Kan ek regtig toe-oë glo?

335
glo

Geloof is abstrak en onsigbaar, maar ons wil dikwels eers die konkrete “bewyse” sien. Tog kan jy seker wees wanneer jy sensitief is vir Sy stem.

Hoe het die bekende geloofshelde van die Bybel gebid, gedink, gedroom en gedoen? Henog is seker die beste voorbeeld. Hy het geluister en gedoen wat God vra.

Omdat Henog geglo het, is hy weggeneem sonder dat hy gesterf het, en hy was nêrens te vind nie, omdat God hom weggeneem het (Hebreërs 11:5).

Hebreërs 11 verduidelik mooi wat geloof nou eintlik is: Dit is om seker te wees van die dinge wat ons hoop en om oortuig te wees van die dinge wat ons nie kan sien nie. As ’n mens nie daardie vertroue het nie, is dit onmoontlik om te doen wat Hy wil hê jy moet doen.

Voel jy op die oomblik onseker? Moenie doekies omdraai nie – wees eerlik, erken dit en vra vir ’n sterker geloof.

As klein dogtertjie sou jy toe-oë in die donker jou pa se hand vashou en weet hy sou jou oor die slote en gate van die werf lei.

Dit beteken dat jy ook in die hemelse Vader se arms kan neersink en vertrou dis veilig. Wanneer iemand Sy wil doen, is daar vrede en blydskap in jou hart.

Ons kry ’n spesiale boodskap: Ek het jou lief. Jy is spesiaal vir My. Ek vergewe jou. Hier is ’n uitnodiging om saam met My te stap.

Omdat Noag geglo het, was hy gehoorsaam en het hy begin om die ark te bou toe daar nog geen teken van ’n vloed was nie.

Sy geloof was ’n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom (Hebreërs 11:7).

Soos Noag moet jy glo met gedagtes, hart en emosies.

Vra maar: “Here, waar is U? Wie is U? Praat met my, asseblief!” Antwoorde sal kom deur die Bybel, maar ook deur die natuur en mense se woorde, en deur ’n subtiele gewaarwording.

Noag moes teen sy gesonde oordeel in ’n skip bou op droë grond, ver van die see. Almal het hom uitgelag en gedink hy is van lotjie getik. Tog, hy het die waarskuwing ter harte geneem dat die wêreld gaan vergaan. Met “eerbiedige vrees” het hy die ark klaargemaak.

Miskien wil die Here jou in die sendingveld hê, of dat jy op ’n ander manier vir Hom moet werk. Maar jy deins terug, want dit lyk net nie prakties moontlik nie.

Ons moet vra vir ontsag vir die Woord, ’n heilige liefde sodat ons ook so gehoorsaam sal wees aan ons roeping.

Ragab was ’n prostituut met ’n huis bo-op die muur van Jerigo. Met die rooi tou aan die venster waardeur sy die spioene laat neersak het, het sy hulle lewens gespaar.

Omdat Ragab, die prostituut, geglo het, het sy die verkenners vriendelik ontvang en het sy nie omgekom saam met dié wat aan God ongehoorsaam was nie (Hebreërs 11:31).

Toe die mure van Jerigo geval het, het net Ragab se huis bly staan. Dit was God se “dankie” aan haar.

Sy is later met een van die senior manne in Israel getroud. Hulle het hierdie heiden, ’n slegte vrou uit ’n vreemde volk, ingelyf in die volk van Israel.

Is jy in jou eie oë ’n slegte mens? Dalk ’n alkoholis, dobbelverslaafde of iemand wat met ’n masker leef?

Jesus sien kans vir elkeen van ons, net soos Hy vir Ragab kans gesien het. Hy het haar ’n sukses gemaak omdat sy begin glo het.

Dalk het jy ’n kind oor wie jy vandag besorg voel. Hy sien ook kans vir jou kind wat aan dwelms verslaaf is of wat aan depressie ly.

Onthou, Hy is die God van families – van Abraham, Isak en Jakob. Hy het jou en jou mense lief en wil saam na daardie verlore kind gaan soek.