Kan jy terugspring as die lewe jou onderstebo klits?

Veerkragtigheid. Dis nou een van daardie mooi Afrikaanse woorde wat ongelukkig nie baie gebruik word nie.

Tog is dit een van die belangrikste vaardighede wat jy kan hê om seker te maak jy kan die daaglikse uitdagings in die lewe hanteer. Mense met veerkrag besit die vermoë om op te staan en aan te gaan maak nie saak wat met hulle in die lewe gebeur nie.

Dis die mense wat hulle glad nie aan ander mense se negatiewe aanmerkings steur nie en wat hulle nie laat definieer deur ander se opinies nie.  Die goeie nuus is dat almal hierdie besonderse vaardigheid kan ontwikkel. Soos hulle sê ‘n mens is nooit te oud om iets nuuts te leer nie, en veerkragtigheid is beslis die moeite werd om te bemeester.

Jy kan hierdie vaardigheid ontwikkel deur meer optimisties na die lewe te begin kyk. Begin by jouself, fokus op jou sterkpunte, jou goeie kwaliteite en eienskappe. Maak ‘n lys van alles waarvan jy in jouself hou. Lees dit elke dag weer.  Onthou jy mag maar van jouself hou… dis nie selfsugtig of hoogmoedig nie, dis lewensnoodsaaklik!

Maak seker jou gesindheid teenoor die lewe weerspieël ‘n boodskap van “Ek kan..” in plaas van “ek kan nie.” Fokus op dit wat kán gedoen word en verkieslik op dit wat jy nóú kan doen. Vergeet van dit wat jy nie gister kon doen nie, of wat jy nie môre meer sal kan doen nie.

Lag meer. Die lewe is die lewe. Dinge gaan gebeur of jy nou daaroor frons of glimlag. Dis beter om die lewe nie heeltemal so ernstig op te neem nie. As jy kan lag vir die kleiner frustrasies wat die lewe oor jou pad bring, sal jy die grotes met meer grasie en geduld kan hanteer.

(Volgende keer kyk ons verder na wat jy nog kan doen om veerkrag te ontwikkel.)

Vorige artikel‘n Pretrit prutpot
Volgende artikelAs jou kroon perfek onderstebo sit
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.