Kan foute my help om geestelik te groei?

269

Dit word van kleins af  ingedril: Werk hard, dan vaar jy goed. Met deursettingsvermoë, eie wil en tydsberekening kan jy dus enigiets bereik, of hoe?

As ons al die dinge saamvoeg wat in die oë van die wêreld noodsaaklik is vir sukses, los ons dikwels die belangrikste een uit. Dit is om van God afhanklik te wees.

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28).

’n Mens sal wel daardie beginsels van sukses in die sakewêreld kan saamflans en in ’n mate sukses bereik.

Maar volg nou dieselfde beginsels in die Christelike lewe. Skielik besef jy, wag so ’n bietjie, hierdie ding werk glad nie hier nie.

Ons leef in ’n wêreld wat op die mens fokus. Die mens kan mos in sy eie behoeftes voorsien. Hy kan dinge self laat werk.

Een van die tekens van volwassenheid is dat ’n kind al hoe minder afhanklik van haar ouers raak. In jou geloofslewe werk dit andersom. Die teken van volwassenheid is juis ’n groter afhanklikheid van jou hemelse Pa.

Wat nou? Die wêreld sê as iemand bo wil uitkom, moet sy ambisie hê en meer en meer dinge doen. In jou geestelike lewe wil jy ook alles self regkry en jou eie plannetjies maak.

Dis tyd dat ons ’n grondbeginsel leer waarteen die wêreld gekant is en wat hulle tot elke prys vermy.

Mislukkings word dikwels juis vir hierdie rede toegelaat. Dit kos soms vernedering, verleentheid en pyn om jou te bring tot by die begin van jou beste dae op aarde.

Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word … (Galasiërs 5:16).

Saulus van Tarsus was baie trots op sy herkoms, agtergrond en prestasies. Hierdie man was op pad om meer Christene uit hulle huise te sleep en in die tronk te stop.

God het hom egter tot stilstand geruk en sy trots vernietig. Daar lê hy in die sand en praat met iemand. Sy soldate staan langs hom en wonder wat op aarde het nou gebeur.

Hoe meer suksesvol en doelgerig ’n persoon is wanneer hy of sy gered word, hoe vuriger stap hy ook sy nuwe geloofspad.

Hy neem dieselfde beginsels en begin dit toepas in sy geloofslewe. In hierdie situasie wil die persoon verbeter op dit wat Hy so pas nuut geskep het.

Maar nêrens in die Bybel staan daar dat ek myself moet verbeter nie. God stel nie belang in selfverbetering nie, maar in die doodgaan van die eie ek. Dat jou eie drome op die agtergrond moet wees.

Hy bring al jou eie pogings tot ’n ronde nul.

En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus (Filippense 4:19).

In ’n wêreld wat sukses en voorspoed nastreef en bewonder, het mislukking ’n vloekwoord geword. Tog is nie een van ons vrygestel van die pyn daarvan nie.

Terugslae kan ons eintlik lei tot groter geestelike groei. Wie het nog nie gehoor van iemand wie se rampspoedige mislukking die begin was van groot sukses in sy of haar lewe nie?

Van die florerendste sakeondernemings het juis ontstaan uit vorige mislukkings. Uit flaters en hartseer binne die huwelik het al van die mooiste en gelukkigste gesinne ontstaan.

Daardie ding waarteen jy so hard baklei en probeer weerstaan, is dalk juis iets wat tot jou eie voordeel gebruik kan word. Dit kan oorwinning en groei in jou geestelike lewe bring.