Kammaham vir kersfees

0
110

’n Hamrol gaan jou gaste uitboul aan die Kerstafel. Jy moet eenvoudig hierdie gereg vir hulle voorsit.

Genoeg vir 8-10
Tyd: 15 minute plus 1¼ uur vir rooster

BESTANDDELE
1½ kg varkpens, afgewerk en ontbeen
sout en peper na smaak
appelkooskonfytglaseersel (resep hieronder)
15-20 naeltjies

Vir die appelkoos-en-pistasieneutvulsel:
500 ml vars broodkrummels
180 g droë appelkose, gekap
80 g pistasieneute, grofgekap
80 ml gekapte pietersielie
2 eiers, geklits
sout en peper na smaak

Vir die appelkooskonfytglaseersel:
sap van ’n halwe lemoen
30 ml appelkooskonfyt
15 ml bruinsuiker

METODE
1. Stel die oond op 200 °C. Plaas die varkpens op ’n groot snyplank en geur goed met sout en peper.
2. Berei die appelkoosvulsel voor. Gebruik ’n groot bak en meng al die bestanddele, geur met sout en peper en meng goed. Smeer 8 klein broodpannetjies of klein ramekims met gesmelte botter vir individuele vulsels, of een medium broodpan. Maak elke pan vol met die vulsel en bak 20-25 minute tot deurgaar. Skep die vulsel al in die middel van die vleis, rol redelik styf op en maak vas met slagterstou. Maak die appelkoosglaseersel deur al die bestanddele te meng in ’n vuurvaste bak. Mikrogolf vir 1 minuut of tot die konfyt sag is. Roer goed. Plaas varkpens op ʼn bakplaat en smeer van die appelkoosglaseersel oor die varkvel.
3. Bak 15 minute, verlaag dan die oondtemperatuur tot 180 °C en bedek met foelie. Rooster vir nog ’n uur, en skep elke 20 minute glaseersel oor die vleis.
4. Haal na ’n uur uit die oond, laat staan om effens af te koel en trek die vel versigtig van die vleis af. Maak kepe kruis en dwars in ’n diamantpatroon in die vet.
5. Steek ’n naeltjie in elke diamant en smeer weer glaseersel oor. Plaas onder die rooster vir 5-10 minute tot effens gekaramelliseer.
6. Sit voor met rooikool, geroosterde aartappels en appelkoosvulsel.

Deur Leila Saffarian. Bygestaan deur Nomvuselelo Mncube. Foto’s: Roelene Prinsloo