Jy steel jou kind se selfstandigheid

0
888
selfstandig.png

Deur alles vir jou kind te doen, bring meer skade as goed. Leer jou kind só om selfstandig te wees.

Jy doen alles vir jou kind

Jy is lief vir hom; daarom tel jy sy vuil klere op. Jy gee om vir haar; daarom doen jy haar skooltaak. Maar liefde beteken nie om alles vir jou kind te doen nie. Van die grootste leerervarings vir kinders lê daarin opgesluit om dinge self te leer doen.

HELP JOU KIND EERDER… om iets op sy eie te doen, al gaan dit sukkel-sukkel. Onafhanklikheid gee hom ’n gevoel van selfvertroue en help hom ook om ander dinge suksesvol aan te pak. Hy kry die taak dalk nie die eerste of tweede keer reg nie, maar as jy hom bly aanmoedig, sal hy deursettingsvermoë kweek ten spyte van mislukkings.

Jy aanvaar al die verantwoordelikheid

Jy voel verantwoordelik vir jou kind se skoolwerk. Jy help haar met huiswerk en maak seker elke stukkie werk is korrek gedoen. Jy gaan selfs haar huiswerkboek na om seker te maak niks word vergeet nie. Daarna organiseer jy haar tas en sorg dat alles ingepak is vir die volgende skooldag.

HELP JOU KIND EERDER… om die gevolge van haar dade te dra. Sy moet leer om verantwoordelike keuses te maak. As sy van ’n belangrike skoolprojek vergeet, moenie inspring en haar probeer red nie. Jy ontneem haar die geleentheid om uit haar foute te leer en ’n onafhanklike besluitnemer te word. Staan terug en laat haar ’n belangrike lewensles leer.

Jy herinner hom heeltyd

“Het jy genoeg inligting vir jou taak? Het jy al jou kamer aan die kant gemaak? Onthou om môre jou krieketkolf saam skool toe te vat.” Jy haat dit waarskynlik om heeltyd te neul, en nog minder hou hy van jou gekerm in sy ore.

HELP JOU KIND EERDER… deur slegs een keer te sê wat hy moet onthou of wat jy van hom verwag. Sê ook wanneer jy verwag dit afgehandel moet wees. As jy sien hy is ’n bietjie traag om met iets te begin of vergeet dalk, herinner hom slegs een maal. Herhaal weer die gevolge as daar nie aan jou versoek voldoen word nie. Leer hom van jongs af om ’n kalender te gebruik om belangrike goed op in te skryf en hom te help onthou.

Jy dink verskonings uit vir haar

“Die hokkiewedstryd het baie laat aangehou. Dit was onmoontlik om al die huiswerk klaar te maak.” As volwassene gaan sy ook verskonings uitdink. “Ons het vergeet om haar daaraan te herinner. Dis hoekom die werk nie klaar is nie.” Jou kind leer dat jy as ouer verantwoordelik is vir haar werk.

HELP JOU KIND EERDER… om self besluite te neem en verantwoordelikheid te aanvaar. As sy gewoond is daaraan dat jy vir haar dink, gaan sy nooit leer om dit self te doen nie. As sy altyd terugvoer van jou af kry, sal sy sukkel om haar eie sterk punte en selfvertroue te ontdek.

3 redes hoekom ma’s alles vir kinders doen

Jy dra jou kind se tas tot by die klaskamer. Of jy ry terug huis toe om Boetie se oefenklere te gaan haal wat hy vergeet het. Drie ma’s vertel hoekom hulle alles vir hulle kinders doen.

“Dis makliker om dit self te doen.” “Ek maak sommer self my twaalfjarige dogter se kamer aan die kant,” sê Annamarie Malherbe (37). “Dis makliker as om dae lank daaroor te kerm en kla, en dan doen sy dit in elk geval nie.”

“Ek wil hê my kind moet gelukkig wees.” Sonja Scholtz (30) sê sy wil nie ’n slegte ma wees nie. “Myns insiens moet jy jou kind gelukkig hou. As my vierjarige sy arms ophou wanneer ek hom by sy speelgroepie gaan haal, tel ek hom op my heup en dra sy tas. As ek dit nie doen nie, voel ek soos ’n mislukking.”

“Ek kan eenvoudig nie nee sê nie.” Louisa Steyn (55) sê sy het nog nooit geleer om vir haar dogter nee te sê nie. “Ek het byna al haar huiswerk vir haar gedoen toe sy op skool was. Selfs vandag nog doen ek omtrent alles wat sy vra. Van kinders oppas tot klere verstel.”

Hoe ouer kinders word, hoe meer word hulle verantwoordelikhede. Huiswerk wat nie gedoen is nie, beteken dalk geen punte nie, maar as hulle eendag laat kom vir werk of onverantwoordelik bestuur, is die gevolge heelwat erger. Leer jou kinders vroeg reeds om rekenskap te gee wat hulle dade betref en maak verantwoordelike volwassenes groot. Vertaal en verwerk uit die artikel The Balance Between Loving, Nurturing, and Enabling Your Child van Douglas Haddad.