Jy mors jou skoonheidsprodukte!

0
45
velsorg.jpg

Jy geskok wees om uit te vind hoeveel van jou skoonheidsprodukte in die asblik beland.

Spaar geld op jou grimering

  1. Skep met die steel van ’n teelepel die oorblywende lipstiffie onder in jou opgebruikte lipstiffiehouer uit. Jy sal sien dat ’n derde van die lipkleur onder in die buisie agtergebly het.
  2. Sny buisies wat leeg is, middeldeur. Jy sal tot vyf dae se verdere gebruik daaruit kry. Skuif die onderste helfte oor die boonste helfte van die buis sodat dit nie uitdroog nie.
  3. Dit is ’n mite dat duur skoonheidsprodukte beter is as goedkoop kosmetiese produkte. Die waarheid is daar is produkte in albei prysklasse wat resultate lewer en dié wat nie resultate lewer nie.
  4. Dis die bestanddele binne-in die botteltjie of buisie wat saak maak – nie die prysetiket, blink verpakking of slim bemarking nie. Jy kan dus ewe goeie resultate met jou mooimaakplan kry as jou buurvrou met die luukse items in haar inkoopmandjie. Om minder aan jou vel- en lyfsorg te spandeer gaan nie jou vel skade aandoen nie. Om meer te spandeer help eweneens nie jou vel nie. Dit gaan alles oor die produkformulering en jou leefstylgewoontes.
  5. Leer dink soos ’n grimeerkunstenaar, sê Aliki Zanoli, eienaar van die Head2Toe grimeer- en haarstileringsakademie in Kaapstad. Skoonheidsghoeroes wat in die glansbedryf werk, steur hulle nie veel aan ’n produk se aangeduide funksie op die verpakking nie. “As ’n verbruiningsmiddel geskik is om jou oraloor ’n sonbruinkleur te gee, kan dit ewe goed op ander maniere ingespan word. Gebruik dit byvoorbeeld slegs as ’n blosser of om jou gesig se kontoere te beklemtoon. Of gebruik dit as ’n oogskadu,” verduidelik sy. As dit ’n verbruiningspoeier met glinsterpartikels of blinkertjies in is, kan jy ’n klein bietjie daarvan by jou lyfroom meng. So maak jy ’n glansroom wat ewe mooi lyk op jou bene, skouers of sleutelbene.


Duplikaatprodukte is ’n wenner!

Dupes is ’n nuutgeskepte woord wat sy pad na die skoonheidsbedryf gevind het as gevolg van blogs. Dis ’n slengwoord wat “duplikaat produkte” beteken. ’n Dupe is dus vir mooimaakslawe wat generiese medikasie vir die aptekerswese is. Jy kry soortgelyke resultate maar teen ’n beter prys.

Hoe werk dit in jou guns? Dis eenvoudig. Moedermaatskappye besit dikwels luukse en massamark- handelsmerke. Die Estée Lauder-groep besit verskeie handelsmerke met verskillende pryskategorieë, soos La Mer, Clinique en MAC. L’Oréal besit Lancôme, Garnier en Maybelline.

Net so is die peperduur La Prairie deel van dieselfde velsorgmaatskappy as die heelwat meer bekostigbare Nivea en Eucerin. Hierdie produkte word dikwels in dieselfde laboratoriums ontwerp en in dieselfde fabrieke vervaardig. Die maatskappye wil hulle kliënte tevrede hou. Hulle gebruik daarom soortgelyke formules met sekere aktiewe bestanddele in beide die eksklusiewe en die kettingwinkelweergawes van hulle velsorgreekse.

Meer haarprodukte is nie beter nie

Baie vroue gebruik te veel van ’n produk op ’n slag. Top haarstilis Malcolm Kyle van Foil salon in Sandton sê dat méér sjampoe en opknapper nie beter is nie.
“Jy gebruik jou produk gouer op en mors jou swaarverdiende geld, veral op stileermiddels. Te veel jel, mousse of haarsproei laat hare taai lyk. Die alkohol wat in die meeste haarprodukte is, trek die kleurpigmente uit gekleurde hare en droog jou hare uit.”

Nog ’n manier om meer uit jou haarsorgprodukte te kry is om jou hare elke tweede dag te was. Jy spaar sommer tyd ook. As jy met olierige haarwortels sukkel, kan jy babapoeier daarop sprinkel en deur jou hare kam. Jy gebruik dit net soos droë sjampoe. Die poeier absorbeer olierigheid en gee volume en tekstuur aan jou styl.

Selfdoentruuks kan jou baie geld spaar!

1. ’n Doughnut-vormige sponsie wat jy spotgoedkoop by DisChem kan koop, maak dit moontlik om ’n elegante, opgekamde haarstyl te dra. Vir jou volgende formele geleentheid hoef jy dus nie ’n afspraak by die haarsalon vir stilering te maak nie. Jy rol bloot die sponsie rondom ’n poniestert en steek die punte van jou haarstringe onder die sponsie in.
2. As jy sukkel met maskara wat smeer of gewoonlik eerder onder jou oë as aan jou wimpers vassit, kan jy dit oorweeg om jou wimpers en wenkbroue tuis te kleur. Julienne se 45 Day Permascara word met ’n paar druppels volume 10 peroksied gemeng en dan aangewend. Dit beteken geen maskara vir meer as ’n maand! Dit kos R91,95 by Dischem.
3. Aanplakbare vals naels is realisties en supermaklik om aan te wend. Dit verg veel minder geld en tyd as jy dit self doen. Dis ’n beter opsie as die glasveselnaels van salonne wat lank gewild was.

Geskryf deur Ryno Mulder