Kan seks en gees bedmaats wees?

0
46
liefde_met_passie.jpg

In ’n samelewing van kitskoffie, kitsbanke en kitskos, is dit ’n kuns om getroud te bly. Daar is nou eenmaal nie ’n kitsresep om die huwelik te laat werk nie. Huweliksberaders, sielkundiges, sosioloë en predikante sukkel daagliks om hierdie brose instelling staande te hou.

’n Baie groot persentasie huwelike beland binne drie jaar in die skeihof. Waarom? Omdat die vlam van liefde en passie binne die eerste drie jaar van die huwelik uitgebrand is.

Jongmense wat sukkel om hulle hormone in toom te hou, kan dit moeilik glo. Hulle droom daarvan dat as hulle eers getroud is, hulle sommer drie maal elke dag vir die res van hulle lewe seks gaan hê. Hulle kyk ’n mens ongelowig aan as jy vir hulle sê dat liggaamlike aanraking en koestering by duisende egpare binne drie jaar feitlik nie meer bestaan nie.

Hoe gebeur dit dat twee mense wat voortdurend en intens na mekaar se liggame gehunker het, hulleself so gou elkeen op sy eie eiland bevind, en mekaar nie meer emosioneel en liggaamlik bereik nie? Dat selfs die ligte aanrakinkies en drukkies en vat aan mekaar dan nie meer bestaan nie?

Seks word ’n gróót probleem

Dalk sê die vroue: “Daar is nie meer seks nie, omdat daar nie meer liefde is nie.” Dalk sê die mans die omgekeerde: “Daar is nie meer liefde nie, omdat daar nie meer seks is nie.” Eintlik is al twee reg. Liefde en seks hang ten nouste met mekaar saam. Die een kan nie sonder die ander in ’n huwelik bestaan nie. Liefde en seks vorm ’n goue sirkel.

Emosionele en liggaamlike aanraking en eenwording is die gom van ’n huwelik. Seks in ’n huwelik is soos die haarveer van ’n horlosie. Dit is ’n baie klein en fyn onderdeeltjie, tog is dit ’n essensiële deel van die horlosie. As daar iets met die haarveer skort, gaan die horlosie staan, al is die ander dele in ’n uitstekende werkende toestand. Dieselfde geld vir die huwelik.

80%-85% van die probleme in die huwelik kan na seks herlei word. Indien ’n man en vrou op hierdie gebied ’n probleem het, is die man sommer geïrriteerd selfs oor die manier hoe sy vrou haar tandeborsel vashou. Die vrou is gefrustreerd met haar man wat alewig sy hemp net op die wasgoedmandjie se deksel gooi en nie eers die mandjie kan oopmaak nie. Maar as hierdie twee mense op ’n vervullende en genotvolle wyse in mekaar se seksuele behoeftes voorsien, is dit verbasend om te sien hoe hulle terselfdertyd mekaar se tekortkominge kan oorsien.

[pagebreak]

Maar nou ontstaan die vraag: Wat maak dat man en vrou dikwels juis op seksuele gebied probleme ondervind? Dit gebeur omdat mans en vrouens om verskeie redes gedemp word en hulle dan nie altyd ten volle aan mekaar kan en wil gee nie. Een van die belangrike oorsake onder veral Christenmans en -vrouens is ’n skuldgevoel. Etlike seksuoloë vertel hoe hulle daagliks pasiënte sien wat worstel met ’n skuldgevoel oor seks. Veral Christene wat regtig ’n begeerte het om hulle aan God toe te wy, bly steeds worstel met die vraagstuk hoe ’n mens nou hierdie instinktiewe (sommige sal selfs sê “dierlike”) gedrag kan versoen met iemand wat Christus regtig liefhet en wie se lewe volkome deur die Gees van God beheer word.

Seks is onheilig

Die rede waarom Christene dikwels spanning ervaar tussen ’n Geesbeheerde lewe aan die een kant en ’n spontane en plesierige seksuele lewe aan die ander kant, waar hulle vrylik deur hulle emosies meegevoer word, lê in ons verlede. Reeds in die Nuwe-Testamentiese tye het Christene ongemaklik gevoel met die idee dat seks enigsins ’n rol te speel het in ’n Geesbeheerde lewe. In talle van die Nuwe-Testamentiese gemeentes het daar mense rondgegaan wat gesê het dat seksuele liefde geen plek het in ’n Christen se lewe nie. Baie Bybelskrywers het hulle bes probeer om hierdie dwaling te bestry, maar tevergeefs.

In 1 Timoteus 4:2-3 skryf Paulus aan Timoteus in Efese: “Hierdie dwaalleraars is skynheilige leuenaars wie se gewete toegeskroei is. Hulle verbied mense om te trou en om bepaalde soorte kos te eet.” Dit is duidelik dat die dwaalleraars met allerhande wette na die gelowiges gekom het. Een daarvan was dat God nie wil hê dat ’n mens moet trou nie – en by implikasie seksuele genot mag hê nie.

Hierdie selfde dwalinge is ook in ander stede versprei, onder andere ook in Korinte. Paulus skryf byvoorbeeld aan die gelowiges in Korinte: “Ek kom nou by die dinge waaroor julle aan my geskryf het. Dit is goed vir ’n man om sonder ’n vrou te lewe”(1 Kor. 7:1). Die sin “Dit is goed vir ’n man om sonder ’n vrou te lewe” lui eintlik so in Grieks: “Dit is goed vir ’n man om ’n vrou nie aan te raak nie.” Dit is ook hoe die OAV dit vertaal. Verder moet ons weet dat die uitdrukking “om ’n vrou aan te raak” nie letterlik vertolk moet word nie. Dit is bloot ’n eufemisme met die betekenis “om seks te hê”.

[pagebreak]

Paulus skryf hier dus soos volg: “Ek kom nou by die dinge waaroor julle aan my geskryf het. Dit is goed vir ’n man om nie met ’n vrou seks te hê nie.” Dit lyk of Paulus besluit het om ’n bietjie aandag te gee aan hierdie opmerking van die Korintiërs dat “dit goed is om nie met jou lewensmaat seks te hê nie”. Paulus dink mense wat dit sê, is hopeloos verkeerd. Daarom antwoord hy hulle in die volgende vers met die woorde: “Weens die gevare van onsedelikheid behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man.” Daarmee stel Paulus dit duidelik dat beide die man en die vrou mekaar se seksuele behoeftes moet bevredig, anders kan dit dalk veroorsaak dat hulle rondloop en buite die huwelik seksuele vervulling gaan soek.

In Kolossense 2:20-21 raas Paulus weer met die gelowiges in die stad Kolosse en vra vir hulle: “Waarom gehoorsaam julle allerhande voorskrifte soos: ‘Julle mag nie aanraak nie’?” Die woorde “julle mag nie aanraak nie” is weereens ’n eufemisme vir “om seks te hê”. Dit lyk of daar ook in hierdie stad dwaalleraars rondgeloop en vir gelowiges vertel het dat God van hulle verwag om hulle van enige seks te weerhou.

Seks is net bedoel vir voortplanting

In die periode ná die Nuwe Testament het hierdie dwalinge behoorlik momentum gekry. Die antieke teoloë het met allerhande reëls na vore gekom waarmee hulle probeer het om te voorkom dat ’n Christen seks geniet. ’n Mens kan nie help om te glimlag oor sommige van hierdie reëls nie. Een teoloog het byvoorbeeld aan sy gemeentelede gesê dat ’n Christen nooit seks mag hê op ’n Sondag nie, ook nie voor kerk nie, ook nie na kerk nie, en ook nie in die daglig nie.

Augustinus, die geestelike en intellektuele mentor van Calvyn, het dit baie uitdruklik gestel dat ’n Christen nooit seks mag hê net vir die lekkerte nie. Seks is net toegelaat vir voortplanting. Daarom, as jou vrou swanger is, mag jy nie sweer seks hê voordat die baba nie gebore is nie, omdat seks dan nie tot voortplanting kan lei nie. ’n Ander kerkvader, Klemens van Aleksandrië, gebruik dieselfde soort argument. Hy illustreer sy standpunt selfs met die voorbeeld van ’n boer wat koring saai in sy land.

[pagebreak]

Dit is tog logies dat die boer sal wag tot die koring opgekom het en hy klaar geoes het voordat hy weer saad in die land sal saai. Net so, redeneer Klemens, maak dit geen sin as ’n man en vrou seks het terwyl sy swanger is en die baba nog nie gebore is nie.

Die liggaam is ongoddelik

Waar het die eerste Christene die skewe idee vandaan gekry dat seks eintlik nie by ’n Christen pas nie? Die oorsaak moet by die filosofiese skole van die antieke wêreld gesoek word. Plato was ’n heidense filosoof van die vyfde eeu v.C. Hy het geleer dat die mens uit ’n siel en ’n liggaam bestaan. Wanneer ’n mens doodgaan, gaan jou siel na god (heidense god), maar jou liggaam bly hier op die aarde agter. Volgens Platonisme is die liggaam te sondig om in die goddelike teenwoordigheid te kom. Om daardie rede is ook die liggaamlike funksies soos seks as sondig beskou, en nie heilig genoeg vir god nie. Die Christene is sterk deur hierdie siening beïnvloed, en gou-gou het ook hulle geglo dat die lewende God net in die mens se siel belangstel. Die res van die mens is te aards en onheilig. Daarom pas seks nie by ’n Geesvervulde Christen nie.

Maar die liggaam hoort wel by God!

Die waarheid is natuurlik dat hierdie aanname geheel en al in stryd is met die boodskap wat die Bybel ons leer. In 1 Korintiërs 7:15 sê Paulus dat ons liggaam deel is van Christus. In vers 19 sê hy dat ons liggaam ’n tempel is van die Heilige Gees wat in ons woon. En in vers 13 lees ons dat God ook oor ons liggaam Here is. Anders as Plato, leer die Bybel ons dat nie slegs ons siel na God gaan nie, maar ook ons liggaam. Selfs ons verganklike liggaam gaan met die onverganklikheid beklee word (1 Kor. 15:53-54).

Ons moet dus tot die gevolgtrekking kom dat die Bybel ons leer dat ons liggaam “heilig” is, dit wil sê aan God toegewy is. Ook met ons liggaam kan ons God verheerlik. Elke gelowige kan weet dat God ook die seksuele kant van die mens geskape het, en dat Hy ons toelaat om dit te geniet. Daarom dat God so openhartig in die Bybel selfs oor seks praat.

DEEL
Vorige artikelNuutgemaak!
Volgende artikelWAT is gebed?
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.