Kan dié huwelik gered word?

0
728

Anet was smoorverlief op haar man. Sy wou nie op die rak te bly sit nie, maar dit was ’n fout om te gou te trou.

Anet* se storie

Ek was 28 toe ons ontmoet het en ons was dadelik dolverlief! Daar was ’n fisiese aantrekkingskrag tussen ons. Ons kon van die begin af egter glad nie kommunikeer nie. Tog was ons lief vir mekaar, al het ons oor feitlik alles verskil. Ek was bang niemand anders stel weer in my belang nie en ek het halsoorkop met hom getrou.

Dit was nie lank nie, toe is die eerste probleem daar. My man het sport bo alles gestel en nie sy pligte nagekom nie. Toe die kinders gebore is, het hy gehelp waar hy kon, maar as dit tyd was om sy sport te beoefen, moes alles wag. Dit het veroorsaak dat ons by mekaar verby begin leef het en by mekaar se lewens afwesig was.

Hy het ook na ure ’n bemarkingsbesigheid bedryf, wat beteken het dat hy omtrent elke aand uit was. Ek het ’n goeie werk, my eie motor en my eie huis gehad. Nadat hy ’n verplasing aanvaar het, moes ek bedank. Die besigheid het gevou, ons het bankrot gespeel en so het ek ook alles verloor. Ons het baie baklei, maar ek het by hom gestaan en hom nooit verwyt nie.

Toe ek voorstel dat ons vir ’n maand of twee uitmekaar moet gaan om onsself weer op te bou, het hy gesê ons moet sommer skei. Die skok en die realiteit dat ek nou alleen was met twee klein kindertjies, was oorweldigend.

Ek was sonder ’n bed, ’n motor, ’n huis en ’n goeie werk. My pa, ’n pensioenaris, het my en my kinders dadelik begin help en onderhou sover hy kon. My eksman het darem onderhoud betaal. Ons het met ’n bakkie rondgery en het vir ’n jaar lank byvoorbeeld nie ’n TV gehad nie. Ek het op ’n enkelbedjie geslaap en al my oorgroot klere kleiner gemaak en tweedehandse klere by mense gebedel vir die kinders.

Ons het nog baie om te vermag en bymekaar te maak en hope skuld, maar die Here is baie goed vir ons. Elke dag het genoeg seëninge en ons het nog nooit honger gaan slaap nie.

Dit weet ek nou

Soms maak ons foute en neem besluite omdat ons dink ons weet die beste. Selfs al het ons die verkeerde keuse gemaak, kan dit steeds in iets moois omskep word.

Ek was oukei sonder ’n man en moes net rustig gewag het vir ’n sielsgenoot. My fisiese behoeftes het my egter verkeerd laat kies en ek moes noodgedwonge met my besluit saamleef.

’n Mens moenie trou as jy nie absoluut seker is van julle pad saam vorentoe nie. Dis belangrik om die Gees te vertrou en te luister na daardie waarskuwings wat in jou gedagtes opkom.

Ek probeer om nie ongeduldig te raak en dadelik my sin te wil kry nie. As ek my lewe kon oorhê, sou ek alles anders gedoen het!

Dít wil ek vir vroue sê

Sorg dat jy met jou beste vriend trou en moenie dat hy net met jou trou vir jou uiterlike nie. As hy jou nie voor die tyd bederf nie, sal hy dit ook nie doen as julle eers getroud is nie. Moenie met die eerste man trou op wie jy verlief raak nie!

*Skuilnaam