Jy mag maar raad vra, dis oukei!

0
52
gesin.jpg

Soms dink ’n mens dat jy alles in die lewe self moet trotseer. Tog is dit goed en reg om raad te vra.

Omdat ’n huwelik in die studiejare destyds ongewoon was, was jongmense in ’n lang verhouding betrokke, waartydens sterk seksuele selfbeheersing aan die dag gelê moes word. Ek en my meisie het baie gestap en gepraat, saam gedroom, ons ideale verwoord sonder om te weet waar die Here wil hê ons moet leef en werk.

Al was die voorhuwelikse verhouding lank, was die aanpassing in die fisiese saamleef na die troue tog ingrypend. Dit was ’n alleenpad vir ons. Daar was nie ’n openheid om by iemand raad te vra nie, veral nie oor seksuele dinge nie, en daar was nog nie voorhuwelikse kursusse nie.

Dit was die tyd dat ons lomp deurgestuur het tussen persoonlikheidsverskille, konflik, verkeerde kommunikasie, gou kwaad word en net so gou weer met ernstige emosie versoen geraak het. ’n Tyd waarin jy soms teleurgesteld was in dinge wat jy ontdek het, maar gou geleer het om te verdra en te aanvaar.

Een van die grootste, diepste en mees oorweldigende ervarings wat ’n man en vrou in die huwelik kan hê, is die geboorte van kinders. Dat die Here my vertrou om pa te wees het my oorweldig. Om man vir ’n vrou te wees het die doel van my lewe verder geïdentifiseer, en deur pa te mag wees het die Here vir my gesê: Dis wat Ek wil hê wat jy moet wees, ’n pa!

Hierdie ervaring van pa en ma wees beteken ongelooflik baie vir die huwelik. Met verbasing ontdek jy nuwe mooi dinge in jou vrou. Saam beleef julle die vreugdes van die kinders se grootword. Ons het ook krisisse beleef en saam ervaar hoe die Here weer deure oopgemaak het. Saam kon ons die Here dank vir genesing en herstel. Dit kan ook gebeur dat jy en jou vrou so op die kinders ingestel is dat julle mekaar verwaarloos. Sy gee nie meer soveel aandag aan my nie en ek wil ook nie kla nie, want is ek dan nou hierdie groot baba wat ook aandag vra? Sy kan weer meen jy is mos groot en volwasse en behoort te verstaan dat sy meer aandag aan die kinders moet wy. Praat hieroor en beplan doelbewus hoe julle meer tyd saam kan deurbring.

Dit weet ek nou

Wat die breë raamwerk van my lewe betref, sou ek dieselfde keuses maak, dieselfde beroep, dieselfde vrou. Maar ’n paar dinge sou ek sekerlik anders wou doen.

Ek sou beslis meer hulp en raad gevra het en nie altyd op my eie probeer regkom het nie. Ek sou in my beroep seker gemaak het dat ek ’n mentor het en vriende by wie ek kon leer.

Ek sou my vrou meer in ag geneem het. Ek dink nie ek was sensitief genoeg vir haar behoeftes nie. Ek het haar dikwels in die rede geval en my oplossing vir haar probleem gegee, sonder om na haar te luister.

Ek sou ook harder wou probeer om rustig te bly ten spyte van provokasie. Ek het geleer dat kwaad word geen bydrae lewer nie, inteendeel, dit vernietig kommunikasie en die moontlikheid van ’n oplossing.

Daar is nogal twyfel by my of ek genoeg vir my kinders gewys het hoe lief ek hulle het. Het ek hulle genoeg drukkies gegee? Ek moes ook meer tyd gemaak het om my seun by die skoolsport te ondersteun. Ek onthou hoe skaam ek gekry het toe my seuntjie in sy kinderhandskrif sy naam in my dagboek geskryf het om te verseker dat daar tyd is om vir hom ’n vliegtuig te maak.

Dit wil ek vir my vriend sê

My vriendskap met jou mag nooit ten koste van my huwelik wees nie. Ek wil ook in ons vriendskap julle huwelik respekteer. Ek wil dus nie net jou vriend wees nie, maar ook ’n vriend vir jou vrou en gesin. Julle vriendskap is vir my kosbaar omdat ek by julle kan ontspan en myself kan wees. Ek weet as ons sensitiewe dinge bespreek, julle dit vertroulik sal hou. Dankie dat ons op mekaar kan vertrou, selfs die vrymoedigheid het om mekaar te waarsku en te vermaan.

Dit wil ek vir my seun sê

As ek aan jou dink, dink ek aan iemand wat maklik lag, iemand wat die lewe geniet en maklik vriende maak. Jy vertrou so gou en dit leer ek by jou. Ek wens ek het die sosiale gawes gehad wat jy ontvang het. Ek is trots op jou. Jy het ook swaar tye geken en in daardie tye het jy ’n geduldige verdraagsaamheid gehad waarmee jy met vertroue in die Here voortgegaan het.

Dit wil ek vir my dogter sê

Ek kon ook baie by jou leer. Met wakker ogies het jy van kleins af alles met oorgawe gedoen. Jou harde werk was ’n voorbeeld vir meer mense as wat jy dink, ook vir jou pa. Jy het ook moeilike tye gehad met trane en swaarkry. Maar, met die energie en drif in jou wat van Bo kom, het jy weer opgestaan, nuwe dinge aangepak en is besig om ’n groot sukses daarvan te maak. Wat vir my baie mooi is, is dat jy en jou ma beste vriendinne is. Die verhouding wat ek met jou het, laat my hart warm klop.

Dit wil ek vir my vrou sê

Jy is my lewensmaat in die ware sin van die woord. Jy het my lewe verryk en aangevul. Dankie vir jou energieke entoesiasme en vrolikheid. Vir my wat rustiger en ernstiger is, is dit ’n goeie aanvulling. Dankie dat jy ook ’n kind van die Here is en dat dit deur die jare ons anker was. Dankie vir ons saam bid, wat ons twee en die Here naby aan mekaar hou. Die rol wat jy in ons gesin speel, is onberekenbaar. Dankie dat ek en jy elke keer kon saampraat, uitpraat en klaarpraat. Jammer vir my hard praat soms, maar dan kan ons weer mooi praat en sag praat. Ek het jou baie lief!