Jy’s lig

Jesus, die lig, skyn deur jou oë en verlig jou hele lewe én skyn die lig na buite. Jou hele liggaam raak nou ’n reflektor.

’n Vriendin se seuntjie, Tielman, sê dat ons eintlik net soos die maan is – ’n klip as die Son nie op ons skyn nie. Jesus, wat mos die lig is, word nou deur jou woorde en  jou dade gereflekteer. Daar waar jy beweeg, gaan die lig saam en word die duisternis in die wêreld verdryf.

Of is dit so? Word die duisternis minder daar waar jy loop?

Daar word ’n storie vertel van ’n paar mans wat moes hol om hul aansluitingsvlug betyds te kon haal. Hulle jasse se punte het so deur die lug gefladder met hulle koffertjies se wieletjies wat oor die teëls sing. Dit was ’n paar sekondes give and take of hulle sou die vlug nie maak nie. Toe een van die mans te naby aan een van die straatverkopers se tafeltjie verbyskuur, haak sy jas en al die vrugte stroom oor die sypaadjie. Die mans storm voort, want hulle kan nie die vlug mis nie.

’n Paar treë verder stop een van die ander mans in die groep, skree dat hulle moet aangaan. Hy sal ’n volgende vlug haal. Hy stap terug na die verkoper en help haar om al die appels en ander vrugte wat wyd verstrooi lê, op te tel. Hy sien sy sukkel en voel-voel so waar die vrugte is, want sien, sy is blind.

Ek weet nie of die man sy vlug toe op die ou end gemaak het nie. Ek weet nie eens of dit ’n ware verhaal is nie, maar wat ek wel weet, is dat die storie vertel van lig wat in donker geskyn het. Groot mans met groot jasse wat die ekonomie van die land aan die gang hou, maak nie orals lig nie, inteendeel – soms dra hulle by tot saai van die duisternis dat dit so kol-kol oor die sypaadjies van die lewe gestrooi lê.

Gelukkig was daar nog ’n man met ’n groot jas wat besef het dat jou woorde en jou dade die lig moet laat skyn. Daarom het hy gekies teen die besigheid, teen sy reisreëlings, teen sy eie behoeftes, teen wat die ander gaan sê, teen sy eie gemak en besluit om lig te wees.