Kan ek hom liefhê en myself bly?

0
13
balans.jpg

Skeep jy jou man af of jou vriendinne? Leer om balans te skep.

Skeep jy jou man af of jou vriendinne? Leer om balans te skep.

Voor ons huwelik was ek ’n ywerige sportvrou met ’n groot vriendekring. Ek glo ’n mens moet hard werk aan jou huwelik en uiteraard behels dit soms opofferings. Omdat ons albei werk en min tyd saam het, het ek baie van my na-uurse bedrywighede en vriende prysgegee sodat ek en my man meer tyd saam kon deurbring. Onlangs het dit vir my begin voel daar is niks meer van myself oor nie – dis asof ek myself in die proses verloor het.

Hierdie dilemma het twee dimensies sê Pauli Geldenhuys. Jy as individu wat jou menswees wil vorm versus julle verhouding wat jy wil laat groei en floreer. Die eerste reaksie is dat hierdie twee dimensies in konflik tot mekaar sal funksioneer. Dit word ’n kwessie van óf jou huwelik, óf jouself in stede van jou huwelik én jouself.

In geleerde terme praat ons van intra-persoonlike versus interpersoonlike verhoudingsgroei. Jy is innerlik ’n komplekse samevoeging van verskillende dele. Jy het ’n deel wat lief is vir aktief wees en goed is daarmee, en jy het ’n deel wat sosiaal uitreik na ander. Jy het ’n deel wat opofferings maak vir jou verhouding en ’n deel wat ambisieus is en vordering wil maak in jou beroepslewe.

Wat gebeur nou op jou intra-persoonlike vlak wanneer jy ’n interpersoonlike verbintenis maak deur te trou? Dieselfde wat gebeur wanneer jy ’n belangrike keuse moet maak tussen twee baie spesiale vriende. Dit veroorsaak interne konflik wat baie gevaarlik is vir jou interpersoonlike verhouding met jou man.

Hoe kan jy jou individualiteit in ’n verhouding behou?

1.   Wees altyd net so ingestel op jou behoeftes in die verhouding soos jy is op manlief s’n. Mans is nou eenmaal nie so sensitief vir ander se emosionele en fisieke behoeftes soos vrouens nie. Dit impliseer dat jy mooi na jouself moet kyk. Ons vrouens skeep onsself in die opsig baie af, veral wanneer kinders en werk ook nog saam met ’n huwelik in die prentjie kom. Kry balans!

2.   Vra vir wat jy nodig het in die verhouding. En as jy self nie seker is nie, spekuleer saam met manlief. Dit mag dalk net ’n groot romantiese avontuur wees. Beskou dit as ’n leerproses in persoonlike groei vir albei. Vra dat hy jou eenkeer ’n maand verras met ’n romantiese ete. Hoe moet hy weet hoe belangrik dit vir jou is as jy hom nie sê nie? So kan hy ook vrymoedigheid
in die verhouding begin neem om sý behoeftes te identifiseer en uit te
spreek.

3.   Betrek jou wederhelfte in ten minste drie aspekte van jou lewe waaraan hy nie voorheen deel of belang gehad het nie. Beskou dit as ’n geleentheid vir hom om sy menswees te verbreed. Dit beteken dan natuurlik dat jy ook by drie aspekte van sy lewe betrokke raak.

4.   Behou daardie tikkie misterie deur steeds jou eie belange na te streef, en nuwe dinge op jou eie of saam met vriendinne te probeer. Jy kan byvoorbeeld weer saam met twee of drie vriendinne begin tennis speel (wanneer manlief golf speel).

5.   Skep vir jouself van tyd tot tyd uitdagings met iets wat jy nie gedink het jy ooit sal doen nie. Dit hoef nie ekstreem te wees nie. Koop ’n kamera en begin foto’s neem. Later kan jy dalk ’n fotografie kursus doen.

3 Groot gevaartekens

Soms word dinge sover gedryf dat terapie nodig is. As jy die volgende tekens ervaar, is dit tyd om hulp te soek:

1.   Depressie binne die individu en die verhouding. ’n Dooie hopelose verhouding in terme van kommunikasie, emosionele en fisieke passie, mededeelsaamheid, hoop, ideale en toekomsgerigtheid bestaan en nie een van julle weet hoe julle daar geëindig het nie.

2.   Frustrasie in die vorm van passief-aggressiewe simptome soos dat jy uitbarstings kry omdat die emosies opgehoop het tot op ’n punt waar dit net oorstroom. Dis later beter om tyd apart te spandeer as saam om konflik te vermy, want dit voel soos selfverloëning.

3.   Wantroue – Die huwelik vorm dikwels ’n substansiële deel van ’n volwasse vrou se identiteit. Wanneer sy sê dat sy haarself verloor, kan dit beteken dat die verhouding waarskynlik ook reeds in ’n woestynland verkeer en dat sy haar vertroue daarin en in haarself begin verloor.

My goue reël vir vroue is altyd: Wanneer jy na jouself kyk is almal rondom jou gelukkig! Koester die veelsydige aspekte van jouself.

Impulsief versus Tydsaam

Ons het Danie en sy vrou Daleen gevra hoe belangrik dit is om jou eie identiteit in die huwelik te behou.

Daleen sê: “Ek dink dis baie belangrik, want as jy jouself verloor, maak jy op jou lewensmaat staat om jou gelukkig te maak, wat beteken jy kan aan hom verwagtinge stel wat hy nie kan vervul nie.
Danie sê: “Elke mens het karaktereienskappe wat eie en uniek is aan hom soos die Here dit vir mens gegee het, maar in ’n huwelik moet jy jou lewe neerlê en dit beteken ’n mens gee baie van jou identiteit ook prys. In ons huwelik moes Daleen haar werk prysgee. Sy was ’n baie goeie verslaggewer, maar sy moes op ’n stadium besef ons het ’n roeping van die Here. Die eienskap aan Daleen wat ek die meeste bewonder is haar verantwoordelikheidsin teenoor die familie.