Kan jy jou kind se opleiding bekostig?

0
244
skoolgeld.jpg

Jy wil graag eendag vir jou kind ’n goeie kans gee in ’n mededingende beroepswêreld, want sonder gehalte-opleiding sukkel baie jongmense om werk te kry. Maar sal jy dit kan bekostig in die heersende ekonomiese klimaat?

Een jaar se skoolgeld vir drie kinders kan jou amper soveel uit die sak jaag as ’n klein motortjie. In ’n News24-artikel sê Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS), dat skole tot R31 000 per jaar skoolgeld vra. In 2008 het die skoolgeld per leerder gemiddeld R4 000 vir laerskole en R6 000 vir hoërskole bedra. Vanjaar is die gemiddeld tussen R6 000 en R7 000 vir laerskole en R8 000 en R12 000 vir hoërskole. Die bedrae vir privaat skole is uiteraard heelwat hoër.

Min ouers kan so ’n groot verhoging bekostig. Volgens FEDSAS is een van die hoofredes vir die styging die hoë elektrisiteitskoste, wat daartoe lei dat skole hulle skoolgeld moet opstoot. Volgens statistiek wat deur Liberty verskaf is, styg skoolgeld met gemiddeld 10% per jaar. Dis ’n groter styging as die meeste mense se salarisverhogings. Liberty beraam verder dat ouers oor sewe jaar gemiddeld R35 400 per jaar, of R216 000 vir al vyf jaar, vir ’n kind in ’n staatshoërskool sal moet opdok.

Daarby moet jy nog spaar vir jou kind se naskoolse opleiding, wat jou maklik R80 000 per jaar kan kos (klasgeld, verblyf, vervoer, boeke en lewenskoste ingesluit) en méér in die toekoms. Dis genoeg om enige ouer se hart benoud te laat klop. Met beplanning, uithouvermoë en wilskrag (sê nee vir daardie peperduur paar skoene!) kan jy tog genoeg bymekaarmaak vir jou kind se toekoms.

Beplan nóú vir jou kind se opleiding

Volgens ’n studie wat deur die Suider-Afrikaanse Arbeid-en-ontwikkelingsnavorsingseenheid aan die Universiteit van Kaapstad onderneem is, het Suid-Afrikaners wat universiteitsopleiding het, ’n drie keer groter kans om werk te kry as diegene daarsonder en volgens die beleggingstrateeg Magnus Heystek kan hulle ook amper R5 miljoen meer verdien.

“Dit is daarom ’n goeie belegging om jou kinders te laat studeer,” sê Magnus. “Moenie jou pensioengeld daarvoor gebruik nie, maar as jy nie die geld het nie, kyk na ander maniere soos studielenings of ’n ekstra verband op jou huis. Daar is baie moontlikhede.”

FUNDISA IS VIR PRAKTIESE SPAAR

Hoe vroeër jy vir jou kind se opleiding begin spaar, hoe beter. Huishoudings wat minder as R180 000 per jaar verdien, kan aansluit by Fundisa, ’n inisiatief wat deur die onderwysdepartement en die effektetrustbedryf begin is. Jy kan so min as R40 per maand bydra, en elke jaar kry jy ’n 25% bonus op die geld wat jy reeds gespaar het. Daar is wel voorwaardes aan verbonde, soos dat jou kind by ’n instelling moet studeer wat deur die regering erken word. Jy kan die bonusse ook net vir onderriguitgawes gebruik. Dit is bekombaar deur Standard Bank, Absa en Nedkorp.

[pagebreak] OPLEIDINGSPAARPLANNE
Die meeste finansiële maatskappye, soos Old Mutual, Liberty en Sanlam, het spaarplanne waardeur jy geld kan wegsit vir jou kind se opleiding. Jy is gewoonlik verplig om vir vyf tot tien jaar te spaar sodat jy nie hierdie fondse aan ander goed bestee nie. Doen jou huiswerk om in die beste opleidingspaarplan te belê wat jy kan bekostig.

EFFEKTETRUSTS

Hierdie manier van spaar is buigsamer, en jy kan daarmee begin of ophou soos dit jou pas. As jy egter min selfdissipline het om te spaar, kan jy dalk jou kinders se skoolgeld uitgee nog voordat hulle ’n voet in die skool gesit het. Praat met ’n finansiële raadgewer oor die opsies wat by jou persoonlikheid pas.

Dink kreatief en belê in eiendom vir jou kind

Dis hoe Neil Vorster van Organic Wealth vir sy kinders se opleiding betaal:

My seun gaan volgende jaar skool toe en dit gaan my omtrent R16 000 ’n jaar kos. Wanneer hy hoërskool toe gaan, wil ons hom na ’n privaat skool stuur. Dit gaan ons omtrent R30 000 of meer kos.

Dis baie geld; daarom het ek met sy geboorte ’n klein meenthuis in Bryanston vir R290 000 gekoop. Ek het ’n 100%-verband daarop gekry. Al wat ek moes betaal, was die verbandregistrasie- en oordragkoste. Dit was altesaam ongeveer R15 000. Vir die eerste twee jaar moes ek die verbandpaaiement en heffings met ’n paar honderd rand per maand subsidieer. Daarna het ek egter elke maand begin wins maak deur die meenthuis te verhuur.

Wat fantasties is omtrent residensiële eiendom is dat die waarde daarvan en die huurgeld byhou by inflasie. Die meenthuis is in ’n goeie area geleë, dus verwag ek dat dit in waarde gaan toeneem wat heelwat hoër sal wees as die nasionale gemiddeld.

As ons die berekenings doen met vandag se kostes, sal my somme só lyk:

  • Ek gaan R150 000 (R30 000 x 5 jaar) nodig hê vir my seun se hoërskoolopleiding. Ek beplan om die geld te verkry deur ’n tweede verband op my huis uit te neem.
  • Ons het die meenthuis vyf jaar gelede gekoop en dis alreeds R450 000 werd, R160 000 meer as wat ek daarvoor betaal het.
  • Omdat die meenthuis in ’n goeie area is, behoort dit aan te hou toeneem in waarde.
  • Universiteitskoste sal deur ’n derde verband gedek word. ’n Mens kan dus sê jou huurders betaal eintlik vir jou kinders se opleiding. Ek het my twee ouer dogters se opleiding ook so gefinansier.

Daar is ’n paar dinge wat jy moet onthou as jy bogenoemde weg wil volg:

  • Jou eiendom moet in die regte gebied geleë wees. Areas kan in 10 tot 15 jaar verander en agteruitgaan. Jou eiendom kan dan in waarde afneem en ook moeilik wees om te verkoop. Wees bewus daarvan, en praat met ’n finansiële raadgewer met ervaring in eiendomme voordat jy blindelings in eiendom belê.
  • Moenie eiendom koop op grond van emosionele redes, byvoorbeeld “ons sal daar kan aftree nie”. Beskou dit as ’n besigheid wat jou van ’n inkomste moet voorsien.

[pagebreak]

Belê aggressief vir jou kind se toekoms

Vergeet van wollerige speelgoed en maak liewer ’n rekening oop, sê beleggingstrateeg Magnus Heystek.
Die dag as jou kind gebore word, maak dadelik vir hom of haar ’n “aggressiewe” aandelefondsrekening oop. ’n Aggressiewe fonds het gewoonlik ’n groter risiko as meer konserwatiewe fondse (jy kan geld verloor), maar jy het baie tyd om die kapitaal op te bou. Maak ook seker dat jou premies saam met inflasie met 5% tot 10% styg. Baie ouers onderskat hoeveel skoolgeld hulle uit die sak gaan jaag. Hulle vergeet ook van inflasie en teen die tyd dat hulle die geld nodig het, is daar nie genoeg geld in die rekening nie.

As my kleinkinders verjaar, sit ek ’n bedrag in hulle aandelefondsrekening eerder as om vir hulle speelgoed te koop. Dis ook my raad aan ouers: Vra vriende en familie om liewer geld in ’n rekening te betaal as om speelgoed te koop waarvan die kind reeds genoeg het.

Dis ook baie belangrik om lewensdekking uit te neem. As jy iets sou oorkom voor jou kinders universiteit toe gaan, is hulle aan hulle eie lot oorgelaat. Maak voorsiening vir hulle selfs al is jy nie meer daar nie.

Moet jou kind self vir sy opleiding betaal?

’n Onlangse studie het getoon dat kinders wat self vir hulle naskoolse studie betaal, beter vaar as kinders wie se ouers betaal. Die navorsing toon egter ook dat kinders wie se ouers vir hulle studie betaal, se kans om klaar te maak beter is as dié wat self moet betaal en dikwels nie genoeg geld het nie. Dit beteken dat kinders wat self moet betaal, dikwels hulle studie staak.

As jy nie vir jou kind se universiteitstudie kan betaal nie, is ’n studielening ’n goeie keuse. Jou kind kan self daartoe bydra: Vra hulle om die rente van die studielening te help dek met vakansie- of naweekwerk. Studielenings word ook eers terugbetaal wanneer jou kind begin werk. Dis nie die ideaal dat jou kind sy loopbaan met skuld begin nie, maar dit is ’n werkbare opsie vir ouers en kinders wat nie self geld het vir verdere studie nie.

Daar is nie ’n maklike manier om vir jou kinders se opleiding te betaal nie. As jy egter vir jou kind ’n voorsprong wil gee, is ’n naskoolse kwalifikasie ’n vereiste. Begin so vroeg as moontlik vir jou kind se toekoms beplan en spaar. Hoe vroeër jy begin, hoe groter gaan die bedrag wees wat jy bymekaar maak en hoe groter jou gemoedsrus.

DEEL
Vorige artikelNuutgemaak!
Volgende artikelWAT is gebed?
Voelgoed
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.