Kan rusie goed wees vir julle?

697

Konflik is nie noodwendig sleg nie, trouens, dit kan julle verhouding laat verdiep. Dis egter belangrik om by die reëls te hou wanneer julle verskil.

Getroudwees kan jou beste én slegste eienskappe na vore bring. As julle pas getroud is, sien jou man dalk net jou sagte, speelse kant. Maar wag tot daardie eerste groot baklei en julle sien ’n sy van mekaar wat julle nie voorheen geweet het bestaan nie.

Julle mag maar van mekaar verskil

Konflik hoef nie vermy te word nie. So nou en dan moet die humeure vlamvat om ontslae te raak van al die opgekropte emosie. Hoe gaan ’n mens verskille oplos as niemand daaroor praat nie?

Dr. Tessa van Wijk, ’n traumatoloog van Johannesburg, sê een van die dinge waarop vroue nie voorberei is nie, is die feit dat hulle maar hulle gevoelens mag uitdruk. Ons mag sê as iets nie vir ons lekker is nie of ons seermaak. Vroue is baie geneig om die pleaser in die verhouding te wees.

Maar dis goed om eers af te koel as jy te kwaad is om ’n saak te bespreek. Neem ’n uur of twee of selfs ’n dag (nooit langer nie) om jou gedagtes agtermekaar te kry. Skryf die probleem en jou gevoelens neer. Dink mooi wat jy eintlik wil sê. Maak dan ’n afspraak en bespreek dit baie kalm.

Beskou konflik eerder as ’n groeikans

Konflik is negatief wanneer ou koeie uit die sloot gegrawe word en daar onophoudelik op dieselfde punt gehamer word.

Wanneer ons die ander persoon se karakter en menswees begin aanval en afbreek, is dit destruktief. Ook wanneer ons nie eerlik is met onsself of ons maat nie. Dan baklei ons oor dinge wat nie regtig die issue is nie en kry die probleem (en ons behoeftes) nie die aandag nie.

As elkeen ’n regverdige kans kry om sy of haar kant te stel en julle werklik na mekaar luister, kan ’n argument help om mekaar dieper te leer ken.

“Vergeet die feeverhaal dat ons nooit mag baklei nie – aanvaar konflik as deel van die groeiproses en raak gemaklik daarmee. Konstruktiewe konflikhantering beteken nie vloek, skel of afbreek nie. Jy kan wel ’n manier kry waar jy steeds jou vrouwees en jou menswaardigheid kan behou, terwyl die probleem aangepak word,” is Tessa se raad.

Baklei regverdig deur by die reëls te hou

Hou jy boek van jou maat se misstappe sodat jy dit tydens ’n uitval weer teen hom kan gebruik? Klap jy deure toe of bars in trane uit om jou punt te bewys? Gebruik jy sarkasme of beledigings sodat jy die laaste woord kan inkry? Onttrek jy jou aan die gesprek wanneer jy nie jou sin kry nie?

As jy “ja” op enige van dié vrae geantwoord het, baklei jy nie regverdig nie en sê jou houding: Ek moet tot elke prys wen. Nee, dit moet eerder daaroor gaan om die probleem op te los en in vrede saam te leef.

In baie verhoudings word elke konfliksituasie later ’n magstryd as gevolg van onsekerheid en magteloosheid. Jy probeer die ander persoon beheer en verander sodat jy beter kan voel oor jouself. Werk eerder aan jou eie emosionele bagasie en onsekerhede sodat jou selfbeeld kan verbeter.

Dis noodsaaklik om in die proses van probleemoplossing ook die mens raak te sien. Wat goed werk, is om te vra: “Wat is jou grootste behoefte en hoe wil jy hê moet ek dit vervul?”

Gelukkig bestaan die lewe nie net uit konflik nie. En ons sal waarskynlik minder daarmee sukkel as ons leer om die vredestye te benut.