Kan goeie dade jou hel toe stuur?

0
160
afgod.jpg

’n Afgod is iets “sleg” wat jou geloof kan kelder, maar dit kan selfs goeie en heilige dinge wees.

’n Afgod kan enigiets wees waaraan jy jou tyd en aandag sal gee, maak nie saak wat gebeur nie. Dit is mos goed en reg om iets met soveel toewyding en passie te doen. Of is dit?

Let op na jou bedoelings en woordgebruik oor sekere goed in jou lewe. “Klou” jy verbete aan iets? Voel jy angstig en gespanne daaroor? Dan het dit jou Eerste Prioriteit afgeskuif na die tweede plek.

Om God met toewyding te dien bring harmonie, ’n gevoel van rustigheid, al is jou program ook hóé vol. Die meeste gelowiges is daarom bereid om werk te maak van slegte gewoontes wat hulle fokus versteur. Ou bekendes soos pornografie en ooreet kan ’n mens raaksien en jy weet dit moet reggestel word. Dis die oënskynlik lofwaardige dinge wat moeiliker is om te identifiseer en reg te maak.

Kan jy regtig jou hele lewe oorgee?

Om te glo is om die totale beheer van jou lewe oor te gee. Vir die meeste van ons is dit ’n vreesaanjaende gedagte. ’n Mens wil baie eerder self in beheer wees of jou lewe net op sekere voorwaardes aan God toevertrou. Selfs al wil jy regtig ’n lewe van oorgawe leef, skuil daar steeds verset in jou. Dis waarom selfondersoek nodig is.

Sê nou maar jy behartig die skryfwerk vir jou gemeente se maandelikse nuusbrief. Hierdie werk is jou roeping, glo jy, maar dit veroorsaak spanning in jou huis omdat jy so baie tyd daaraan moet bestee. Sal jy bereid wees om die skryfwerk te los ter wille van jou gesin as hierdie gedagte in jou hart kom lê?

Soms klou gelowiges verbete vas aan dinge omdat hulle glo dit is as spesiale seëninge of as roeping vir hulle gegee. Sodra ’n gawe belangriker word as die Een wat dit gegee het, kan jy weet daar is nog ’n stukkie van jou lewe wat jy moet oorgee.

Die manier waarop jy jou godsdiens beoefen, kan jou program so vol maak dat jy nie tyd het vir jou persoonlike verhouding met God nie. Al voel dit verkeerd om hierdie aktiwiteite te beëindig, sal ’n gevoel van vrede volg op jou hernieude besluit om alles oor te gee.

“As iemand My wil volg, moet hy sy hele lewe vir my gee. Om My te volg is nie maklik nie…As jy net vir jouself wil lewe, sal jy vir altyd dood wees. Maar as jy alles wat jy het vir My gee, sal jy vir altyd lewe” (Mark. 8:34-35, Die Bybel@kinders).

Is jy so gehoorsaam soos jy dink?

Natuurlik is jy bereid om dinge vir jou geloof te doen. Natuurlik maak jy keuses volgens die opdragte in die Bybel. Terwyl ons nog nie volmaak is nie (dit wag vir ons in die hemel), is ons gehoorsaamheid egter nie 100 persent nie. Dis ’n goeie gewoonte om gereeld te kontroleer of jy regtig luister en volg soos jy moet.

Gelowiges hoef nie elke geleentheid aan te gryp wat hom voordoen nie. Kies met omsigtigheid waar jy jou tyd en energie gaan bestee. Jou persoonlike beperkings sal jou in ’n rigting stuur, maar maak seker jou ego of vrese bepaal nie die besluit nie. Dit gebeur maklik dat gehoorsaamheid voorwaardelik is. “Gebruik my, Here, net nie dáár nie. Ek verkies om liewer hier waar ek gemaklik voel, diensbaar te wees.” So dikwels vertrou ons die Bybel net as die opdragte daarin tot ons direkte voordeel is of maklik in ons omgewing inpas.

Lees ook: Seer en swaarkry – God se straf?

[pagebreak] En dis die goed verskuilde afgod wat ons gehoorsaamheid skeeftrek: Hoe voordelig of verrykend of gerieflik gaan dit vir my wees? Dis deesdae normaal om jouself en jou eie voordeel eerste te stel. Die wêreld draai om die individu en sy of haar behoeftes. Ons maak ons kinders groot om geluk en sukses na te jaag. Dit voel so reg, so verantwoordelik.

Geloof werk anders. Hier kom God se eer eerste en my eie tweede of selfs tiende. Gehoorsaamheid sal altyd goed vir jou wees, maar dit kan verandering bring, selfs verandering wat seermaak.

“Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ’n goddelose tyd. Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.” (Ef. 5:16 17)

Kan jy gelukkig wees in tye van swaarkry?

Volledige oorgawe en gehoorsaamheid is uitdagend genoeg vir enige gelowige. Moet jy nou ook nog jou swaarkry met vreugde aanvaar? Ja, al maak dit geensins vir jou sin nie.

Dis ’n skelm afgod: wanneer ons dink dat net goeie dinge met goeie mense moet gebeur. Ons kla sonder ophou as dinge skeefloop. Die omstandighede word in detail bestudeer en ons verwag alles moet reggemaak word, sodat dinge vir ons beter, lekkerder, veiliger, gesonder en mooier kan wees. Pyn beteken mos net een ding: Alle liefde en genade is van ons weggeneem. Dat Jesus gely het, is iets abstraks waarvoor ons dankie sê, maar ons vergeet dat ons as sy volgelinge soms saam met Hom moet ly.

As alles van jou weggeneem word, sal jou geloof voldoende wees om jou gelukkig te maak? Tydelike, aardse dinge is dikwels belangriker vir jou as wat jy dink. Dis eers as jy iets verloor, soos jou gesondheid of jou werk, dat jy agterkom dat jou geluk eintlik daarvan afhang.

Dit sny diep om eerlik te sê dat jou geloof jou enigste troos in lewe en dood is. Dit voel roekeloos om minder bekommerd te wees oor jou pensioen en mediese fonds. Die balans lê in die waarde wat jy aan elke element in jou lewe gee.

Jou vertroue op God sluit byvoorbeeld nie diefwering en ’n alarmstelsel uit nie. Dis die vertrekpunt wat verskil. Jy neem besluite oor jou beveiliging óf uit vrees óf omdat jy weet dat jy ewig beskerm word en gelei sal word om die regte hulpmiddels te kies.

“Want wanneer ek swak is, is ek juis sterk. My eie swakheid leer my om heeltemal op Christus se groot krag staat te maak.” (2 Kor. 12:12, Die Boodskap)

Idols can be immensely deceptive deur Kristen Leigh Evensen, vertaal en verwerk deur Hanneke van Coller.

Lees meer: Maak vrees jou flouer of sterker?