Kan jou kind kophou in ’n krisis?

1237
noodsituasie

Dis heeltemal natuurlik dat jy jou kinders in ’n glaskas sou wou sit om hulle teen die lewe te beskerm. Tog móét hulle vir noodsituasies voorberei word.

Weet die kroos wat om in ’n krisis te doen of sal hulle soos soutpilare bly staan? Dis jou plig om hulle te help om hulleself te beveilig in moeilike en moontlik gevaarlike omstandighede.

Wanneer hulle alleen by die huis is

Moenie kinders jonger as tien alleen by die huis los nie. Ouer kinders moet weet wie hulle kan bel as hulle nie vir Pa of Ma in die hande kan kry nie. Maak seker dat almal, ook die kleintjies, die noodnommers uit hulle koppe ken. Plak dit by die telefoon op en leer hulle wat om te sê as hulle ’n noodoproep maak.

Tien sekondes is al wat ’n skelm nodig het om in te glip. Waarsku hulle om altyd al die deure gesluit te hou en vir niemand oop te maak nie. Dis natuurlik vanselfsprekend dat julle huis veiligheidshekke, diefwering en dalk ook veiligheidskameras sal hê.

Moet egter nooit jou kinders in die huis toesluit nie – wat as daar ’n brand in die huis uitbreek? Hulle moet ’n sleutel hê sodat hulle kan uitkom indien nodig.

Baie kinders kom na skool alleen by die huis terwyl die ouers nog werk. Moenie vir mekaar briefies teen die voordeur los nie. Só adverteer jy dat hulle alleen gaan wees. Stuur eerder ’n WhatsApp of kry ’n ander manier om boodskappe te los.

Leer hulle om nooit in ’n huis in te gaan as dit lyk of daar ingebreek is nie, maar om dadelik hulp te soek.

Wanneer hulle weg van die huis af is

Kinders móét huis toe kan bel, daarom is ’n selfoon noodsaaklik. Leer jou klein dogtertjie (en seuntjie!) om dadelik te bel, ook in die middel van die nag, as ’n maatjie se familielid vatterig raak.

Jou dogter moet weet dat groot groepe mense nie noodwendig haar veiligheid waarborg nie. Sy moet natuurlik nooit oop of ongeseëlde drankies van enigiemand aanvaar nie en om nooit haar glas êrens te laat staan waar iemand dit ongesiens kan dokter nie. Leer haar om haar instink te vertrou en nie te hoop die partytjie sal beter word of die ou gawer nie. Allermins, almal gaan waarskynlik net dronker word.

Volgens kenners sal die meeste mans wat hulleself seksueel op ’n vrou afdwing, haar toelaat om met haar handsak badkamer toe te gaan omdat hulle aanvaar sy wil gaan regmaak vir seks. ’n Meisie moet dus altyd ’n selfoon en pepersproei in haar handsak hê, en sy moet haarself in die badkamer toesluit en dadelik bel of skreeu vir hulp.

Tieners moet weet dat hulle ook kan huis toe bel as hulle te veel gedrink het. Julle verhouding sal ’n babelaas oorleef, maar nie ’n begrafnis nie!

Nie eers jou tiener behoort ’n saamrygeleentheid te aanvaar van mense wat hulle nie goed of glad nie ken nie, soos ’n pel se pel. Hulle moet jou dadelik bel en in helder verligte gebiede tussen ander mense wag. As hulle wel begin huis toe stap, moet hulle in ’n groep bly en die roete gebruik wat jy sou ry, ingeval jy na hulle moet gaan soek.

Wat om te doen as daar ’n ongeluk is

’n Ongeluk kan enige tyd gebeur, by die huis of weg van die huis. Jou kinders kan dalk koelkop bly as ’n maatjie seerkry en dit kan sy of haar lewe red. As jy hulle kan leer om nie histeries te raak nie, het jy al baie vermag.

Een manier om dit reg te kry is om hulle met kennis te bemagtig. Bespreek ’n basiese plan vir noodgevalle. Hulle moet weet wat om eerste te doen en waarheen om te gaan asook wie om te bel.

’n Basiese kursus in noodhulp en een in selfverdediging vir die hele gesin is ’n uitstekende belegging. ’n Brandblusser is ook ’n moet en almal moet weet hoe om dit te gebruik.

Oefen sommer af en toe die “noodplan” op ’n ontspanne manier, dan sal hulle van kleins af gemaklik voel daarmee.