Kan jy jou huwelik beter lag?

1390

Glanspaartjie NATASHA en WILLIE JOUBERT weet na 18 jaar van getroude lewe dat humor ’n onontbeerlike bestanddeel van ’n gelukkige huwelik is.

Die bekende huwelikseminaar Laugh your way to a better marriage deur Mark Gungor het wêreldwyd opslae gemaak en talle huwelike gered. Op ’n skreeusnaakse manier leer Gungor ons hoe man en vrou verskil en hoe ons soms dinge net heeltemal verkeerd benader of te ernstig opneem. Vir Natasha en Willie kom die lag en humor al baie makliker as voorheen. “Ek en Willie herinner mekaar gereeld daaraan om meer te lag, want ons kan soms ’n bietjie ernstig wees oor die lewe. Ons kinders help ons baie om die ligte kant van die lewe raak te sien en saam oor die klein goedjies te skaterlag.”

Die Joubert-gesin is mal daaroor om te kamp. Dit is die tyd wat hulle saam deurbring wat die meeste vreugde verskaf. “Die goedjies wat die kinders kwytraak en die wisselwerking tussen hulle is skreeusnaaks. Ons is geniet dit om buite te wees en om saam met hulle die klein dingetjies te geniet, soos om by ’n kampvuurtjie te sit of met ’n bal op die strand te speel. Ons tyd saam is baie kosbaar.”

Hulle glo dat humor ’n noodsaaklike bestanddeel van ’n gelukkige huwelik is. “Dit maak die swaar druk van die lewe makliker. Ons Suid-Afrikaners is mos bekend daarvoor dat ons ons skerp humorsin as ’n oorlewingstrategie kan inspan. Om te lag help ’n mens beslis om ’n bietjie te detox van die swaar, negatiewe dinge waarmee ons daagliks moet saamleef.”

As jy vir Natasha vra om van ’n snaakse oomblik tussen haar en Willie te vertel, begin sy sommer dadelik giggel. “Tydens ’n optrede het een van Willie se spoegdruppels, vol onder die kalklig, op die hoogtepunt van die liedjie, my op die voorkop getref. Ons was dik van die lag, maar ons moes ons mooi inhou tot aan die einde van die liedjie. Ons kon toe die insident met die gehoor deel en op die ou einde baie lekker saam lag.” En sy verseker ons dat daar nog baie sulke snaakse verhoogstories is.

Ongeveer drie jaar gelede het Willie deur diep waters gegaan met sy gesondheid. Dit het hulle weer laat besef hoe kosbaar en kort die lewe is. “Dit het ons ’n ander begrip van en sin aan die lewe gegee. Ons wil elke dag laat tel, die mooie in die lewe raaksien, gereeld lag en daar wees vir mekaar.”

Natasha glo die grootste geskenk wat jy vir jou maat kan gee, is om in jou wese gesond te wees, om gemaklik te wees met jouself. “Dit is ’n pad wat elkeen self moet stap. Jy moet jou swak punte herken en daaraan werk ter wille van jou maat. Ek kom uit ’n geskiedenis van oorsensitiwiteit en ek was baie liggeraak. Dit het tyd gevat om sover te kom om nie my goedkeuring by Willie te soek nie, maar oukei te wees met wie ek is en hoe die Here my gemaak het. Dit maak die lewe vir jou en jou maat baie makliker sonder ’n klomp issues en onsekerhede wat jy met jou saamdra. As jy vir jouself kan lag, is dit ’n bewys dat jy jouself aanvaar net soos jy is.”

Willie en Natasha se raad is dus eenvoudig: Lag baie, lag saam, lag gereeld. “Maak seker dat jy en jou maat gereeld julle lag-vitamiene inkry. Jou huwelik se gesondheid hang daarvan af.”