Kan jou kind kophou in noodsituasies?

0
54
kinders.jpg

Dit is skrikwekkend dat jou kind die bose wêreld moet trotseer, maar leer haar reg en voorkom so krisisse.

Lekker dinge kan verkeerd loop

Koos van der Merwe, Prophet-sanger en predikant en sy vrou Barbara het twee kinders. “Saans met die kinders se stiltetyd dra ons baie van hierdie lewenslesse oor en wys voorbeelde uit die Bybel hoe dinge wat dalk nou lekker lyk, later kan verkeerdloop,” vertel Koos.

Vreemdelinge: “Ons leer Claudi al van so drie af dat sy nie alle grootmense moet vertrou nie. Sy mag nooit saam met vreemdelinge in motors klim of hoegenaamd alleen met hulle wees nie. Nie eers by die kerk nie. Sy moet ook baie hard skreeu as sy ongemaklik voel oor iets wat ’n grootmens doen of sê,” vertel Koos.

Uitslaap: Die kinders mag net by ’n handvol mense, meestal familie soos ooms, tannies, oupas en oumas, gaan slaap, en dan by so twee of drie maats wie se ouers hulle ken.

Uitgaan: Ivan is ouer en mag al saam met maats uitgaan. Maar is steeds te jonk om saans uit te gaan, veral na plekke soos winkelsentrums.

Noodnommers: Beide kinders het selfone waarop hulle ouers en naaste familielede en selfs hulle maatjies se ouers geprogrammeer is. Hulle los nie hulle kinders alleen tuis nie behalwe in ’n noodgeval. Dan bel hulle elke paar minute. Die kinders weet hoe om die alarmstelsel se paniekknoppie te gebruik en mag vir niemand die deur oopmaak nie!

Lewenslesse vir oorlewing

Weet jóú kinders wat om in ’n noodsituasie te doen of sal hulle soos soutpilare versteen? Indien jy nie met sekerheid “ja” kan antwoord nie moet jy beslis die volgende wenke so gou as moontlik deel van hulle raamwerk maak!

Alleen by die huis

1.   Moenie kinders jonger as tien alleen by die huis los nie.
2.   Moet nooit jou kinders in die huis toesluit nie want ’n brand kan uitbreek. Hulle moet ’n sleutel binne hê sodat hulle kan uitkom indien nodig.
3.   Maak seker dat alle kinders, ook kleintjies, noodnommers uit hul koppe ken. Plak dit ook by die telefoon op en leer hulle wat om te sê as hulle ’n noodoproep maak.
4.   Bespreek ’n basiese plan vir noodgevalle.
5.   Almal, ook die huishulp, moet weet waar die hoofskakelaar en die stopkraan is en ook hoe en wanneer om dit te gebruik.
6.   Installeer ’n brandblusser en maak seker dat almal weet hoe om dit te gebruik.
7.   Hulle moet weet watter ander verantwoordelike persoon hulle kan bel as hulle jou of jou man nie in die hande kan kry nie.
8.   Leer hulle om alle deure gesluit te hou en vir niemand oop te maak nie.
9.   Sorg dat jou huis veiligheidsdeure en diefwering het.
10. Sluit jou vuurwapen in ’n kluis toe.
11. Alle gifstowwe en ontvlambare middels behoort toegesluit te wees.
12. Leer jou kind om NOOIT alleen in ’n huis in te gaan as dit lyk of daar ingebreek is nie, maar om dadelik hulp te soek.

Weg van die huis

As jou kind by ’n partytjie of iemand se huis onveilig of ongemaklik voel:

13. Móét sy kan huistoe bel. ’n Selfoon, foonkaart of kleingeld vir ’n foon is noodsaaklik.
14. Leer jou klein dogtertjie (en seuntjie!) om DADELIK huis toe te bel, ook wat doen jy in die middel van die nag, as ’n maatjie se pa of broer vatterig raak.
15. Jou dogter moet weet dat groot groepe mense nie noodwendig haar veiligheid waarborg nie. Sy kan verkrag word reg langs ’n vertrek met 100 mense sonder dat iemand iets gaan agterkom.
16. Leer jou dogter om nooit oop of ongeseëlde drankies (of koeldrank!) van vreemdelinge te aanvaar nie. Sy moet dit self koop en self oopmaak.
17. Sy moet ook nie haar koeldrank laat rondstaan nie.
18. Leer haar om haar instink te vertrou.
19. Sorg dat jou dogter se handsak altyd ’n selfoon en pepersproei in het. Sy moet haarself dan in die badkamer toesluit en dadelik bel of skreeu vir hulp.
20. ’n Studie van verkragtingsgevalle het gewys dat vroue wat terugveg, hul kanse om nie verkrag te word nie, verdubbel. Dus, leer jou dogter om terug te veg en HARD te skree.
21. Jou kinders moet voel dat hulle ook kan huis toe bel as hul te veel gedrink het. Julle verhouding sal ’n babbelas oorleef, maar nie ’n begrafnis nie!

Onbepland gestrand

22. Saamrygeleenthede met vreemdelinge is uit! Jou kinders moet jou dadelik bel en in helder verligte areas tussen ander mense wag.
23. As hulle wel begin huis toe stap, moet hulle in ’n groep bly en die roete gebruik wat jy sou ry.

Maak jou kind paraat en vermy so ellende en krisisse.