebeur en julle prioriteite verskil.

Hier’s hoe om die “verkeerde” tye te hanteer:

Die wye wêreld roep …

Toe julle mekaar ontmoet het, het julle vir ure gepraat oor hoe julle vir ’n jaar lank om die hele wêreld wil toer. Na ’n paar maande is julle verhouding ernstiger en julle praat al van trou.

Jy besluit toe dat jy nou graag wil gaan toer en skielik wil hy nie meer nie. Hy wil trou, rustiger raak. Maar jy besluit dat dit iets is wat jy nog altyd wou doen en gaan doen …

Toe jy ’n jaar later terugkom is jy enkellopend en hy het weer ’n vaste verhouding. Nou wonder jy of jy nie maar eerder moes gebly het nie, want dan sou julle immers nog saam gewees het. Tog weet jy ook, dat jy jouself altyd sou verkwalik as jy nie gaan toer het nie.

Leigh-Anne Liebenberg en Danny K het almal aan die praat gehad. Oral in skinderblaaie het jy van hulle perfekte verhouding gelees. Hy die superster en sy die supermodel. Maar hul verhouding van 18 maande is op die rotse.

Leigh-Anne sê dat dinge nie gewerk het nie omdat hulle albei baie vol programme het.

Sy is besig met fotosessies en hy toer oorsee. Hulle het mekaar te min gesien en verby mekaar gelewe.

Sy sê hulle is egter nog goeie vriende en stuur vir mekaar SMS’e, en sy sou hom graag aan haar sy wou gehad het toe sy onlangs as die sexyste vrou in die wêreld aangewys is.

HANTEER DIT SO …

Besluit wat is vir jou belangriker: jou drome of die regte maat. Nie almal sal saamstem dat jy jou drome moet najaag ten koste van ware liefde nie. Tog kan jy ook nie jou drome eenkant toe skuif as jy jouself en hom altyd gaan verwyt nie. As hy die regte een is sal hy jou die vryheid gee wat jy benodig, sonder om aan te beweeg. Natuurlik moet jy ook bereid wees om vir die regte persoon te ‘wag’. So as jy wil gaan toer vir ’n jaar of wat, wees verseker dat ’n standvastige verhouding nie in die niet sal verdwyn as jy oorsee gaan nie.

Wat belangrik is, is om kontak te hou en te sorg dat julle mekaar darem so elke drie maande sien. As dit dán nie uitwerk nie, weet jy dit was nooit bedoel nie.

As jy jou loopbaan eerste sit…

Dit gebeur baie dat jou loopbaan ’n romanse kan vernietig. Tot jy op ’n dag besef, jy dat jy ook iets wil bereik met jou werk en voluit daarvoor wil gaan.

Dinge werk toe mooi vir jou uit en skielik het jy ’n loopbaan van jou eie en jy is mal daaroor. Jy kan verplaas word na ’n ander tak of dalk net minder tyd hê vir jou geliefde en skielik raak die verhouding suur …

HANTEER DIT SO …

Net omdat jy ’n loopbaan van jou eie het, beteken nie dat julle verhouding daaronder hoef te ly nie. As jy hom nie in die week kan sien nie, sorg dan dat julle mekaar naweke sien en kwaliteit tyd saam bestee. As dit dan nie wil werk nie, weet jy darem jy sal voortaan meer op jou werk fokus (en dalk bevordering ook kry).

Hy wil hom nie verbind nie

Terwyl jy op ’n Vrydagaand rustig voor die kaggel wil sit en cuddle, wil hy eerder saam met sy vriende gaan pool speel en kuier. Aan die begin kon hy nie genoeg van jou kry nie en nou skielik na ’n paar maande “herontdek” hy sy vriende en jy sien al hoe minder van hom. Hy vertel dat jy die “een” is en hy wil trou, maar wanneer? Julle prioriteite verskil skielik so baie dat jy wonder of dit ooit gaan werk.

HANTEER DIT SO …

Dit kan steeds werk, omdat dit belangrik is dat julle onafhanklik moet kan funksioneer van mekaar. So stel reëls vir julle albei. As jy hom vertrou as hy saam met sy vriende kuier en jy ook saam met jou vriendinne mag uitgaan, hoekom nie? Maar as dit meer seermaak as wat jy gedink het, is hy níé reg vir jou nie.

Die volgende tekens is rooiligte dat hy nie reg is nie

  1. Hy kies altyd sy vriende bo jou.
  2. As jy oor toekomsplanne begin praat, verander hy altyd die onderwerp.
  3. Hy bestee meer tyd om sy rugbyspan te ondersteun as vir jou.
  4. Jy huil meer as wat jy lag.
  5. Hy weet nie wat jou drome of ideale is nie, endeel dit ook nie met jou nie!