Jy leef net een keer. Reg? Nee, verkeerd.

In ons woonbuurt begin die Jakarandabome hulself tooi in volle pers-gewaad. Hemel-mooi!

Pers, ‘n kleur van rou? Nee, wat, dít vergeet ‘n mens sommer gou-gou wanneer jy daarna kyk. Híérdie moet jý self beleef. Prentjies en foto’s kan dit nie vasvang nie. Hierdie baldadige kleur-skouspel nooi ‘n mens uit om kaalvoet te dans op ‘n sagte pers blaarmat onder jou voete. Vreugde en vrede spoel oor my. My hart sing opgewonde saam. ‘n Nuwe lied weerklink vanuit diep binne my.

Dit laat my dink: Hoeveel keer hoor ons nie die geykte woorde nie: ‘jy leef nét een keer’. Reg? Nee, verkeerd! Jy sterf net een keer, maar jy leef elke dag!

Hierdie Oktober is inderdaad ‘n fees-maand vir ons!

Ons weet nou: Tyd heel nie wonde nie. God wel. Die Jakaranda pers rёenblare het al die gisters wat van ons gevat was kom wegwaai, vir eens en vir altyd. Ons lééf vir wat vandag inhou. Ons lééf die werklike góéie lewe, élke dag. Wat ‘n voorreg.

Uiteindelik (in ons ou-goud jare) het die lewe ons geleer om die ‘regte leer te begin klim’. Ons is beslis nie meer besig om doelgerig en vasberade die ‘verkeerde leer te klim nie’, met ‘daardie eenkeer in ‘n leeftyd prentjie’ in ons koppe nie: ‘n lewe wat ons op ons eie manier beplan en aanpak om ‘n super-gemaklike lewenstyl te kóóp. ‘n Reis sonder hobbels in die pad. Het ons regtig so gedink? Om rond te val en maar te kyk wat gebeur volgende. Holderstebolder lewe. Iewers tussen hier en êrens, oppad na nêrens nie.

Hoe verkeerdelik het ons nie ‘die goeie lewe’ gelykgestel aan materiёle oorvloed nie. Titels, die regte adres, die tipe motorfabrikaat en ontwerpersetikette versadig en vervul toe nie… O genade, hoeveel inspanning het hierdie leefstyl nie boonop geverg nie.

Die ‘goeie lewe’ wat ons vandag en elke dag lééf verg heelwat minder inspanning. Dit vra nie ‘n gejaag en gestreef na iets of iemand in ‘n fantasie, fliek of tv storie nie. Dit vra wel vir ‘n terugkeer na die werklikheid, die realiteit. Die waardeer van die eenvoudige basiese dinge van die lewe. Die voorreg van ons liefde en lewe saam, ons huwelik. Ons eie gesin – mense wat ons onvoorwaardelik liefhet, ken en verstaan.  Mense, wat saam met ons, ons lewensverhaal skryf, wat by ons staan déúr die goeie én die slegte tye van die lewe. Mense by wie ons net onsself kan wees sonder vrees vir verwerping of veroordeling.

Natuurlik is verniet-lekkerte ook familie-wees. Of dit nou wyse gryses is, rebelle, pasgebore nuwelinge en of laslappie-families (her-saamgestelde gesinne).

O die gawe van ware vriende vergeet ons nie! Eg, opreg. Wat ‘n voorreg en vreugde om ons lewensreis te deel met mense wat ons leefwêreld intiem en toegewyd deel. Mense met wie ons herinneringe, vreugdes en smarte, hoogtepunte en mislukkings deel.

Hierdie ‘goeie lewe’ reis van ons is beslis op die regte roete! Ons heg waarde aan die vanselfsprekende, soos om bloot elke dag te leef en die alledaagse doodgewone dinge te geniet. Ons drink nie net koffie nie, ons próé dit. Musiek is veel meer as melodie en woorde. Ons hóór die klank daarvan opnuut. Die lag van ‘n kind… Kyk, eenvoudige weelde, gratis vreugde en intense lewensvervulling. Dít is ons ‘goeie lewe’. Ons oorvloed lewe.

Ons weet wié het ons gisters gevat.

Ons weet Wíé hou ons vandag en more.

In Sy Hand reis ons veilig deur hierdie lewe.

Die vyand kom om te steel, te verwoes en te vernietig. Ek het gekom sodat julle lewe kan he, ja, sodat julle dit oorvloedig het. Johannes 10:10.

Vorige artikelSpieëltjie, spieëltjie
Volgende artikelDit is die maand Oktober
Blogger - Tania Delport
Tania Delport is terselfdertyd onkonvensioneel, passievol, vreesloos, kreatief, teen die grond neergegooi maar nie vernietig nie, vol blydskap en humor, Woord deurdrenk en geesvervuld, ‘n onvergeetlike persoonlikheid. Tania Delport se skryftalent is ‘n passie en natuurlike gawe van God maar ook stil-stil geïnspireer deur die welbekende skrywer Hennie Aucamp wat 20 Maart 2014 oorlede is. Sy het in die Stormberg hoogland in die Oos-Kaap grootgeword op die buurplaas vanwaar hy grootgeword het. Haar oom aan haar pa se kant was getroud met die suster van Hennie Aucamp, dus was hy deel van haar familie binnekring. Tania Delport is in haar finale seisoen van liefde en lewe. Haar prioriteit is haar man Pieter. Sy is toegewyd en gaan haar gawes met veral vroue deel. Tania Delport se G-I-L in die nag het L-I-G in die dag geword want God is Liefde. Haar lewe het vlerke gekry. Dis tyd vir joune!